Soektog na oorlewendes nu00e1 aardbewing
Soektog na oorlewendes nu00e1 aardbewing

Soektog na oorlewendes ná aardbewing

Tientalle mense is dood, dorpe is vernietig en duisende mense is gestrand ná Sondag se aardbewing van 6,9.
Reddingswerkers en militêre personeel van Indonesië het hul soektog na oorlewendes hervat en Dinsdag nog slagoffers op die toeriste-eiland Lombok ontruim.

Tientalle mense is dood, dorpe is vernietig en duisende mense is gestrand ná Sondag se aardbewing van 6,9.

Twee mense is op die naburige eiland Bali dood wat die dodetal op 98 te staan bring.

Amptenare verwag dat die dodetal verder sal styg.

Sutopo Purwo Nugroho, woordvoerder van die Nasionale Rampbestuursagentskap (BNBP), sê op Twitter dat reddingswerkers die puin fynkam opsoek na oorlewendes.

In ’n afsonderlike verklaring sê die BNBP probleme word ondervind in die noordelike dele van Lombok wat die ergste getref is.

Brûe ineengestort

Nugroho het Maandag op ’n nuuskonferensie gesê dat sommige gebiede afgesny is nadat brûe ineengestort het.

Riduan, ’n 45-jarige man wie se huis in Karangkauhan op Lombok gedeeltelik vernietig is, sê hy het tot dusver geen hulp ontvang nie en moes self kos koop.

“Ons kry niks,” sê hy terwyl hy dokumente in sy huis probeer red het.

Sowat 230 naskokke is Dinsdagoggend aangeteken, het Indonesië se meteorologie en geofisika-agentskap bekendgemaak.

Op 29 Julie is Lombok ook deur ’n aardbewing van 6,4 getref. Sewentien mense is in dié aardbewing dood.

Toeriste het Dinsdag nog Lombok verlaat, en sommige mense is gesien hoe hulle in militêre busse ry terwyl ander veerbote na Bali in die weste van Lombok geneem het.

Amptenare sê meer as 2 000 mense is op die drie Gili-eilande ontruim weens kommer oor ’n tsoenami.

Dit is nie duidelik hoeveel toeriste op die eilande was nie. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer