Stellenbosch laaste kans vir Tokio 2020
Met Marcia Venter, Phia Gerber en Marian Laubscher terug in die span, behoort Namibië beter rekenskap van hulself te gee.
Tielman van Lill - Namibië se senior nasionale mans- en vrouehokkiespan vlieg onderskeidelik môre en Vrydagoggend vanaf Windhoek na Kaapstad waar hulle vanaf komende Maandag in Stellenbosch aan die 2019 Afrika-Nasiesbekerkampioenskap (Afcon) sal deelneem.
Dié toernooi wat vanjaar ook as die African Hockey Road to 2020 Tokyo bekendstaan, bied aan een land uit Afrika die geleentheid om vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer, in beide die mans- en vroue-afdelings.
Die Namibiese vroue het in Junie vanjaar ook die kans gehad om in Valencia, Spanje, vir die Spele in Japan te kwalifiseer, maar moes teen wêreldklas lande soos Belo-Rusland (22ste op die FIH se wêreldranglys), Kanada (18de), Spanje (7de) en Thailand (28ste) meeding.
Namibië, wat hom in die 42ste plek op die wêreldranglys bevind het, het in Valencia met 7-0 teen Belo-Rusland, 10-1 teen Spanje, 17-0 teen Kanada en 2-1 teen Thailand verloor.
Alles is egter nie verlore nie, want die vroue het onmeetbare ondervinding teen dié toplande opgedoen wat hulle sekerlik aanstaande week in Stellenbosch in groep B teen Ghana, Uganda en Zimbabwe sal wil uitstal. In groep A sal Suid-Afrika, Kenia (45ste FIH) en Nigerië (47ste FIH) sake uitspook.
Erwin Handura, hoofafrigter van die vroue, sê Marcia Venter, Phia Gerber en Marian Laubscher is ervare spelers wat daardie tikkie ekstra finesse en kalmte tot die span se vernuf kan bydra. Nie een van dié trio was vir die toer in Junie na Portugal beskikbaar nie.
“Venter en Gerber is gesoute spelers wat ook in 2015 aan die Afcon-kompetisie deelgeneem het. Laubscher is ewe ervare en al drie van hulle sal beslis 'n betekenisvolle hupstoot aan die span se slaankrag kan lewer. Ons is nou 'n sterker en fikser eenheid as toe ons in Spanje was.
“Ons het die afgelope ses maande in meer topvlak toetswedstryde (10) gespeel wat as wat ons ooit kon droom. Dit het ons uitstekende voorbereiding gebied en met die ervaring wat die spelers in Valencia opgedoen het, behoort ons in die semifinale te speel. As sake vir ons reg verloop, kan ons teen die gasheer in die finaal speel, want ek weet hoe om Ghana, Uganda en Zimbabwe te wen.
“Maar net een span sal vir Tokio kwalifiseer, terwyl die naaswenner ook tot die 2022 Statebondspele in Birmingham, Engeland, sal deurdring. Ek sê altyd vir die vroue dat geen span is onoorwinlik nie. Ons sit met 'n groep jong spelers wat in die toekoms uitstekende diens kan lewer. Van hulle is nog skoolgaande, terwyl ander studente is.
“Kenia is 'n beter span as Nigerië, dus behoort ons in die semifinaal teen Kenia te speel met Suid-Afrika wat die naaswenner in groep B vir 'n plek in die eindstryd gaan pak. Maar ons weet nie hoe Kenia en Nigerië se voorbereiding die afgelope tyd verloop het nie en dus is beide 'n ietwat onbekende faktor, maar ons sal sien wat hulle na ons kant toe gooi.
“Fred Copplmans van Nederland het ons in Spanje gehelp en sal my as hulpafrigter bystaan. Hy sal vir die volgende twee jaar in Namibië afrig en bring 'n nuwe aanslag na die tafel, wat goed vir die sport is.
“Ons grootste uitdaging is om geldelike tekorte te oorkom. Spelers is nie veronderstel om oor finansies te tob terwyl hulle Namibië op die veld moet verteenwoordig nie. Borge kom graag eers aan boord sodra die land klaar vir 'n groot byeenkoms soos die Tokio-spele gekwalifiseer het. Hoe kan 'n student 'n toets gaan skryf as hy nie voorberei het nie? Dieselfde geld vir sport. Ons kry geen geldelike steun van die regering nie, daarom het ons borge en geld nodig om voor te berei.
“Ons wil goed presteer en ek wil net vir die meisies sê hulle moet op die Here en hul Godgegewe talente vertrou. Ons kan vir die Spele kwalifiseer en ek sê weer, enige span kan geklop word. Ons kon tevore nie Suid-Afrika in binnenshuise hokkie klop nie, maar wat gebeur toe? Ons het hulle laas jaar gestuit om vir die 2018 Binnenshuise Wêreldbeker te kwalifiseer,” het Handura trots vertel.
Namibië se vroue is tans die nommer een land in Afrika in binnenshuise hokkie, maar in veldhokkie word hulle as die derde beste op die kontinent ná Suid-Afrika (16de FIH) en Ghana (32ste FIH) gereken.
Die Namibiese vrouespan: (truinommer) 1 Petro Stoffberg (doelwagter), 3 Jahntwa Kruger, 4 Sunelle Ludwig, 6 Joane van Rooyen, 7 Phia Gerber, 8 Jivanka Kruger, 9 Jerrica Bartlett, 10 Magreth Mengo (kaptein), 11 Celé Wessels, 12 Jocelle Deysel, 13 Emilia Kashopola, 14 Taramarie Myburgh, 17 Ina Louis, 18 Berencia Diamond (doelwagter), 19 Armin van Staden, 21 Gillian Hermanus, 23 Marian Laubscher, 27 Marcia Venter.
Die program van groepwedstryde vir die Namibiese vroue: Maandag teen Uganda (10:00); Woensdag 14 Augustus teen Ghana (14:00); Donderdag 15 Augustus teen Zimbabwe (16:00). Die Namibiese mans speel Maandag teen Ghana (14:00); Dinsdag teen Zimbabwe (16:00) en Donderdagoggend teen Egipte (10:00).
• Wees op die uitkyk vir ons onderhoud oor die komende toer met 'n nuwelingspeler in die Namibiese manspan, Ruairi Hammond, wat vanoggend op Republikein se Facebook-blad gelaai sal word.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie