Starc se vrou sê ‘dankie’ met skitterbeurt

T20-krieket
Marnus Kok - Met ’n verwoestende Alyssa Healy aan die spits het Australië se vrouekrieketspan Indië gister in die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi in Melbourne behoorlik oorrompel.

Die Aussies het met 85 lopies gewen, nadat hulle eerste gekolf en ’n yslike 184/4 in 20 boulbeurte aangeteken het. Indië kon slegs met 99 in 19.1 boulbeurte antwoord.

Healy (75, 39 balle; 7x4, 5x6) en Beth Mooney (78*, 54 b) het 115 lopies om die eerste paaltjie aangeteken en prakties vroeg reeds die wedstryd buite bereik van die Indiërs geplaas.

Met Healy se beurt, voor ’n volgepakte MCG, het sy straks op die mooiste manier moontlik vir haar man, die Australiese snelbouler Mitchell Starc, dankie gesê dat hy die wedstryd bygewoon het.

Starc het die Aussie-manspan se laaste eendagwedstryd teen Suid-Afrika Saterdag in Potchefstroom misgeloop omdat hy sy vrou in Melbourne wou bystaan.

Indië se kolwers het nooit gemaklik voor die penne gelyk nie, en het hulle boonop vasgeloop teen goeie boul- en veldwerk van die tuisspan.

Om sake vir die Indiërs te vererger, is Taniya Bhatia (2*, 4 b) in die tweede boulbeurt van die besoekers se kolfbeurt deur ’n bal teen die kopskerm getref en moes sy die veld verlaat.

Megan Schutt (4/18 in 3.1 boulbeurte) en Jess Jonassen (3/20 in vier) was die wenspan se beste boulers.

Met die sege het Australië nie net die titel wat hy in 2018 in die Wes-Indiese Eilande verower het suksesvol verdedig nie, hy het ook wraak geneem vir sy eerste wedstryd by vanjaar se toernooi.

Toe het Indië vir ’n opskudding gesorg deur die Aussies met 17 lopies te klop.

Australië het hiermee sy oorheersing van vrouekrieket voortgesit, want hy het nou reeds vyf van die sewe T20-WB-toernooie sedert die eerste in 2009 gehou is, gewen.

Healy was as Speler van die Eindstryd vereer. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer