Soos die liefde is boeke vir altyd en ewig
Des Erasmus - Maandag was internasionale boekedag. Feitlik saam met die aankondiging oor die eter kom vrae of boeke met die opkomende tegnologie gaan verdwyn? Sommer ’n laslappie aan die vraag is wat was die eerste boek(e) wat jy gelees het nadat die trap der jeug stadig met jou oor die lang brug van geletterdheid beweeg het?
Wat my die ronde van Vader Cloete laat doen. In eie kring is gevra, onthou jy nog watter boek(e) jy eerste gelees het? Wat was in jou tienerjare jou gewildste leesstof? Lees jy vandag nog boeke?
Vir ’n voorgereg eers ’n verwysing na ’n boek wat blykbaar gaan verdwyn. Daarna ’n boek wat deur die eeue heen ’n topverkoper was. Ook ’n grypie uit die verre verlede toe die eerste wetboek verskyn het.
Dit terwyl ’n meisiekind op haar eerste verjaarsdag in die voorhuis speel. Sy't ’n rolpuntpen en ’n notaboek stewig in haar sagte regter beetgekry. Op die oopgesperde bladsy trek sy strepe. Dis op en af en dwars. Haar geheimenis bly oor wat die boodskap van die hoeksteen van haar skryfkuns is. Dit terwyl ’n geskenkte sagte teddiebeer rustig in ’n wiegstoel slaap en ’n driewiel vir haar eerste jare ongesiens daar staan. Penne en boeke is deur ’n verdwynende geslag by haar ingeteel.
Namate die opkoms van die rekenaarkuns soos ’n ongeleide satelliet na ’n onbekende bestemming klief, is nou die dag verneem van gevestigde instellinge wat gaan verdwyn. Met die opkoms van die tegnologie word die bestaansreg van poskantore bevraagteken. Briewe met posseëls gaan glo voor die rekenaartegnologie swig. Dis die einste rekenaars waarop rekeninge gelees gaan word, nie noodwendig vereffen word nie.
In die proses is daar een boek wat glo beslis gaan verdwyn. Dis die tjekboek. Vir alle geldtransaksies gaan dit net die druk van rekenaarklawers wees. Eweneens is daar die boek wat nie gaan verdwyn nie. Ná al die eeue bly Die Bybel ’n topverkoper in alle tale.
Vir my bly die eerste wetboek dit waarmee Moses na ’n wagtende Israel teruggekeer het. Dit was die Tien Gebooie waarmee hy van die berg na sy wagtende volksgenote teruggekeer het. Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie begeer nie, jy mag nie steel nie en vele meer. Vandag nog dien dit as ’n basis van vele wetgewings waarmee die moderne wêreld gelei word. Dit was op klip, maar pure boek.
In eie kring sien ’n snuiwer uit na die koms van ’n nuwe boek. Die eerste ding wat gebeur, is om die boek sagkens oop te vou om met reukorgane naby die geur van die lym van die omslag te kom. Gelukkig is dit al waaraan sy snuif. Het ook nooit iets daarvan oorgekom nie. Geen boeke nie, geen snuifie nie.
Bedreigers van die boekebedryf, is blykbaar die radio- en die TV-diens. As die stories aan jou voorgelees word of in toneelvorm voor jou afspeel, hoef ’n boek nie gekoop te word nie. Maar nou kom die vraag of ’n boek dan nie die basis van die voorlesing of die TV-verhaal is nie? Was daar nie ’n skrywer of ’n boek nie, was daar ’n stilstuipe op die oor of op die silwerdoek.
Storievertellers is wesens so oud soos die berge. As dit goed is wat nie uiteindelik geboekstaaf word nie, word gewonder hoekom die stories dan vertel word.
Oorle’ vriend Jan Spies was self ’n skrywer. Ek haal een van sy strofes vir jong verslaggewers aan: “Elke joernalis het ’n roman in sy hart. Hou dit net daar.”
Oor die eerste boekies kom daar ’n paar eenderse antwoorde soos Sus en Daan, die Silwerblarereeks, Boela van die Blouwaters en Trompie.
En selwers in die grootwordjare? Ek gaan boekrak toe. Dis tyd vir Thomas Hardy en Ernest Hemmingway en die snare so tussen al die Deon Meyers deur.
Die Bybel lê neffens die kopkussing.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie