Standvastig en dapper
Standvastig en dapper

Standvastig en dapper

Die vryheidsveteraan mnr. Petrus Iilonga het volgens president Hage Geingob 'n reusebydrae tot Namibië se bevryding gelewer.
Jemima Beukes
Jemima Beukes



Huldeblyke stroom in vir die vryheidsveteraan mnr. Petrus Iilonga wat Dinsdagaand op 71-jarige ouderdom gesterf het.

Iilonga was 'n voormalige vakbonds­man en politieke gevangene op ­Robbeneiland, waar hy van 1978 tot 1985 tyd deurgebring het.

President Hage Geingob het op sosiale media sy medelye oor Iilonga se dood uitgespreek.

“Kameraad Iilonga het werkers gelei om 'n reusebydrae tot die bevryding van Namibië te maak. Sy werk as 'n lid van die uitvoerende gesag word wyd waardeer. My simpatie aan sy familie, kamerade en vriende. Mag sy siel in vrede rus,” het Geingob getwiet.

Die veteraanpolitikus en voor­malige Robbeneiland-gevangene mnr. Ben Ulenga het gesê Iilonga was “'n vriend deur dik en dun”.

“Ek kan nie glo hy is dood nie. Ek weet hy was siek, maar het gehoor dit gaan beter. Ek was dus baie geskok toe ek hoor hy is oorlede,” het Ulenga gesê.

Volgens hom het hy en sy vriend sy aan sy gedurende die vryheidstryd en ook ná onafhanklikwording gewerk.

“As ek dink aan ons tyd op Robben­eiland, onthou ek 'n standvastige en betroubare mens, 'n kameraad en vriend. Hy sal beslis gemis word.”



medelye

Die voorsitter van die nasionale raad, me. Margaret Mensah-Williams, het ook haar simpatie op sosiale media uitgespreek.

Mensah-Williams het op Facebook geskryf: “Dit is met 'n swaar hart wat ek van die afsterwe van kameraad Petrus Iilonga gehoor het. Hy was 'n ware patriot en vryheidsvegter. Mag sy siel in ewige vrede rus.”

Die veteraanjoernalis me. Gwen Lister het Iilonga op Twitter as 'n “ou vriend” beskryf.

“Altyd met sy ikoniese baret op was hy 'n beter vakbondsman as die ­politikus wat hy later sou word. Rus in vrede, ou vriend.”

Iilonga het as adjunkminister in verskeie ministeries ná onafhank­likwording gedien, en het ook die ­Ongulumbashe-medalje vir dapperheid en lang diens in 1996 ontvang.

Tussen 2000 en 2005 was hy adjunk­minister van omgewingsake en van 2005 tot 2010 adjunkminister van arbeid.

In 2012 is hy as adjunkminister van verdediging aangewys, 'n pos wat hy tot onlangs beklee het.

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer