Staal-oupa van 66 laat monde in 1951 oophang

Fietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Gustaf Håkansson van Swede het in 1951 vir ’n fietstoer van 1 000 myl (1 609 kilometer) oor die wyde en breedte van sy land ingeskryf.

Ongelukkig was hy toe reeds 66 jaar oud en is weens sy ouderdom nie toegelaat om vir die moordende rit in te skryf nie. Die organiseerders het gevoel Håkansson is te oud en sal nie die stamina en uithouvermoë hê om by die ander 50 ryers se pas vol te hou wat die helfte jonger as hy was nie.

Maar Håkansson het hom nie deur die organiseerders se besluit laat stuit nie en lê die 600 myl met sy fiets na die wegspringplek toe af. Met ’n selfgemaakte nommer met nul op sy bors, daag hy met sy dukwielysterperd op wat kompleet met modderskerms, koplig en saalsakke toegerus was.

Håkansson spring 20 sekondes na die bondel weg, maar vyf dae, vyf ure en 1609 kilometer later steek hy meer as ’n dag voor die naaste deelnemer die eindstreep oor.

Ongelukkig vir Håkansson, het hy een belangrike reël van die kompetisie oortreë wat hom sy swaarverdiende titel kos. As deel van die reëls moes deelnemers elke aand by ’n kontrolepunt aanmeld en was ‘gedwing’ om te slaap.

Ná die eerste 300 myl was Håkansson tien myl agter die voorlopers, maar hy beraam blitsig ’n plan om sy mededingers te uit oorlê deur nie veel te slaap nie.

Hy het wel geslaap, maar net vir ’n uur lank ’n uiltjie geknip voor hy weer sy gewigtige ysterperd in die middernagtelike tabernakel-ure in die pad gesteek het. Dit het hom instaat gestel om gou die agterstand uit te wis en ’n 20 myl gaping tussen hom en die ander deelnemers te bewerkstellig.

Mense langs die toerroete het gou van sy ongewone aanslag gehoor en hom die Stålfarfar (Staal-oupa) gedoop.

Nadat hy vir drie dae net ’n paar uur geslaap het, het hy die bondel met meer as 120 myl gelei. Die polisie prober hom op ’n stadium ompraat om deur ’n dokter ondersoek te word, maar hy het net gelag en verder gery.

Met net bietjie meer as 700 meter tussen hom en die eindstreep, word Håkansson skielik tot stillstand gedwing. Maar dit was nie van uitputting wat hy moes stop nie. Sy fiets het sy eerste en enigste papband van die toer gekry wat hom met geen ander keuse laat as om sy ryding die laaste ent te stoot nie. Net voor die eindstreep spring Håkansson op sy fiets om die laaste meters te ry en steek die lyn om 14:15 op 7 Julie 1951 oor.

Ten spyte van sy nie-amptelike oorwinning het hy die koning van Swede ontmoet en was met eer en beroemdheid vir sy heldedaad bekroon. Gustaf se grootste satisfaksie was dat hy die medici verkeerd bewys het wat gereken het hy hoort eerder in ’n skommelstoel as op ’n fiets se saal.

Staal-oupa het fiets gery tot met sy dood in 1987 toe hy kort voor sy 102de verjaarsdag oorlede is.

Menige geswore fietsryer sal reken dat Stålfarfar Gustaf Håkansson ’n klinkklare bewys is hoe gesond fietsry vir die mens is.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer