SSC begin betaal
SSC begin betaal

SSC begin betaal

Die nasionale arbeids- en salarisbeskermingsprogram om die negatiewe uitwerking van Covid-19 te buffer, tree in werking.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) begin vandag met uitbetalings vir die nasionale arbeids- en salarisbeskermingsprogram teen die Covid-19-pandemie.

Volgens SSC se woordvoerder, me. Unamengi Kauapirura, sal die eerste van 6 300 werknemers vir wie werkgewers aansoek gedoen het, nou finansiële hulp ontvang. Die fonds verwag om in die komende weke tot N$24 miljoen uit te betaal. “Dit is baie goeie nuus,” sê sy.

Kauapirura sê hulle is besig om aansoeke te verwerk en werkgewers kan tot 31 Julie namens hul werknemers aansoek doen. Volgens Kauapirura is die stelsel vir die uitbetaling die ­afgelope drie maande deur die fonds ontwikkel en SMS'e is reeds uitgestuur om die betrokke werknemers vir nodige bewyse te vra.

Die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, het amptelik die beskermingsprogram op 27 April van stapel gestuur. Hy het gesê sy ­ministerie sal N$400 miljoen verskaf en die SSC 'n kontantbydrae van N$253 miljoen.

Die SSC verleen ook 'n betalings­vakansie van drie maande aan ­gekeurde ondernemings. In 'n SSC-ontleding op 5 Junie word twee ­programme uiteengesit, naamlik die werkgewersloonsubsidie en die werknemers se salarisbeskermingsubsidie.

Die eerste subsidie behels kontant en betalingsvakansies aan 850 ondernemings wat Shiimi binne die lugvaart-, toerisme- en konstruksiesektor geïdentifiseer het. Kontant ten bedrae van N$400 miljoen en N$142 miljoen vir betalingsvakansies is hiervoor begroot. Om werknemers te beskerm is N$150 miljoen vir die salarisbeskermingsubsidie begroot.

'n Derde program word beoog om 'n subsidie van N$70 miljoen aan die informele sektor te bewillig, maar dit word nog bespreek. Gesprekke word met betrokke vakbonde gevoer, ­inligting word ingesamel en lesse uit onlangse ervarings met die regeringstoelae word in ag geneem.

Volgens die SSC het hulle besonderhede van 372 000 Namibiese werknemers en 43 000 Namibiese ondernemings.

Die SSC het tot op 5 Junie 1 372 ­aansoeke vanaf werkgewers ontvang, waarin vir 1 066 kontanthulp gevra het, 1 003 vir betalingsvakansies en 1 244 vir salarisbeskerming.

Bystand is vir 13 300 geraakte ­werknemers gevra.

Volgens die ontleding is van die redes wat aangevoer word hoekom nie meer Namibiese werkgewers aansoek gedoen het nie, die ­beperking tot ­spesifieke bedrywe, die ­beperking van 17% van die loonrekening vir ­kontantuitbetalings en die benadering dat afdankings 'n doeltreffender kostebesnoeiing is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer