Spykerskoene en spiese eindelik afgestof

Atlete sal ná frustrerende maande van inperking op ’n spesiale wyse kan litte losmaak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Namibië se eerste virtuele baan- en veldatletiekbyeenkoms word vanaf môre tot Saterdag deur The Dome aangebied.

Mnr. Hennie Horn, gesoute hoogspringafrigter van Swakopmund, sê dit is die eerste in ’n reeks van drie sulke byeenkomste wat deur The Dome aangebied sal word.

“Die eerste byeenkoms vind komende naweek plaas en die ander twee die einde van Oktober en November 2020. Ons gaan net die hoogspringitems by The Dome in Swakopmund onder streng Covid-19-maatreëls aanbied.

“Beamptes van Atletiek Namibië sal by die hoogspring teenwoordig wees om dié item amptelik uit te meet. Dus sal elke sprong en hoogte op video opgeneem word om as bewys te dien. Dié video word op YouTube opgelaai met ’n skakel na BackTrack Sports wat die byeenkomste in samewerking met The Dome vir ons bestuur.

“Hoe werk die ding? sal mense wil weet.

“Besoek backtrack.co.za en koop ’n deelnemernommer. Maak seker jy kies ons byeenkoms en die items waaraan jy wil deelneem en stuur jou registrasienommer na https://backtrack.co.za/the-dome-global-virtual-track-and-field-challengeregistrations-form/ om jou plek te verseker.

“Hulle is ook op Facebook (BackTrackSA) vir mense wat meer wil uitvind. Wat werklik aangenaam van dié virtuele byeenkoms is, is dat enige mens elders in die wêreld vir die drie byeenkomste kan inskryf. Ons wil hê jonk en oud moet hul toerusting afstof om hul kompeterende bydrae te lewer.

“Ons nooi alle laerskole en hoërskole, asook senior en meestersatlete om van die prettige geleentheid gebruik te maak. Ouderdomsgroepe vir skole is vanaf o.10 tot o.19 (gebore 2001 tot 2010), terwyl atlete ouer as 19 (gebore voor 2001) as seniors kwalifiseer.

“Jy kan vir jou skool deelneem en aan die einde van die kompetisie sal uitslae op 29 September (ook 30 Oktober en 4 Desember) om 17:00 by backtrack.co.za vir individue asook skole beskikbaar wees. Dit sal individuele wenners asook ranglyste insluit.

“Deelname kos N$80 per item vir individuele items. Inskrywings vir die tweede byeenkoms sal tussen 15 September en 23 Oktober oop wees, terwyl die derde kompetisie se registrasie vanaf 15 September tot 23 November gedoen word.

“Inskrywings vir die naweek se geleentheid sluit môre (vandag), maar mense kan nog tot voor middernag registreer. Deelnemers sal almal sertifikate vir hul deelname ontvang.”

DIE REëLS

Horn sê: “’n Onderwyser, ouer of afrigter moet by elke atleet vir toesig wees. Onthou, ons maak staat op elkeen se eerlikheid. Vir die baanitems kry elke atleet net een kans om sy beste tyd aan te teken.

“In die velditems kry deelnemers ses pogings om sy beste hoogte of afstand te behaal. Kinders kan dus selfs in hul agterplaas hul gewigstoot-item afhandel.

“Elke gooi of sprong moet met ’n selfoon afgeneem word. In dieselfde video moet gewys word waar die afstand gemeet word. By hoog- en paalspring word die hoogte voor die tyd afgeneem en dan hoe die atleet spring. Net die video met die beste afstand of hoogte word op YouTube opgelaai. Die baan-items word die volle afstand afgeneem met die stophorlosie wat aan die einde met die finale tyd gewys word.

“Om jou video op YouTube te laai, gebruik jy die volgende as voorbeeld. #THEDOMEVTFC | Boys 18 | Piet Niemand | 800m |1.54.88. Die YouTube-skakel van jou video moet na https://backtrack.co.za/the-dome-global-virtual-track-and-field-challenge-submissions-track/ gestuur word.”

Die meer volledige instruksies van The Dome Global Virtual Track & Field Challenge kan in ’n plasing op Horn se Facebookblad (hennie.horn.10) verkry word.

Die direkte skakel vir The Dome-byeenkomste na BackTrack Sports is https://backtrack.co.za/events/the-dome-global-virtual-track-and-field-challenge

Die tweede en derde byeenkomste vind onderskeidelik vanaf 26 to 28 Oktober en 28 November tot 2 Desember 2020 plaas.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer