Staan sterk te midde van onsekerhede
Staan sterk te midde van onsekerhede

Staan sterk te midde van onsekerhede

Ontleed, besin 'rustig’
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – ’n Rukkie gelede skryf Catherine Eden in Spring 2017 op www.sanlamreality.co.za oor wat dit vat om staande te bly binne ’n omgewing waar dit lyk of baie kop verloor het.

Die oorsprong van haar insigte is betrokkenheid by die jeug in terme van risiko. Sy praat dus met ontsag oor hoe jongmense betekenis kan vind in ’n deurmekaarspul.

Die landbou het oorgenoeg tekens hiervan en ’n vloedgolf slegte nuus dreig om met ons boere se eenvoudige roeping in te meng – om kos onder bekende omstandighede volhoubaar te produseer.

Teen dié tyd is daar geen twyfel daaraan nie dat enige land swakker daaraan toe is sonder volhoubare landbou.

Die beste bewys hiervan is die feit dat landbou een van die min sektore is wat positief kon bydra tot die bruto binnelandse produk, en dít was nie sommer ’n hierjy bydrae nie.

Eden het vervolgens agt strategieë voorgestel om rigting te vind binne ontwrigtende omstandighede - soos dit vir baie lyk.

Eerstens stel sy voor dat afstand geskep word van die drama van die dag – al beteken dit om die TV en sosiale media af te skakel om so los te kom van die sensasie van slegte nuus. Dit kan jou help om te herkalibreer en om dalk energie te spaar vir iets positiefs.

Die tweede oorweging is om die volgende aksie reg te doen: Dit is goed om ’n mening te hê oor aardverwarming en die dreigende konflik tussen die VSA en Noord-Korea, maar nie goed genoeg om daaroor wakker te lê nie – dit is buite ons beheer. Fokus eerder op hernude bemagtiging van die eie vermoë tot plaaslike bydraes en wees veral bedag op watter nuus gedeel moet word. Sif nuus en bly ’n draer van goeie nuus. Skinder was nog nooit betroubare brandstof na ’n nuwe bestemming nie.

As gelowiges vertrou ons op ’n Hoër Hand, maar dit is verkeerd om die spreekwoordelike Gods water oor Gods akker te laat loop. Kommer is so ’n waardelose emosie en die skrywer beveel aan dat ons perd opsaal en oorgaan tot aksie te midde van ons volgehoue vertroue in ons Skepper.

In die vierde plek stel die skrywer voor mens ís die verandering wat jy wil sien.

Begin by jouself en mobiliseer eendersdenkendes om byvoorbeeld korrupsie af te skud. Sorg dat die morele kompas reg ingestel is en bly.

Daarmee sal die verlangde en regstellende gedrag geaktiveer word. Ons is dit aan mekaar verskuldig.

Vyfdens word nuwe klem geplaas op die kollektiewe krag van vriende en familie te midde van ’n krisis. Boere is so ’n familie vanweë lotsgebondenheid, kan mens seker sê.

Onsekerheid is die nuwe orde – raak gemaklik daarmee, beveel Eden as sesde punt aan.

Dit help nie om vas te klou aan wat was nie; daarmee kan mens nie die toekoms navigeer nie. Wees gereed vir veranderings en demonstreer aanpasbaarheid, want so word mens strategies vlugvoetig en takties skerp. Dit kan ook kalmte bring te midde van die oorvloed slegte nuus – nie om volstruispolitiek te pleeg nie, maar om rustig te kan ontleed, besin en dán te besluit.

Die sewende aspek verduidelik die beste taktiek te midde van ’n konstante witwaterlewe – soos beskryf deur die bekende Stephen Covey – is om in die hede te leef en dit een dag op ’n slag te vat. Dit hou jou kalm en in beheer - ongeag watter bal na jou gegooi word.

Laastens gaan dit oor die deurlopende taksering van ’n mens se sterk punte. Doen ’n swot-analise en kry die nodige selfvertroue uit die feit dat elkeen van ons oor unieke sterk punte beskik om kreatief te kan dink vir revolusionêre oplossings.

Ons mag dalk nie slim genoeg wees om met oplossings vorendag te kom om die oseane skoon te maak nie, maar wees dapper genoeg om die beste te doen met wat jy het waar jy is – altyd.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer