Sonder stene word Uis 'n broodlose dorp
Des Erasmus
Vir 'n geskatte 2 000 afhanklikes van die unieke steenbedryf op Uis gaan die brood van hul tafels verdwyn wanneer gedwonge isolasie Namclay se aanleg sluit.
Mnr. Albert Weitz van die aanleg sê onrybare paaie verhoed die vervaardigers van dié boumateriaal om hul afsetgebiede te bereik.
“Die toestand van die grondpaaie om Uis is so sleg dat Namclay uiteindelik geen ander uitweg het nie,” het Weitz aan Republikein gesê. Volgens hom is toerisme na die wondere van Damaraland en Kaokoland nog 'n verloorder met veral herberge op die dorp wat met 'n afname in besoekers sukkel terwyl die bedryf in die res van die land floreer.
“Ons sit reeds met leweransiers van vars produkte wat Uis as gevolg van die slegte paaie nie meer gereeld bedien nie. Na plekke soos Hentiesbaai en Omaruru kan nie meer gery word nie en inwoners is op hulself aangewese. Uiteindelik gaan Uis weer 'n spookdorp word as dit so aangaan,” sê Weitz.
Die belangrikste roetes wat hy as onrybaar bestempel, is van Uis na Hentiesbaai, Khorixas en Omaruru. “Een van ons afleweringslorries met 'n dravermoë van 34 ton sukkel langer as vier uur om die 116 km tot op Omaruru af te lê. Daar word teen 'n gemiddelde spoed van 30 km/h aangekruie.
“Deur die driwwe en oor die optes en aftes breek baie van die stene as gevolg van die stampe en die stote. Dit veroorsaak weer probleme wanneer uiteindelik deurgedring word en die vragte afgelewer word. Vir stukkende stene word nie betaal nie. Op die paaie is daar ook vele ander kostes soos bande wat stukkend gestamp word.”
Karweiers
Benewens eie vervoer het Namclay ook van karweiers gebruik gemaak om die vragte te dra. Die mense sien nie meer kans om met hul groot lorries op die paaie te ry nie. Volgens hom is aanvanklik selfs skriftelik met die owerhede van die paaie geskakel om weer 'n padskraper in sig te kry. Dit het niks gehelp nie.
“Nou probeer ons om telefonies die probleem oor te dra, maar die oproepe word nie eens beantwoord nie. Wanneer dit wel gebeur, is die regte persoon feitlik nooit beskikbaar nie. Die elektroniese media word ook gebruik om die probleme op te los, maar steeds gebeur niks nie.”
Volgens hom volg talle toeriste nou al ander roetes om in Damaraland, Kaokoland en die Etosha Nasionale Park te kom. As voorbeeld het hy die teerpaaie genoem wat Omaruru met Windhoek en die kusdorpe verbind. Van Omaruru af word alternatiewe roetes dan gevolg.
Die stene van Namclay is bra uniek. Die grondstof is die ou mynhope uit die dae toe Uis 'n florerende myndorp was. Die gebruik van die sterk sierstene skakel die instandhouding van mure uit. Die gewildheid van die stene is sodanig dat afset al deur grootmaatverskaffers in buurlande gekry is.
Weitz sê Namclay se arbeidsmag wissel, maar hy meen tot 2 000 mense kan van die inkomste van die werkers van Uis se grootste nyweraar afhanklik wees. Normale produksie beloop sowat 1,2 miljoen stene per maand.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie