Sopkombuis in knyp
'n Vrou, wat weet hoe dit voel om haweloos te wees, voorsien 31 kinders daagliks van kos.
Tanja Bause
Ses jaar gelede het me. Louise Steyn Tsumkwe toe getrek om haar oor kinders te ontferm.
Twee maande lank het sy onder 'n boom gewoon, terwyl sy aan die bou van haar huis gewerk het.
Dié huis is vandag die tuiste van vyf kinders en is ook 'n sopkombuis wat 31 kinders se mae daagliks volmaak.
Steyn het aanvanklik 91 kinders van kos voorsien, maar weens 'n geldtekort is dit nie meer moontlik nie.
“Ek gebruik my pensioengeld en geld wat my familie skenk, maar dit is te min. Hier op Tsumkwe is daar ook nie groot kettingwinkels wat ek om ondersteuning kan vra nie,” het sy gesê.
Steyn moes die God's Garden-kleuterskool wat sy geopen het, om dieselfde rede sluit.
“Sodra die finansies beskikbaar is, sal ek die skooltjie weer open,” sê sy.
Haar betrokkenheid by kinders spruit uit haar jare as 'n hawelose op Swakopmund.
“Ek het met al my aardse besittings in 'n supermarktrollie op Swakopmund en Walvisbaai se strate en strand gewoon. Hier het ek baie tyd met straatkinders deurgebring en hulle gehelp waar ek kon,” sê sy.
Steyn was in die verlede aan dwelms verslaaf en sê dít dryf haar om kinders van hoofsaaklik die San-gemeenskap op Tsumkwe te ondersteun.
“Ek was jare lank op straat. Ek weet wat dit is om swaar te kry. Op Tsumkwe is baie sjebeens, en alkoholmisbruik is 'n algemene gesig. Ma's sluit hul kinders toe om te gaan drink. Kinders word verwaarloos en kry nie kos nie. By my kry hulle sewe dae 'n week ontbyt en middagete. Ek deel alles wat ek het met hulle,” sê sy.
Steyn sê sy het boumateriaal en palette nodig.
“Uit die palette kan ek self meubels maak en hulle verkoop en geld maak. Die boumateriaal kan ek gebruik om die sopkombuis en kleuterskool mee uit te brei. Maar ek sal enige hulp verwelkom,” sê sy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie