Staatspensioenfonds staan op N$97 miljard
Staatspensioenfonds staan op N$97 miljard

Staatspensioenfonds staan op N$97 miljard

Fonds belê vanjaar N$2 miljard in die plaaslike ongenoteerde mark.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die staatsdiens se pensioenfonds (GIPF) staan sterk met ’n waarde van ongeveer N$97 miljard.

Hoewel dit stadiger as voorheen groei, glo David Nuyoma die geld wat die GIPF in reserwe hou is voldoende.

“Ek slaap goed,” het die hoof uitvoerende beampte gesê.

Dié reserwes sluit in ’n buffer van 8,3% plus amper 30% werklike reserwes, het hy gesê.

Oor bewerings van plundering sê Nuyoma daar is niks van die aard nie.

Namibië se grootste fonds maak gebruik van meer as 40 batebestuurders wat fyn dopgehou word en aan streng vereistes moet voldoen, sê hy.

“Hulle word gewaarsku as hulle nie presteer nie.“

Die GIPF is ’n pensioenfonds met gedefinieerde voordele, wat beteken die uitbetalingsbedrag word deur die werkgewer gewaarborg - ongeag markomstandighede.

Die GIPF is ook nie afhanklik van die regering se sak nie, maar maak liewer staat op die groei van die fonds, sê Nuyoma.

Wat betaalvermoë betref sê hy die GIPF is die mees vloeibare soortgelyke fonds in Suidelike Afrika.

“In Amerika wonder hulle hoe ons dit regkry, maar dis ons formule van strategiese batetoewysing,” sê hy.



“Dit gaan goed met die fonds.”

Tog erken Nuyoma dat enkelsyfergroei laas jaar stadiger was as die 17-18% groei wat soms tussen 2012 en 2014 gesien is.

“Die wêreld se ekonomiese omstandighede het verander,” sê hy, en die vertraging raak ook Namibië.

Teen die einde van Februarie 2016 was GIPF se aantal annuïteite 31 692, met uitbetalings van meer as N$2,2 miljard in pensioenvoordele.

Hierdie jaar stel GIPF nog N$2 miljard op die plaaslike ongenoteerde mark beskikbaar, met vyf uit die sewe verkose maatskappye wat reeds geteken het en twee wat op goedkeuring van die Namibiese Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) wag, sê Nuyoma.

Ingesluit is die N$600 miljoen wat in die Harambee-vleibehuisingsprojek by Osona naby Okahandja belê is.

Tot dusver het dié projek stadig gevorder om die vier fondsbestuurders kans te gee vir deeglike voorbereiding.

Nuyoma sê hy glo die tempo sal wel versnel.

“Ons bou nie voor ons nie verkope het nie,” het hy gesê.

Ander beleggings van die GIPF sluit in aandele, eiendom, kontant en effekte wat almal volgens markomstandighede gemanipuleer word, sê Nuyoma.

“Ons is nog 'oorgewig' in Suid Afrika, so daar is nog ruimte om geld toe te wys. Wat help dit om geld iewers anders te belê as dit maar dieselfde opbrengste lewer? Bring dan liewer die geld hierheen waar ons mense daarmee kan werk.“

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer