Sowat sestig persent van kapitaalprojekte onvoltooid
Die ministerie van werke en vervoer wil vordering op koers kry nadat die president 'n ondersoek vereis het.
Kristien Kruger – Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het gister in Windhoek die media asook lede van die departemente oor die kwessie van onvoltooide kapitaalprojekte in die land ingelig. Sowat 60% van projekte sedert 2016 is nog nie voltooi nie en 28% is laat vaar.
Tydens 'n stadsaalvergadering in 2019, gelei deur president Hage Geingob, is die kwessie van verlate en onvoltooide projekte bespreek. Geingob het die ministerie van werke en vervoer opdrag gegee om die situasie in al 14 streke te ondersoek.
'n Verslag moes ingedien word aangaande die vordering van elke projek, die rede waarom elkeen onvoltooid is en die finansiële implikasies hiervan.
Volgens Mutorwa het lede van die departement vanaf 21 tot 28 Junie vanjaar elke projek fisies besoek om die vordering te evalueer. Die finale verslag is op 22 Julie ingedien.
Volgens die verslag was 153 projekte vanaf 2012 tot 2014 aan boukontrakteurs oorhandig. Slegs 54 van dié projekte is voltooi, 54 is nog aan die gang en 43 is onvoltooid.
“Dit is 'n baie ernstige situasie. Die volle waarheid en feite oor die saak moet so gou moontlik verkry word. As enige ongerymdhede vermoed word, sal regstappe gedoen word en sal die Teenkorrupsiekommissie in kennis gestel word,” het die minister gesê.
Volgens hom sal die ministerie van werke eerstens die relevante professionele en tegniese spanne aanstel om saam met die onderskeie uitvoerende beamptes seker te maak dat dié projekte spoedig voltooi word.
“As volgende stap moet 'n volledige vorderingsverslag teen einde van Augustus ingedien word. Hierdie verslag sal aan die president gestuur word,” het Mutorwa gesê.
Projekte per streek: In die verslag is die aantal onvoltooide projekte in elke streek soos volg uiteengesit: ||Kharas – 5, Hardap – 2, Khomas – 6, Otjozondjupa – 4, Oshikoto – 3, Ohangwena – 3, Kunene – 1, Omusati – 3, Oshana – 2, Kavango-Wes – 2, Kavango-Oos – 5, Zambezi – 3, Erongo – 3, Omaheke – 0.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie