Spesiale kuns vir spesiale sentrum
Spesiale kuns vir spesiale sentrum

Spesiale kuns vir spesiale sentrum

Twee vroue het ’n kleuterskool en ’n sentrum vir volwassenes met gestremdhede in Windhoek geopen.
Tanja Bause
Tanja Bause - Vroeg vanjaar is ’n kleuterskool en sentrum vir volwassenes met spesiale behoeftes op een perseel in Eros in die hoofstad geopen.

Aan die stuur hiervan is twee ou vriende: me. Vanessa Noterman, in beheer van die Kids at Heart-kleuterskool, en me. Anita Nangombe, wat die leisels by House Noah in die hand het.

“Ek het sewe jaar lank by ’n kleuterskool gewerk en het gevoel die tyd het aangebreek om my eie onderneming te begin. Voorskoolse opleiding is die grondslag vir die res van jou lewe, en liefde is die belangrikste aspek hiervan,” sê Noterman.

Sy vertel twee kinders by die kleuterskool waar sy gewerk het, het spesiale behoeftes gehad en sy wou hulle nie agterlaat nie.

Die vroue het besluit om die twee organisasies onder een dak te laat funksioneer.

“Volwassenes met spesiale behoeftes is baie afgesny van die gemeenskap. Elke Vrydag het ons ’n pretdag waarop daar heelwat interaksie tussen die twee groepe en deesdae kom die kinders soggens by die kleuterskool aan en gaan eers House Noah toe om te groet,” sê Noterman.

House Noah

In Augustus verlede jaar het Namibia Special Needs Adults Centre in Windhoek as ’n dagsorgsentrum vir volwassenes met spesiale behoeftes geopen.

“Ek het met kinders met spesiale behoeftes gewerk voor ek met die dagsorgsentrum vir volwassenes begin het. Toe Vanessa en ek begin gesels, het dit sin gemaak om na kinders terug te gaan terwyl volwassenes steeds die fokus was,” sê Nangombe.

“Ek dink dis belangrik dat ons kinders leer ons is nie almal dieselfde nie. Kinders het baie begrip. Die kinders vra byvoorbeeld die volwassenes wat verkeerd is en hulle antwoord op hul manier. Die twee groepe verstaan mekaar,” sê sy.

Volgens haar het die kinders en volwassenes van die sentrum self met die naam House Noah vorendag gekom.

“Die vorige naam was net te lank en hulle het besluit House Noah is soos Noag se ark in die Bybel – almal is welkom en daar is plek vir almal. Die jongste kind by House Noah is drie en die oudste volwassene is 33.”

Volgens Nangombe is die kombinasie van volwassenes en kinders baie interessant veral omdat die kinders en hul behoeftes die volwassenes inspireer.

“Ons het met Julian Roos, een van ons volwassenes, gesels en gevra of hulle vir die kinders speelgoed, houtblokke ensovoorts wil maak sodat die kinders kan leer en speel.”

Hulle het ingestem en nou maak hulle alles wat die kleuterskool benodig self.

“Julian het aan sy versorger gesê hy het nou ’n doel in die lewe, want hy maak speelgoed vir kinders sodat hulle kan leer.”

Eerskomende Saterdag word kunswerke wat die kinders en die volwassenes saam gemaak het tydens ’n pretdag by die kleuterskool verkoop om geld in te samel wat in beide projekte teruggeploeg sal word.

“Die kinders en volwassenes het speelgoed, skilderye, bewertjies, kwilte ensovoorts met die hand gemaak. Die pretdag begin om 13:00 en om 16:00 sal skilderye opgeveil word.

“Mense is welkom om ’n koppie koffie en stuk koek te kom geniet terwyl hul voertuig gewas word. Die karwassery is natuurlik waterbesparend en groen,” sê Noterman.

Kids at Heart en House Noah is in Palomar-straat no. 6 in Eros geleë.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer