Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word
Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

Op 27 November gaan ­Namibiërs stembus toe.
Denver Kisting
Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.

Die uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), mnr. Theo Mujoro, het Vrydag in Windhoek aangekondig dié liggaam is reg vir Woensdag 27 November 2019 wanneer Namibiërs stembus toe gaan vir die presidents- en NV-verkiesings.

Tydens die bekendstelling van die kieseropleidingsveldtog by 'n hotel in die hoofstad het die voorsitter van die ECN-raad, adv. Notemba Tjipueja, gesê hulle glo burgerlike opvoeding is een van die sleutelfunksies van die ECN.

Derhalwe is kieseropleidingsbeamptes oraloor in al 14 streke ontplooi om op 'n daaglikse grondslag inligting te verskaf, het sy gesê. “Burgers sal nie hul demokratiese reg kan uitoefen om te stem nie, tensy hulle ten volle die doel van die kiesproses en die belangrikheid van elke stem verstaan,” het sy gesê.

Voornemende kiesers moet ook kennis neem van die impak wat 'n verkiesing op gemeenskappe se politieke, maatskaplike en ekonomiese omgewing kan hê, het Tjipueja gemaan.

Die ECN se strategieë om voornemende kiesers te betrek, moet rekening hou met hoofstroomkiesers en dié in benadeelde ruimtes, sê sy. “Faktore soos die verskillende tale wat in die land gepraat word, minderheidsgroepe en intern ontwortelde mense word in ag geneem en spesifieke teikengerigte programme word ontwerp om insluiting te verseker in wat ons spesifieke opleidingsprogramme noem.”

Katjavivi het gesê 'n ware demokrasie is gemik op geslagsgelykheid en regstellende aksie vir die bevryding van alle burgers.

Vroue se deelname aan die demokrasie is 'n mensereg, sê hy. “Vry en regverdige verkiesings moet derhalwe dien as grondslag vir die gesag van enige ­verteenwoordigende regering,” het hy Vrydag in die hoofstad gesê.

Katjavivi sê hy is bly die ECN is verbind tot strategieë om toe te sien dat die jeug ingesluit word. “Die jeug neem dikwels na wat berig word minder gereeld deel aan kiesprosesse, insluitend om te stem of om hulle verkiesbaar te stel as moontlike kandidate as politieke ampsdraers. Ek is daarom bly verkiesingsliggame in Afrika probeer bewustelik 'n meer insluitende rol speel om jeugdeelname te bevorder.”

Kommentaar

Republikein 2025-10-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer