Stank gee Klein Windhoek slapelose nagte

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die hoofstad se munisipaliteit (CoW) sê hy is bewus van die hoofrioolpyp in die rivier langs Klein Windhoek se Schäferstraat, wat vir langer as ’n jaar al kort-kort stukkend is, maar kan nie sê wanneer herstelwerk daaraan voltooi sal wees nie.

Die munisipale woordvoerder, me. Lydia Amutenya, sê rioolvertakkings uit verskeie strate in Klein Windhoek lei na dié stukkende hoofpyp en dit het waarskynlik weens ouderdom gebreek.

Intussen sê inwoners wat in Schäfer-, Veronica- en Dr. Kwame Nkrumahstraat op die grens van Ludwigsorf en Klein Windhoek woon hulle kan die stank nie meer verduur nie.

“Ons kan nie ons slaapkamervensters saans oopmaak nie. Dit stink verskriklik – dag en nag!” sê mnr. Alexander Bock.

Inwoners beweer die pyp was “nege uit verlede jaar se twaalf maande” stukkend.

Die pyp is glo in die laaste drie maande van 2019 herstel, maar het weer gebreek en riool stroom al die afgelope ses weke daar uit.

’n Ander inwoner sê hy het vertroulik van CoW verneem daar is nie geld om die rioolpyp te herstel nie.

“Die rivier self voer nou die riool af. As die gebied se mense saans en vroeg soggens tuis is, spoeg die geblokkeerde pyp die rioolwater uit. Andersins loop dit voortdurend.

“Mense wat hier woon, het duur huise en betaal meer munisipale belasting as baie ander, maar ontvang geen diens nie. Dis ’n stinkende gemors,” sê dié anonieme inwoner.

Die munisipaliteit ontken ’n tekort aan fondse en sê geld is beskikbaar om die betrokke pyp te herstel.

“’n Kontrakteur het opdrag gekry om aandag aan die probleem te skenk en herstelwerk duur voort.

“Genoeg tyd is egter nodig om dit af te handel, gegewe die grootte van die pyp. Ons is nie nou in ’n posisie om te sê wanneer herstelwerk voltooi sal wees nie, maar ons spanne werk hard daaraan om die probleem te herstel,” sê Amutenya.

Sy het verskoning gevra vir die ongerief wat die stukkende rioolpyp veroorsaak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer