Spoorminerale vir teelgeskikte bulle

Dr. Martin Ferreira sê daar is ‘n verskil tussen vrugbare en geslagsgeskikte bulle en dat hy daarom ‘n probleem met vrugbaarheidsertifisering het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Al sit ‘n bul in ‘n rolstoel, kan hy steeds vrugbaar wees. Dit beteken egter jy moet hom help deur byvoorbeeld kunsmatige insemminasie toe te pas.”

Tydens die afgelope Brahman-simposium en -veiling op 25 Oktober het die Potchefstroomse veearts, dr. Martin Ferreira van die Morvet Kuddegesondheidspraktyk, gesê hy het ‘n probleem met die vrugbaarheidsertifisering van bulle aangesien dit slegs beteken dat so ‘n dier saad produseer.

“Vrugbaarheid beteken slegs dat ‘n bepaalde bul lewende semen het, dat die semen morfologies normaal is en dit dragtigheid sal kan bewerkstellig as dit byvoorbeeld vir kunsmatige inseminasie gebruik word.

“Daarteenoor het ‘n geslaggeskikte bul normale, lewende semen, maar is ook vry van geslagsoordraagbare siektes. Hy is anatomies normaal, sodat hy self dragtigheid deur normale dekking kan bewerkstellig.”

VOEDING, AANVULLINGS EN VRUGBAARHEID

Volgens Ferreira lê beesprodusente dikwels klem op die voeding en bestuur van hul koeikudde, maar dit gebeur selde dat die bulle dieselfde gehalte voeding ontvang; veral tydens die nie-dekseisoen.

“Die reproduksie-doeltreffendheid van bulle word deur verskeie faktore beïnvloed. Die voedingstatus en spoormineraalaanvulling van ‘n bul is deurlopend van belang en het 'n direkte uitwerking op voortplanting.

“Spoorminerale speel 'n belangrike rol in die ontwikkeling en toekomstige reproduksiepotensiaal van die bul. Verskeie minerale is van belang vir optimale gesondheid, maar die regte koper-, sink-, selenium- en mangaanvlakke is noodsaaklik vir reproduksie. Tekorte of wanbalanse lei tot verlaagde vrugbaarheid onder bulle.”



Ferreira sê egter bulle moet met spoorminerale ingespuit word weens interaksies tussen minerale wat kan voorkom indien die aanvulling slegs oraal gedoen word.

“Die probleem met spoorminerale is dat niemand daaroor wil praat nie. Dit is klein molekules en klein hoeveelhede, asook kleingeld vir farmaseutiese maatskappye en die veevoerbedryf. Dit kan egter groot probleme veroorsaak as ’n bul ‘n wanbalans daarvan het,” het hy gesê.

“Die meeste produsente sê hulle voer hul bulle lek en dat spoorminerale daarin voorkom. Hoekom ‘n bykomende aanvulling gee?

“Produsente moenie dink dat jy met die spuit van ‘n naald die optimale vlakke van spoorminerale in die bees handhaaf nie. Jy moet daagliks vir die bees deur die bek ingee.

SPOORMINERAAL-ANTAGONISTE

Ferreira sê die doeltreffende opname van spoorminerale word egter deur die aanwesigheid van ander minerale beinvloed – die sogenaamde antagoniseerders en blokkeerders in die bees se rumen.

“Die belangrikste antagoniste van spoorminerale sluit in kalsuim (Ca), fosfaat (P), yster (Fe), swael (S) en molibdeen (Mo).

“Ons weet swael is ‘n noodsaaklike deel van jou bees se dieet, maar onthou dat dit spoorminerale blokkeer.”

Ferreira sê ‘n bul se voedingstatus sowat twee maande voor die aanvang van die teelseisoen, beïnvloed sy spermgehalte.

“Dus moet ‘n orale spoormineraalaanvulling ongeveer negentig dae voor teling gegee word en moet dit vir minstens sestig dae aaneenlopend gegee word.”

Hy het gesê as dit by spoorminerale in lekke kom, is daar verskillende opsies. “Organiese spoormineraalaanvullings is meer opneembaar, maar baie duurder. Daarom word aanbeveel dat 25% tot 50% van die spoormineraalaanvullings wat deur die bek gegee word, in 'n organiese vorm moet wees.”

SPOORMINERALE EN VRUGBAARHEID

Volgens navorsing deur Ferreira en sy kollegas by die Onderstepoort Navorsingsentrum in Suid-Afrika, is bevind die beweging van sperme het van 55,2% na 69,1% verbeter onder bulle wat ‘n organiese spoormineraal-lekaanvulling gekry het.

“Inspuitbare spoormineraalaanvullings word aanbeveel vir ongeveer sestig dae voor die aanvang van die dekseisoen omdat daaglikse aanvullings moeilik is, orale innames baie verskil, antagonistiese reaksies in die rumen tussen die verskillende minerale plaasvind, die minerale status van diere onbekend is en ook verskil ten opsigte van hul reproduksie stadium. Nog ‘n rede vir die aanbeveling, is omdat water en voergehalte verskil.”

Ferreira sê die uitwerking van spoorminerale op ‘n bul se reproduksiepotensiaal, begin reeds minstens ses weke voor geboorte in die koei se baarmoeder.

“‘n Koei skenk 30% van haar spoorminerale, wat sy in haar lewer gestoor het, aan die kalf tydens geboorte. Teen dag 56 het die kalf 75% van die spoorminerale gebruik waarmee hy gebore is – daarna begin hy om sy eie in te neem.

TEKENS VAN GESLAGSGESKIKTHEID

Volgens Ferreira is ‘n geslagsgeskikte bul klinies gesond, in ‘n goeie algemene kondisie, word hy aan 'n parasietbeheerprogram onderwerp en ingeënt teen siektes van sy spesifieke omgewing.

“Hy moet vry van ander opvallende siektetoestande wees, ‘n normale bouvorm hê en gemaklik beweeg. Hy moet normale vrugbaarheid toon, ‘n normale libido en dekbehendigheid hê, vry van geslagsoordraagbare siektes wees en vroegtydig die nodige aanvullings ontvang.

“As dit by bulle se algemene kondisie kom, moet hulle nie oorvet of te maer wees nie. Hulle moet – ooreenkomstig met hul raskenmerke en ouderdom – goed uitgegroei wees.

“Bulle moet genoegsame proteïen- of energierantsoen vir optimale groei en dekking ontvang en spoormineraal- en vitamienaanvullings kry.

“As dit kom by parasietbeheer; onthou, inwendige parasiete kompeteer met die dier vir bloedproteïene en energie en dié wanbalanse benadeel vrugbaarheid.

“Permanente orgaanskade, soos wat byvoorbeeld deur die lewerslak veroorsaak word, benadeel geslagsdrang.

“Eksterne parasiete lei tot irritasie en die oordra van koors geassosieerde siektes, wat kan lei tot die vrekte van die bul en dit kan ook tydelike of permanente onvrugbaarheid veroorsaak.”

SIEKTES EN GESLAGSGESKIKTHEID

Ferreira sê siektes waarvoor bulle ingeënt moet word omdat dit tot tydelike of permanente onvrugbaarheid kan lei, sluit in knopvelsiekte, stywesiekte, slenkdalkoors, beesvirusdiaree (BVD) en beesrinotrageïtis (IBR-kompleks), spons-, lam- en miltsiekte, asook rooiwater, hartwater, galsiekte, trigomoniase en vibriose.

“Siektes wat deur spermselle oorgedra kan word, sluit in knopvelsiekte, BVD, bek-en-klouseer, die bloutong-virus, bruselose, leptospirose, coxiella, trigomoniase, vibriose asook verskeie bakteriese siektes.

“Spoormineraalaanvullings is in belang van goeie immuniteit en help veral as dit saam met inentings gegee word.”

Hy het gewys hoe letsels op beeshoewe aan ‘n tekort aan sink toegeskryf kan word.

“Sulke hoewe is seer en die bulle kan nie behoorlik dek nie.

“Evalueer ‘n bul vir velletsels, pigmentasie en brandsiekte. Hier speel vitamien A ‘n baie belangrike rol,” het hy gesê.

“Dit steun die werking van sink, terwyl vitamien E die werking van selenium ondersteun. Vitamien A en sink bou die weerstand van ‘n bees op wat sekondêre velinfeksies keer.”

Hy het gesê as dit by die dier se anatomie kom, moet daar ook spesiale aandag aan sy testis en skede gegee word.

“Evalueer die groote en simmetrie, is dit beweeglik, hoe lyk die pigment en veltoestand van die skrotum asook die skede en posisionering ten opsigte van die liggaam.

“Hoe lyk die skede en vashegtingshoek in vergelyking met wat in rasstandaarde voorgeskryf word?”

Ferreira sê sink is belangrik vir die ontwikkeling van die testis.

“Die omtrek van die testes word direk gekorroleer met huidige en toekomstige spermproduksie, vrugbaarheid asook semenvolume en -gehalte.

Dié omtrek is oorerfbaar, maar voeding soos vitamien A en sink speel ‘n groot rol by groter testisse. Onthou ook dat as dit by testikulêre asimmetrie kom, gaan aanvullings nie help nie.”

“Onthou ook, as jy saad vir kunsmatige inseminasie koop, trichominiase en vibriose word nie deur bevriesing geraak nie. Pas op daarvoor – die bul moet voor tapping daarvoor getoets word.”

KOEIE GEE "BOODSKAP"

Ferreira sê koeie kan ook vir jou wys as jou bul die een of ander geslagsiekte het.

“‘n Nageboorte wat in die koei agterbly kan ‘n aanduiding wees van onder meer besmetlike misgeboorte (BM), vitamien A-tekorte of baarmoederinfeksies weens spoormineraaltekorte, asook moeilike kalwing.

“Die meeste produsente het een bul by sowat 25 koeie. Die kans dat een van die koeie vir jou ‘n ‘boodskap’ gee dat iets met die bul fout is, is groter as dat die bul vir jou gaan wys wat fout is met die koeie.

“Gebruik die inligting, veral as dit kom by nageboortes of ‘vuil’ baarmoeders.

“Laasgenoemde kan aandui dat die koei ‘n draer van trigomoniase asook besmetlike misgeboorte is.”

Ferreira sê dit is waar dat koeie met trigomoniase hulself "skoonmaak" ná hulle drie keer op hitte gekom het.

“Nie alle koeie lees egter die handboek nie en sommiges is ‘n uitsondering. Hulle bly dus die bron van besmetting vir nuwe bulle.

“As jou koeie op 'n láát stadium aborteer, kan dit ‘n teken wees van chlamydia of besmetlike misgeboorte. Hy het gewys hoe ‘n koei wat jaarliks kalf, nooit aborteer of nageboortes terughou nie, se knieë geswel is – ‘n teken van bruselose. Bruselose veroorsaak nie altyd aborsies nie”.

Hoe behandel jy ‘n bul met trigomoniase?

Ferreira sê dit is dikwels beter om die bul van kant te maak omdat jy nie weet hoe diep die kripte in die skede van die bul is nie.

“As dit vlak lê, sal die behandeling waarskynlik suksesvol wees. Dit is egter belangrik om jou bul minstens drie keer, ses weke uitmekaar te toets ná die laaste behandeling. Anders is die kanse goed dat dit kan terugkom.”

ONTLEDING VAN SPERM

“‘n Semenondersoek is een van die belangrikste dinge as jy ‘n bul se vrugbaarheid wil bepaal. Saad word eers makroskopies ondersoek vir volume, kleur, digtheid, dedementasie, die bepaling van die PH asook die teenwoordigheid van bloed.

“Daarna word dit mikroskopies ondersoek, waartydens ‘n evaluering van die aantal lewende sperme gedoen word en die bewegingsrigting van sperm (lynbeweging) asook digtheid (golfbeweging). Bestudeer word,” het Ferreira gesê.

Hy sê daarna word daar van kleurmetodes gebruik gemaak om die morfologie (hoe normaal spermselle gevorm is), die aantal abnormale selle asook persentasie lewende sperme te toets.

Hy het gesê die beste manier is om van ’n rekenaargebaseerde semen-beweeglikheidsontleding (Cassa-stelsel) gebruik te maak.

“Daar is te veel variasie in die resultate as dit by ‘n gewone mikroskopiese ondersoek kom,” het hy gesê.

“Daarteenoor verskaf Casa gedetaileerde, akkurate en hoogs herhaalbare resultate op verskeie semen beweeglikheidsparameters.”

SELENIUM EN JOU BUL

Selenium is verantwoordelik vir die produksie van proteïene in die testis, wat noodsaaklik is vir die morfologie van spermselle – die korrekte vorming van die kop en die stert van die sel. ‘n Korrekte morfologie help die sel om reguit te swem, het Ferreira gesê.

“Dit dien as 'n kragtige antioksidant wat selle teen oksidatiewe stres beskerm. As ‘n bul onder stres verkeer, stel hy suurstofradikale ione vry, wat organe in sy liggaam aanval. Selenium beperk dié stres.

“Selenium-tekorte lei tot afwykings van die testis.

“Sinktekorte lei tot afwykings tydens testisontwikkeling asook tot vertraagde geslagsrypheid, die beskadiging van die semenbuise en het ook ‘n negatiewe uitwerking op testosteroonproduksie,” sê Ferreira.

“Verder lei dit tot ‘n verlaagde produksie van gestoorde testosteroon, onderdrukte spermvorming asook lae prostaatvlakke met swak rypwording van spermselle.

Daarteenoor het navorsing getoon dat ‘n sink-aanvulling tot ‘n verhoging van ‘n bul se ejakulaatvolume, ‘n verhoogde spermkonsentrasie, ‘n verhoogde persentasie lewende sperme asook ‘n verbeterde spermbeweging gelei het.”

KOPER, SINK EN CHROOM

Ferreira sê die verhouding tussen koper en sink speel 'n belangrike rol in ‘n bul se vrugbaarheid.

“'n Koper-tot-sink verhouding van 1:3 tot 1:5 word as ideaal beskou. Die koper-tot-sink verhouding in Multimin Cu is 1:2,6, wat algemeen as ‘n spoormineraalaanvulling gebruik word.”

Ferreira sê hy en sy kollegas het aanvanklik gedink chroom is die “alfa en omega” vir ‘n bul se vrugbaarheid omdat dit ‘n direkte invloed op insulien het. Insulien help om energie te ontsluit.

“Ons het ook gesien as ons koeie chroom gegee het, was hul verlies in kondisie ná kalwing minder.

“Die belang van chroom in ‘n bul se vrugbaarheid is egter nog onseker, hoewel dit daarop dui dat die spoormineraal van belang kan wees as gevolg van die potensiële uitwerking wat dit het op die insulien kan hê.

“Die verwantskap met insulien kan moontlik help dat ‘n bul minder gewig tydens die dekseisoen verloor – dis belangrik, omdat bulle gedurende dektye minder eet as wat hul behoefte is.”

Ferreira sê chroom word ook geasosieer met die beperking van stres onder bulle - soos wanneer hulle vervoer word, in nuwe groepe moet aanpas en met ander bulle vir koeie moet kompeteer. Die stres het gewoonlik 'n negatiewe uitwerking op die vorming van sperm.

MANGAAN EN VRUGBAARHEID

“Die lewer skakel vet, in die teenwoordigheid van mangaan, na cholesterol om. Die cholesterol is ‘n direkte voorloper van testosteroon by ‘n bul en estrogeen by ‘n koei,” het Ferreira gesê.

Volgens hom kan lae mangaanvlakke tot ‘n swak libido lei.

“Dit is belangrik om bulle tydens hul voorbereidingstyd vir lewerslak te behandel. Lewerskade lei tot ‘n verminderde produksie van cholesterol en dus tot ‘n vermindering in die vorming van geslagshormone, verswakte ovariese aktiwiteit, verlaagde konsepsies, verswakte libido by bulle, verlengde tussenkalfperiodes asook verlaagde speenkalf-bemarking.

“Lewerskade kan ‘n tekort aan vitamien A beteken, want ‘n beskadigde lewer kan nie dié vitamien uit groenvoer maak nie.

“Vitamien A-tekorte word geassosieer met onder meer agtergeblewe nageboortes, seeroog-probleme, ‘n verlaagde ovariese aktiwiteit asook ’n verhoogde voorkoms van slymvlies geassosieerde siektetoestande,” het Ferreira gesê.

SPOORMINERAALAANVULLING EN SEMENGEHALTE

Ferreira het gesê tydens ‘n proef wat op 21 bulle by Onderstepoort uitgevoer is, het hulle gevind dat ‘n inspuitbare spoormineraalaanvulling soos Multimin Cu 'n betekenisvolle verbetering in ‘n bul se spermdigtheid en die bul se ejakulate meegebring het.

“Multimin Cu het 'n numeriese verhoging meegebring in die gemiddelde totale aantal spermselle wat per ejakulaat versamel is, asook in die gemiddelde persentasie beweeglike spermselle. Boonop het dit gesorg vir 'n verlaging in die aantal spermselle met kern defekte.

Tydens die proef is die bulle in drie groepe verdeel en al die bulle is ses weke voor die proef asook daartydens toegelaat om orale spoormineraallek na willekeur te eet.

“Die kontrolegroep is steriele water ingespuit, een met Multimin met chroom en die ander Multimin met koper.

“Ons het vanaf dag een, twee keer per week, vir twaalf weke lank semen versamel. Alle bulle was vrugbaar en vry van geslagsiektes,” het Ferreira gesê.

Die resultate het aangedui dat die toediening van chroom veroorsaak het dat bulle se semendigtheid met bykans 6% gedaal het.

“Die slotsom is: As jou bulle na die koeie toe gaan, spuit hulle ses tot agt weke voor die tyd met Multimin sonder chroom. Spuit hulle die een met die koper - dit veroorsaak ‘n onderdrukking in spermvorming van sowat 84 dae, maar daarna is die spermvorming weer herstel.

“Ons weet nie hoekom dit gebeur nie. Moet net nie jou bulle met die Multimin met chroom voor paring spuit nie.”

Ferreira sê die bulle in die kontrolegroep het ‘n toename in semendigtheid van sowat 41% ervaar - as gevolg van die aanhoudende stimulasie.

“Die wat koperaanvullings gekry het, se semendigtheid het met 95% verbeter - ten spyte van vervoerstres en orale aanvullings.

“Die persentasieverskil in semendigtheid was betekenisvol as die kontrolegroep vergelyk word met die bulle wat die Multimin met koper ontvang het.

“Die Multimin Cu aanvulling het tot 'n 53,4% toename in spermdigtheid gelei. Die gemiddelde persentasie ejakulate waarvan meer as 50% spermselle beweeglik was, het betekenisvol toegeneem vergeleke met die onbehandelde groep bulle.

“Die totale semenvolume wat gedurende die tydperk versamel is, het nie tussen die groepe verskil nie, maar die gemiddelde spermselle per ejakulaat was hoër in die Multimin Cu behandelde groep bulle.”

Ferreira raai produsente aan om ‘n Multimin Cu-aanvulling vir koeie te gee sowat vier tot agt weke voor hulle kalf, asook vier weke voor hul jaarlikse inentings.

“Spuit vervangingsverse asook jong, groeiende bulle drie keer per jaar en jou teelbulle direk ná die teelseisoen. Spuit ook jong beeste vier weke voor speen.

“Multimin Cu kan agt weke voor paring gegee word. ‘n Spoormineraalaanvulling deur middel van inspuitbare Multimin dra by tot die verbetering van die reproduksiepotensiaal van bulle,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer