Stadion se sluiting 'n groot kopseer

Beide die grasveld en die tartan is in verval en die sluiting sal vir die res van 2017 voortduur, is gister bevestig.
Andrew Poolman
Mariselle Stofberg en

Andrew Poolman



Hoe langer die opgeskorte toegang tot die Onafhanklikheidstadion in Windhoek voortduur, hoe erger word die vooruitgang van atletiek en individuele atlete in Namibië belemmer, indien die probleme nie opgelos word nie.

Terwyl die publiek en die land se hoë sportfigure selde te kort skiet om ambisieuse verwagtinge aan atlete te stel, lyk die werklikheid tans allesbehalwe belowend.

Die Onafhanklikheidstadion is reeds die ganse Novembermaand gesluit, met veral baanatlete wat feitlik geen ander heenkome in Windhoek het nie.

Verskeie spesiale geleenthede soos musiekfeeste is onlangs daar aangebied en dien as 'n bron van inkomste, maar terselfdertyd trek die atlete aan die kortste ent met geen werklike alternatief nie.

Me. Leoni van Rensburg, administrateur van Atletiek Namibië, het haar teleurstelling oor die huidige situasie uitgespreek.

“Die tartan word verskriklik beska­dig met voertuie en selfs vragmotors wat eenvoudig daaroor ry vir die opslaan en afslaan van stellasies of die verhoog vir optredes.

“Daar is geen kontrole om te verseker die bane word opgepas sodat ons atlete kan oefen nie.

“Die laaste keer dat die tartan nuut oorgedoen is, was in 1996 – wat meer as twee dekades gelede is en dus reeds lank agterstallig is.”

Volgens Van Rensburg is die bood­skap aan hulle oorgedra die stadion is vanaf 1 November gesluit, met geen duidelike uiteensetting hoekom nie.

“Ons sit met atlete wat vir die Olimpiese Jeugspele gekwalifiseer het, of binne bereik van kwalifisering is, maar ons moet op 'n grondbaan oefen omdat ek nie ander plek het nie.

“Ek verstaan heeltemal as daar herstelwerk gedoen moet word. Dit is net 'n probleem as die boodskap nie behoorlik aan almal oorgedra word nie.”

Volgens Van Rensburg is in 'n stadium uit sommige oorde blaam op die atlete geplaas vir die swak toestand van die gras in die stadion, maar is daar vele ander redes wat tot die gras se kondisie bydra.

“Grasvelde moet in stand gehou word met kompos en sny en rol; maar daar word meestal niks gedoen aan die onkruid of die mierplaag nie. Die natleiding van die gras gebeur ook nie gereeld nie; soms is daar waterbeperkings, of stukkende waterpype, of watertoevoer wat afgesny word.

“Dit is dus naïef om te dink hulle kan die stadion sluit en die gras laat 'rus'. Gaan kyk hoe lyk die grasvelde by skole soos Delta of WAP, of sportklubs soos Wanderers en SKW wat elke week en elke naweek gebruik word, maar ook behoorlik versorg word.

“In Januariemaand het ek die hele stadion met miergif behandel, maar die mierplaag in Olympia kan nie net met gif binne 'n sportkompleks behandel word nie; dit moet reg rondom gebeur.”

Nog 'n afrigter wat verkies om anoniem te bly, maak wat gewoonlik die stadion gebruik, beklemtoon ook die probleem van kommunikasie.

“Ons word nie in kennis gestel van ander geleenthede wat by die stadion aangebied word nie. Ons daag op met ons atlete, net om te sien die stadion word vir een of ander fees voorberei. Die probleem met hierdie geleenthede is die skade aan die baan en veld wat nie herstel word nie. Ek het nog nie een keer vandat ek afrig en oefen by hierdie stadion enige vorm van herstelwerk gesien nie.”

Dieselfde afrigter het atlete wat die potensiaal toon om vir die 2018 Olimpiese Jeugspele (Oktober 2018 in Buenos Aires) te kwalifiseer, maar hulle sukkel nou om die kwalifiserende afstande te bereik omdat die geriewe waar hulle nou moet oefen nie optimaal is nie.

“Ons atlete en ons land se sport ly onder die gebrek aan behoorlike geriewe, asook kontrole oor ons geriewe. Ons het net een stadion wat ons vir atletiek kan gebruik – waarheen kan ons anders gaan?

“Naellopers kan nie op 'n teerpad oefen nie en wanneer ons na ander grasvelde gaan, word dit deur span­sporte beset, of daar is gate wat die atlete se enkels in gevaar stel.

“Gestel jy is 'n 400 hekkiesatleet – waar anders gaan jy oefen? Skole wil of kan ook nie altyd hul geriewe oopstel nie.”

Die direkteur van sport in die ministerie van sport, jeug en nasionale diens, mnr. Sivhute Katamba, het gister aan die koerant bevestig dat die stadion minstens tot Januarie gesluit sal bly.

“Die stadion word oorlaai en mense kom en gaan in soos hulle wil en daar is geen kontrole, soos wat by 'n nasionale stadion veronderstel is nie. Die gras is dood en daar is werk wat gedoen moet word.

“Ons wil vroeg in die nuwe jaar 'n stelsel inbring waar mense nie sonder bespreking van die stadion toegang sal kan verkry nie.”

Katamba het ook gesê sy ministerie is besig met voorbereiding vir volgende week se begrotingsverhoor met die parlementêre komitee vir openbare rekeninge. Terwyl die departement van sport se begroting in die afgelope boekjaar skerp besnoei is, sal baie van die komende gesprekke afhang.

Intussen moet atlete reeds jaarliks in Maart eenvoudig opsy staan wanneer die Onafhanklikheidstadion gesluit word om vir die land se onafhanklikheidsvieringe voor te berei – ongeag dat dit die middel van die seisoen is.

Die land se atletieklegende Frank Fredericks het onlangs in 'n onderhoud verklaar dat hy nie die dryfkrag by vandag se generasie waarneem om op die topvlak van wêreldkompetisie mededingend te wees nie, maar die atlete op grondvlak se geleenthede word ernstig ondermyn indien die huidige situasie toegelaat word om onbepaald voort te duur.

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer