Speenkalfproduksie steeds mees winsgewend
Speenkalfproduksie steeds mees winsgewend

Speenkalfproduksie steeds mees winsgewend

Terwyl die droogte tot in 2019 die nasionale beeskudde met soveel as 50% laat krimp het, is produsente nou besig om weer hul koppe op te lig.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Alhoewel speenkalfproduksie baie kwesbaar vir droogtes is, was dit steeds die mees winsgewende produksiestelsel vir plaaslike veeboere in die eerste twee kwartale van die jaar.

Volgens me. Bertha Ijambo, 'n navorser verbonde aan die Namibië Landbou-unie (NLU), was die gemiddelde speenkalfprys –uitgedruk as 'n persentasie van die slagprys – 76% tussen Januarie en Junie vanjaar.

Volgens hul statistiek is speenkalfproduksie die afgelope vyf jaar deurlopend die mees winsgewende boerdery.

Ijambo het in die NLU se jongste kwartaallikse verslag gesê ná die droogte van 2019 het die nasionale kudde met bykans 50% gekrimp. Baie jong diere moes noodgedwonge verkoop word.

“Die goeie reënneerslae in die 2020-'21-seisoen het produsente gemotiveer om hul produksie te verhoog.

“Hulle is besig om opnuut in die lewendehawesektor te belê en hul kuddes te herbou. Dus, alhoewel bemarkingsyfers van lewende hawe tans laag is, is die nasionale kudde besig om te groei,” het sy gesê.

Kalwers wat dus begin 2019 en in 2020 gebore is, sal waar­skynlik as osse of verse in die tweede helfte van 2021 en 2022 verkoop word.

BEMARKINGSYFERS

Die bemarkingsyfers vir beeste het tydens die eerste helfte van 2021 met 25,2% gekrimp. Dié syfer het vir skape en varke onderskeidelik met 4,7% en 1,3% in die eerste helfte van die jaar gekrimp. Daarteenoor het bokke se bemarkingsyfer met 63,8% gestyg.

Minder beeste is ook in die eerste ses maande van die jaar op veilings verkoop – 91 302 teenoor die 130 108 oor dieselfde tydperk in 2020. Dit kom neer op 'n verlaging van 29,8% in veilingsyfers.

Terselfdertyd is 23,4% minder beeste, op die hoef, in die eerste twee kwartale van die jaar uitgevoer. Daar is ook 31,7% minder speenkalwers op veilings verkoop.

“Terwyl produsente aan hul kuddes herbou, verwag ons dat deurset in abattoirs laag sal wees. Uitvoerabattoirs het 'n deurset van 14 436 beeste in die eerste maande van die jaar gehad, wat neerkom op 'n jaar-op-jaar vermindering van 31%,” het sy bygevoeg.



PRODUKSIEKOSTE

Ijambo sê die koste vir die produksie van lewende hawe het gestyg en het landbou-inflasie opgestoot tot 'n stewige 7% in die eerste helfte van 2021.

“Dit is toe te skryf aan verhogings in brandstofpryse, medisinale koste, onderhoudskoste en verbeteringe asook kapitale uitleg,” het sy verduidelik.

Terselfdertyd het pryse vir vee tussen Januarie en Junie vanjaar verbeter. Skaapprodusentepryse het met 26% verhoog, terwyl beespryse met meer as 17,6% gegroei het, gevolg deur 'n verbetering van onderskeidelik 21,8% en 11,4% in die pryse van speenkalwers en osse.

Ijambo sê 'n sterk vraag na speenkalwers het tot prysverhogings in 2020 en 2021 gelei, wat die gemiddelde speenkalfprys, uitgedruk as 'n persentasie van die slagprys, bó die langtermyngemiddeld van 64% laat uitstyg het.

“Die slagprys het egter in 2021 verbeter, wat koei-os-produsente se inkomste verbeter het. Winsgewendheid is egter onder erge druk vir osprodusente wat speenkalwers vir afronding koop, omdat speenkalwers teen hoë pryse verkoop het.” 

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer