So lyk arbeid in Namibiu00eb
So lyk arbeid in Namibiu00eb

So lyk arbeid in Namibië

Die permanente sekretaris van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping gesels oor die toedrag van sake en vooruitsigte.
Augetto Graig
Augetto Graig – Namibië se permanente sekretaris van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, is lank reeds daartoe verbind om die lot van die land se werkers te verbeter.

In die lig van Werkersdag wat môre wêreldwyd gevier word, het hy 'n blik gewerp op die vordering in dié stryd.

As hy die hele Namibiese werksmag as een mens moes beskryf, sou daardie persoon fiks en opreg wees, en betrokke by ekonomiese groei asook die opbou van Namibië, sê Shinguadja.

Volgens hom is arbeidsverhoudinge in Namibië oor die algemeen stabiel.

Hy sê arbeidsverhoudinge is hanteerbaar maar ook kwesbaar as dit nie reg hanteer word nie. “Dit is tans onder die goeie arbeidsverhoudinge in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-streek.”

Wat betref vakbondverteenwoordiging in Namibië en die probleme wat daarmee ervaar word, sê hy daar is uitdagings. Een so 'n voorbeeld is werkgewers wat vryheid van assosiasie teenstaan.

“Werknemers word soms verhoed om by vakbonde aan te sluit. Vakbonde het ook nie die kapasiteit om in gesofistikeerde onderhandelinge met ryk en goedtoegeruste werkgewers mee te ding,” sê hy.

Ander uitdagings sluit in lae vlakke van vakbondverteenwoordiging in werksplekke, binnegevegte tussen vakbonde, lae salarisse en 'n tekort aan wye dekking ten opsigte van sosiale beskerming.

Namibië worstel ook met werkloosheid.

“Dit is 'n groot en kommerwekkende probleem wat 'n groot verskeidenheid van werklose mense raak.

Dit sluit in mense sonder vaardighede, mense met beperkte, basiese opvoeding maar geen vaardighede nie, mense met goeie akademiese kwalifikasies maar geen ervaring nie, en mense met vaardighede en ervaring maar wat die nywerheid nie tans nodig het nie,” het Shinguadja gesê.

Volgens die permanente sekretaris ondersoek die ministerie verskeie opsies om die situasie te verbeter. Op kort termyn help die ministerie om werksgeleenthede te kry vir enige iemand wat onmiddellik werk soek, het hy gesê.

Op lang termyn poog die ministerie toekomstige werksgeleenthede voorspel, wie die werkers nodig gaan kry, wanneer, in watter nywerheid en hoeveel werksgeleenthede daar is. Opleidingsinstansies word dan aangeraai om hul kursusse daarop te fokus en opleiding daarby aan te pas.

“Werkskepping en om werksgeleenthede op te spoor is nie net een ministerie se verantwoordelikheid nie, maar liewer 'n multisektorale poging in 'n goed gekoördineerde benadering met een enkele doelwit: Om 'n werk te vind of een te skep.”

Volgens Shinguadja is daar ekonomiese sektore in Namibië waar werksgeleenthede onmiddellik geskep kan word. Dit sluit onder meer in landbou en die waardeketting van landbouprodukte, versorging, inligting en kommunikasietegnologie, die gasvryheidsbedryf, logistiek, vervoer en dienslewering.

“Die ministerie se prioriteit is om die werkskeppingpogings aggressief te koördineer,” sê hy. Daaarbenewens wil die ministerie die land se arbeidsverhoudinge te alle tye stabiel hou, die werksomstandighede van indiensneming verbeter deur die uitvoerbaarheid van 'n nasionale minimumloon te ondersoek, en steeds nakoming en handhawing van die landswette versnel.

Die ministerie wil ook die stig van 'n Nasionale Pensioenfonds vir werkende mense in Namibië versnel, en 'n vaardigheidsoudit doen. Dit wil ook 'n kultuur van produktiwiteit bevorder vir beter dienslering.

Shinguadja se boodskap aan Namibiese werkers is: “Doen alles wat jy wetlik verplig is om te doen met die vereiste vermoëns, toewyding en kennis. Wees te alle tye gedissiplineerd, en produktief. Ken jou regte en dring sonder vrees daarop aan, aangesien dit deur die Grondwet verseker is."

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer