Spookstories
Spookstories

Spookstories

[email protected]
Otis Daniels_Finck
Otis Finck – Met al die sterftes deesdae, wonder ek waarheen die afkopvrou is?

Ek besef sy het met die verloop van tyd al hoe minder haar opwagting gemaak. Beteken dit sy het rus vir haar eens dwalende siel gekry?

Vroeër jare was die spookvrou ’n laataand geselsonderwerp vir inwoners by die kus. Baie het hulle daarop geroem dat hulle paaie glo in die middernagtelike ure met die geheimsinnige gedaante gekruis het, op reis tussen Swakop en Walvisbaai.

Volgens gerugte het die dame in haar wit gewaad skielik verskyn en haar slagoffer se nek hare soos ’n elektriese skok laat reis. Wanneer jy sou stop om haar ’n “lift” aan te bied, sou sy glo vir ’n sigaret vra; ander kere het sy sommer klappe uitgedeel; mense na asem laat snak en dan weer vinnig weer die niet in verdwyn.

Een omie vertel sy het glo by hom in die voertuig ingeklim en soos ’n normale persoon gesels tot op ’n sekere plek. Toe het die kar se deur skielik oopgegaan, weer toegeklap en sy het sommer so in die ry die pad gevat. Die oom het hom natuurlik boeglam geskrik.

Lopende legendes skryf die wandelende dame in wit se ontstaan toe aan ’n gruongeluk op die destydse soutpad tussen Swakopmund en Walvisbaai. Sy is blykbaar onthoof toe die voertuig waarin sy was in ’n padskraper vasgejaag het.

Dié wat dink hulle weet, sê sy was glo ’n buitelander met ’n ses maande oue baba wat by die tweede draai buite Swakopmund op pad na Walvisbaai verongeluk het.

Net die baba het die ongeluk oorleef en niemand kon haar naasbestaandes opspoor nie. Die kind is toe aangeneem wat blykbaar meegebring het dat die vrou met volmaan teen 12 uur die nag begin spook. Sy staan glo rond opsoek na ’n saamrygeleentheid met die eintlike doel om haar baba op te spoor.

Volgens ’n ander weergawe het die vrou glo in die see geloop en verdrink, en haar dwalende siel soek nou nog na ewige rus.

Vir baie mense was en is dit ’n bangmaak- of sal ons sê wolhaarstorie wat ouers aan kinders vertel om hulle die skrik op die lyf te jaag.

Sommer wensdenkery.

Stouterds het glo ook al erken dat hulle wit lakens gebruik het om motoriste laat nag die skrik op die lyf te jaag teen die pad.

Of kon dit dalk ’n swerm verdwaalde pelikane wees wat soms in die digte mis opgevlieg het?

’n Mens se “mind” speel mos maar allerhande “tricks” wanneer ’n gunstige geleentheid hom voordoen.

Jy dink sommer die spreiligte is vlieënde pierings.

In die vroeë oggendure gaan die buurt se honde aan die blaf. Kan dit dalk ’n spook of spoke wees op ’n wandeling kom die gedagte op? Die corona-begraafplaas staan mos net hier om die draai by my.

Nee, bevestig die boodskap wat deurkom op die buurtwag se WhatsApp-groep. Slaap lig die inbrekers is weer doenig

Kommentaar

Republikein 2026-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer