Sondes van die verlede
Augetto Graig – Daar gebeur grusame dinge in dié land, dinge wat mens diep kan aanraak en seermaak.
Die nuus is dikwels hartseer en teleurstellend. Ek wonder soms of die verklaring hiervoor nie iets dieper is nie, iets agter die onverstaanbare optrede teenoor mekaar wat mens in Namibië te dikwels mee te doen kry.
Wat ek weet van sielkunde dui aan ’n mens moet jou verlede opreg aanskou, aanvaar en mee vrede maak, voor jy die herhaling daarvan in jou toekoms kan voorkom.
Ek dink dieselfde benadering kan ook tot ’n nasie toegepas word.
Ons nasie het ’n duister verlede, vol geweld en haatlike optrede teenoor mekaar en andere. Toe ons eers hierheen kom, was daar reeds mense hier. Hulle was vriendelik, mededeelsaam en gasvry. Hulle het ons deur moerasse gelei, gewys hoe deurkruis mens die woestyn, geneem na suiwer waterbronne, gewys hoe mooi hierdie ongenaakbare wêreld kan wees.
Maar hulle was swakkelinge, hulle was sonder langbroeke of toe skoene; hulle het nie bees aangehou of mielie gesaai nie.
Ons het hulle oorheers, misbruik, verkrag, uitgeroei en van slawe gemaak.
Daar is geen groep mense in hierdie land wat onskuldig is nie. Tot vandag is die San mense in Namibië onderdanig. Ons nasie het nog nooit ons misdade teenoor hulle erken nie. Ons het nog nooit hul bydrae tot ons oorlewing in hierdie plek tussen woestyne vergoed nie. Ons behandel hierdie mense steeds met minagting.
Hierdie seer is so diep, dit het tot in die grond gesink. Dit lê in ons noodsaaklike ondergrondse waterbronne; dit word deur wortels van gras en boom opgesuig, word deur vee en wild opgeëet; dit het deur blare die lug in verdamp.
Die bloed wat ons vryheid water gee, loop al eeue.
Die wond is so diep gebêre dat ons nie eens daarvan bewus is nie, maar hy bloei steeds nietemin. Hoe vra ’n mens vergifnis vir iets wat jy nie eens erken nie? Hoe vergewe mens in so ’n geval jouself?
Sedert die begin het elke groep wat hierheen gekom het hierdie aakligheid tot een of die ander mate herhaal, en elk het hulself oortuig dat dit regverdig was. Ons knou nou nog die swakstes af, sluit diegene wat anders lewe uit; sny dié af vir wie ons die nodigste het.
Volgens sielkunde is dit onvermydelik. Die monster binne sal altyd weer sy kop uitsteek. Die wiel draai en ons kom weer terug na die waarheid: Ons is die probleem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie