Speeksel-verbod bemoeilik boulers se taak
Krieket
Tinus van Staden – Die nuus was skaars bekend dat boulers voortaan nie meer krieketballe met spoeg mag bewerk nie, toe laat die kolwers van hulle hoor op die Proteas se WhatsApp-groep.
“Toe die aankondiging kom, het ’n paar kolwers onmiddellik gesê hulle gaan nou met gemoedsrus dryfhoue speel, ongeag of die bal op ’n goeie lengte geplant is,” sê Lungi Ngidi, Protea-bouler en Krieket Suid-Afrika (KSA) se Eendag- en T20-Speler van die Jaar.
Die Internasionale Krieketraad (IKR) het in Junie tydelike reëlveranderinge goedgekeur, wat daarop gemik is om die oordragrisiko van die coronavirus op die krieketveld te beperk.
Een van die nuwe reëls is dat boulers nie meer spoeg mag gebruik om swaaibeweging te probeer bewerkstellig sodra die krieketbal se glans ná die eerste paar beurte verdof nie. Skeidsregters sal aanvanklik toegeeflik wees as spelers uit gewoonte steeds die bal met speeksel poets, maar as dit herhaaldelik gebeur, kan ’n span met vyf lopies beboet word.
Nou vrees boulers dat kolfwerk eenvoudig te maklik sal word as hulle geen hulpmiddels het om swaaibeweging mee te kan bewerkstellig nie.
Gewoonlik sal kolwers lugtig daarvoor wees om dryfhoue te poog na balle wat op ’n goeie lengte geplant is, veral in toetskrieket. Die risiko is eenvoudig te groot dat die bal laat kan swaai en sodoende die kolf se buiterand kan tref, wat tot die verlies van die kolwer se paaltjie kan lei. As ’n kolwer weet die bal gaan nie swaai nie, kan hy dit na willekeur deur die dekke dryf.
“Ons sien reeds met watter mentaliteit die kolwers kom, so ons moet met wedstrydplanne vorendag kom om die bal te laat swaai,” sê Ngidi.
Verskeie belanghebbendes het reeds alternatiewe maniere om swaaibeweging te bewerkstellig, voorgestel. Die kriekettoerusting-vervaardiger Kookaburra het reeds ’n spesiale balwaks vir dié doel ontwerp, terwyl die voormalige Aussie-draaier Shane Warne voorstel dat balle vervaardig word wat aan die een kant swaarder weeg.
Die voormalige Protea-afrigter Eric Simons glo weer ’n spoeglap kan ’n oplossing bied, terwyl die Britse vervaardiger van Dukes-krieketballe voorstel spelers hou ’n katoenhanddoekie byderhand. Katoen en sweet – wat steeds toelaatbaar is – is al wat boulers vir swaaibeweging nodig het, sê die balvervaardiger Dukes se besturende direkteur, Dilip Jajodia.
Ngidi sê dalk kan ’n klam handdoek gebruik word, maar voeg dan by: “of dalk is dit nie die beste idee nie.”
“Maar ons moet met iets vorendag kom om seker te maak die bal swaai. Ons moet baie vinnig nuwe idees uitdink.”
Ook in vrouekrieket kan die verbod op speeksel ’n probleem wees.
“Ons (gebruik ook speeksel op die bal), want ons wil kyk of ons omgekeerde swaaibeweging kan kry in die 50-boulbeurt-formaat. Daar is iemand op halfby en halfweg wat die bal poets,” sê die Protea-snelbouler Shabnim Ismail.
“Nou gaan dit moeilik wees, want dit sal nie meer kan gebeur nie.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie