Standard Bank in SA slagoffer van miljoene se bedrog
Standard Bank het gister bevestig dat dié bank die slagoffer van bedrog was. Standard Bank het in ’n verklaring gesê kontant is deur middel van ongeldige kaarte by verskeie kitsbanke in Japan onttrek. Volgens die bank het sy kliënte geen finansiële verliese gely nie. Die bank het egter na raming sowat R300 miljoen se skade gely. Dit is voordat enige van die geld moontlik herwin word om die verlies te beperk, het die bank bygevoeg. Volgens die bank is die owerhede van die voorval in kennis gestel, het Fin24 berig. “Die ondersoek is in hierdie stadium baie sensitief en die nodige inligting sal bekend gemaak word.” Japan News het gister berig polisie hier het gesê ’n groep van meer as 100 mense het op 15 Mei sowat R200 miljoen (1,44 miljard jen) by kitsbanke “in omtrent twee en ’n half uur in en om Tokio onttrek”. Die geld is by 1 400 kitsbanke met vervalste kredietkaarte getrek. Volgens die webtuiste vermoed die Japanse polisie dat ’n internasionale sindikaat vir die bedrog verantwoordelik is. Foto Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie