Staatspasiu00ebnte dok self vir prosteses op
Staatspasiu00ebnte dok self vir prosteses op

Staatspasiënte dok self vir prosteses op

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Staatspasiënte wat dringend 'n knie- of heupvervanging ondergaan, moet nou noodgedwonge self vir prosteses opdok.

Dit volg nadat die staat sedert Desember verlede jaar steeds nie ver­skaffers betaal het nie, met uitstaande rekeninge wat miljoene beloop.

Staatspasiënte moet nou self inspring om die sowat N$40 000 te probeer insamel vir 'n prostese vir 'n heup- of knievervanging.

Volgens 'n verskaffer aan die mediese bedryf is dit juis mense wat nie 'n mediese fonds kan bekostig nie, wat nou die meeste geraak word.

“Dit is 'n klomp geld, maar hulle kan nie anders nie. Dit is letterlik nou net dié wat dit kan bekostig of geld hiervoor kan insamel, wat gehelp kan word,” het die verskaffer gesê.

Die antwoord by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) oor wanneer verskaffers betaal gaan word, bly ook dieselfde: “Daar is nie geld nie.”

Van die minister van finansies se belofte dat uitstaande staatskuld teen die einde van Augustus klaar vereffen sal wees, het daar volgens die verskaffer dadels van gekom.

“Dit is 'n reuse-agterstand vir verskaffers. Daar is wel private kliënte ook, maar die staat vorm 'n groot deel van baie se inkomste.”



basiese items

Basiese en standaarditems wat in die teater by die Windhoek Sentrale Hospitaal benodig word, is ook nie meer 'n gegewe nie.

Dit sluit teaterklere, handskoene, deppers en naalde in.

'n Dokter wat die teater moes gebruik, moes onlangs noodgedwonge inderhaas by 'n private hospitaal die nodige items gaan koop voordat hy kon opereer.

Republikein het vroeër berig verskeie operasies moes reeds uitgestel word, omdat die narkosetoerusting nie werk nie en daar ook nie water is nie.

Volgens die verskaffer word gewoonlik tot ses heup- of knievervangings per week in die Sentrale sowel as die Katutura-staatshospitaal gedoen.

“Nou was daar maar ses sedert Junie,” het die verskaffer gesê.

Verskaffers van prosteses uit Suid-Afrika vereis van plaaslike agente om binne 30 dae vir die produkte te betaal.

Ten spyte van grasie van drie maande aan die ministerie vir die betaling van plaaslike agente, beloop die agterstallige skuld en rente reeds miljoene.

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer