Spogjaar vir rugby

Die kampioenspan van die NRU eerste liga is oorgehaal om hom teen beter ­kompetisie te meet.
Augetto Graig
Augetto Graig



Grootfontein was die enigste rugby­span wat vanjaar in die Noorde rugby gespeel het, maar hulle het uitgeblink.

Die visepresident van Grootfontein-rugbyklub, mnr. Jorie Oosthuizen, sê dit was 'n baie goeie jaar vir die klub.

“Ons is die Namibië Rugby-unie (NRU) se eersteligakampioen en het al ons wedstryde gewen. In die finaal het ons Keetmanshoop met 34-17 geklop,” spog hy.

“Ons het later die Day of the Dolphin op Swakopmund gaan speel, waar 'n paar premierliga-klubs ook was, maar ons het die dag gewen deur vir Rehoboth-rugbyklub in die finaal met 14-0 te klop.”

Die spankaptein, Wikus Jacobs, stem saam: “Dit was 'n uitsonderlike jaar en ons kon nie vir beter vra nie.”

Jacobs prys die goeie afrigting van afrigterspan, mnre. Buks van der Berg en Dirk Smit. “Hulle het hul span goed laat bymekaar kom en het 'n sterk spangees tussen die spelers laat ontwikkel. Met goeie afrigting het die span gefloreer.”

Die Grootfontein-span het veral in die uitklopwedstryde die wenkbroue laat lig met hul vinnige speltempo en goeie handvaardighede.

Die Noordespan het op opeenvolgende naweke in die Hage Geingob-stadion die kwarteindstryd teen die Windhoekse klub Vipers met 84-14 gewen, voordat hy in 'n opwindende semifinaal moes vasbyt om vir Sparta van Walvisbaai met 24-21 uit te skakel.

“Loshande die mees indrukwekkende span was Grootfontein, wat ooglopend 'n baie talentvolle groep in die veld stoot en na regte in die premierliga getoets behoort te word,” het Republikein ná die kwarteindstryd berig.

“Die blou-en-wit truie se mees indrukwekkende faset is waarskynlik hul ondersteunende spel – die manier hoe baldraers hul aangeë vanuit enige duikslag kan wegkry en hoedat daar altyd 'n man in posisie is om die beweging vorentoe te neem.

“Dié aspek van hul spel was die afgelope naweke 'n openbaring en sal nie net een van Keetmanshoop se groot uitdagings wees nie, maar sal inderdaad 'n hand vol wees vir enige opponent in die premierliga – sou die Noordespan dalk besluit om in die hoogste liga werklik sy spiere te bult.”

Grootfontein het die eersteliga-finaal met 34-17 teen die Keetmanshoop Rams beklink.

Grootfontein se indrukwekkende pak voorspelers sou altyd sy troefkaart in dié finaal wees. Drieë deur die flank Wikus Jacobs, heelagter Irongwa (Zulu) Atshivudhi en senter Silvano Beukes het die sege help beklink, terwyl losskakel Siegfried Potgieter se 19 punte van die skopringetjie af die telling buite Keetmanshoop se bereik help stoot het.

Oosthuizen sê die span het vanjaar saamgestaan en het verskeie staatmakers gehad. “Ons senior spelers het deur hul voorbeeld gelei, soos Johan Luttig, Braam Alberts, Siegfried Potgieter, Silvano Beukes, Jacques Grobler, Jay Jay Liebenberg en Wikus Jacobs.

“Grootfontein wil volgende jaar vir die hoogste liga inskryf en teen al die premierligaspanne speel,” sê Oosthuizen.

Groot afstande, asook die reël dat klubs ook 'n tweede span in die reserweliga moet inskryf as hy in die premierliga wil meeding, was tot dusver die vernaamste beperking wat in Grootfontein se pad na beter kompetisie gestaan het.

Aanduidinge is egter dat die klub in 2020 wel die dieper waters van die NRU premierliga gaan toets.

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer