Sopkombuis bring verligting op Maltahöhe

Tagtig kwesbare kinders ontvang sedert Junie 2020 elke tweede dag een gekookte maaltyd.
Tanja Bause
Wiebke Schmidt – In die informele nedersetting Blikkiesdorp op Maltahöhe ontvang 80 kinders sedert Junie 2020 elke tweede dag een gekookte maaltyd.

Die sopkombuis is deur lodge-eienaars begin wat weens die Covid-19-pandemie en die impak daarvan op die toerismebedryf hul lodge moes sluit.

Anna Hanse, Lydia Boois en Veronika !Aes het by die Namseb Lodge buite Maltahöhe gewerk. Die eienaars, Guido en Aileen von Wietersheim, moes noodgedwonge hul personeel afdank weens 'n gebrek aan toeriste.

“Die lodge was van groepe toeriste afhanklik wat weens die pandemie nie meer moontlik was nie. Ons het ons werknemers tot Mei 2020 'n salaris betaal hoewel ons geen inkomste gehad het nie. Op die ou einde moes ons die lodge heeltemal sluit, omdat ons net nie meer sonder 'n inkomste kon voortgaan nie.”

Die Von Wietersheims kon egter nie dié drie vroue – wat al jare lank by die lodge werk – net so op straat sit nie en het 'n plan beraam.

“Ons het in 2017 van 'n kerk in Augsburg, Duitsland, 'n groot finansiële skenking gekry waarmee ons reeds die Junior Sekondêre Skool Daweb geverf het. Ons het ook 'n speelplek by die skool gebou en die ablusiegeriewe heeltemal oorgedoen. Daar was nog geld oor en ons het besluit om dit te gebruik om die sopkombuis op Anna se erf te begin.”

Hulle het op 30 Mei besluit om die sopkombuis oop te maak en het nog dieselfde dag kos, hout, bakke en lepels gekoop. Die drie vroue het na die mees kwesbare gesinne gegaan en hulle gevra om hul kinders na die sopkombuis te stuur.

Die volgende dag het 30 kinders tussen die ouderdomme van drie tot ses by die sopkombuis opgedaag. Tans word 80 kinders by die sopkombuis gevoed. Die kinders is 'n twee groepe ingedeel wat elke tweede dag kom eet.

Intussen is nog 'n vrou as helper by die sopkombuis in diens geneem.

“Ons is van skenkings afhanklik; nie net om die hout en kos te koop nie, maak ook om die vroue te betaal. Ons geld is nog genoeg vir sowat ses maande,” het Guido gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer