Sport oop sonder toeskouers

Regering
Andrew Poolman
Sportgeleenthede in Namibië mag voortgaan, maar sonder toeskouers, het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste gesê toe hy gister die huidige bestel van Covid-19-maatreëls uitgespel het.

Dr. Kalumbi Shangula se aankondiging gee nasionale sportfederasies en klubs die groen lig om met beplanning vir die nuwe jaar voort te gaan te midde van die coronaviruspandemie.

Met stygende syfers van positiewe gevalle, hospitalisasie en sterftes in vele lande is die realistiese vooruitsigte egter dat die pandemie steeds vele sportgebeure in die wiele kan ry.

Administrateurs in sportkodes soos sokker, netbal, atletiek en boks het planne om vanaf volgende maand weer hul klubkompetisies aan die gang te sit.

Die hervatting van wedstryde in Krieket Namibië se premierliga en eerste liga is ook vir komende naweek geskeduleer, ná die onderbreking oor die feesseisoen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer