Sonde met die bure
Gerine Hoff
Jammer almal, ek moet my eerste rubriek van die jaar met ’n moan begin.
Soos die opskrif sê, gaan dit oor pyne met die bure. Dit is nie noodwendig die man/vrou/familie wat direk langs jou bly nie, maar ander inwoners van jou straat.
Dit gaan nou juis oor daai man/vrou/familie in jou straat wat eenvoudig die vermoë het om jou gek te maak, tot raserny te dryf.
Dis die man wat met sy company branded-kar die straat op en af jaag. Dit nogal in ’n doodloopstraat waar daar klein kinders is wat nog leer fietsry en gesinne vroegoggend en saans gaan stap.
Dis die mense wat getuig van hoe lief hulle hul viervoetige troeteldiere het, maar oor langnaweke en vakansies dieselfde geliefde troeteldiere by die huis los om nagte deur te huil van verlange na hul ounooi/oubaas, of die kat wat elke nagte in jou agterplaas luidkeels na ’n maat soek.
Dis die familie wat heel duidelik nog nie geleer het hoe om hulle rommel in die asdrom binne die erf te gooi nie, maar dit op die sypaadjie laat lê totdat iemand anders dit optel.
Dis die man wat verblindende sekuriteitsligte rondom sy huis aanbring – terwyl dit jou verblind – maar eintlik die pad mooi ophelder vir die dief in die nag. En dan vir jou sê jy moet dikker gordyne koop.
Dis die party animals wat minstens een keer per maand tot drieuur soggens makietie dat hulle dak – en die bure se vensters – dreun. Maak nie saak hoeveel keer die stadspolisie al ontbied is nie, kom die einde van die maand, maak hulle wéér so. Curfew of te not.
Dis dié wie se alarm al op dag een van ’n langnaweek of vakansie begin loei, maar nie aan ’n gewapende reaksie-eenheid gekoppel is nie. Dus skree die alarm aanhoudend; en die vriend wat na die huis moet omsien, is net skoonveld.
As jou bure ’n sportklub is waar daar in die goeie ou dae voor Covid konserte gehou is, hoef ek nie eens die frustrasie te beskryf van mense wat voor jou ingang parkeer nie. Van die doef-doef wat die vloer onder jou voete laat vibreer; of van partytjiegangers wat ounag voor jou huis kom lawaai terwyl hulle (uiteindelik) op pad is huis toe.
Elkeen van julle moes al een of ander tyd een van hierdie “bedagsame” bure ervaar het, want ek glo stellig daar is nie ’n straat in die wêreld wat nie sulke bure het nie.
Wat is dit met mense dat hulle geen respek vir mekaar het en glad nie aan die mense rondom hulle dink nie?
Hoe teleurstellend is dit nie.
Tog is daar gelukkig ook bure wat werklik wonderlik is. Die waarmee jy lekker oor die heining kan klets, met wie jy saam kan braai en lift clubs reël. Met wie jy op ’n Sondagmiddag kan koffie en koek, met wie se kinders joune kan speel, en op wie se knoppie jy kan druk vir ’n koppie suiker.
Maak ons huishouding ons bure mal?
Waarskynlik.
Maar gelukkig was dit nog nie nodig om die polisie daaroor te bel nie!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie