So het Paul Allen die wu00eareld verander
So het Paul Allen die wu00eareld verander

So het Paul Allen die wêreld verander

Petrus Malherbe – Paul Allen, miljardêr, filantroop, navorser, programmeerder, sportliefhebber en medestigter van Microsoft, is Maandag in die ouderdom van 65 jaar dood.

Hy is dood weens komplikasies met nie-Hodgkin-limfoom, het sy familie in ’n verklaring gesê.

Dié siekte, ’n vorm van bloedkanker, was jare lank in remissie, maar Allen het vroeër vandeesmaand bekend gemaak dat hy weer daarvoor behandel word.

Allen het juis Microsoft, die maatskappy wat hy saam met sy skoolvriend Bill Gates in 1975 begin het, se dag-tot-dag-bedrywighede in 1983 verlaat om kankerbehandeling te kry.

Hy het tot 2000 op Microsoft se direksie gedien.

Allen was ten tyde van sy dood meer as $26 miljard werd, wat hom een van die rykste mense op aarde gemaak het.

“My hart is gebreek deur die afsterwe van een van my oudste en beste vriende,” sê Gates in ’n verklaring.

Satya Nadella, uitvoerende hoof van Microsoft, sê Allen “het die wêreld verander”.

Medelye van oraloor het ingestroom. Tim Cook, uitvoerende hoof van Apple, het getwiet die bedryf het ’n pionier verloor. Die musikant Quincy Jones het Allen as ’n bobaas-kitaarspeler beskryf en gesê sy goedheid, vrygewigheid en genialiteit sal altyd onthou word.

Paul Gardner Allen is op 21 Januarie 1953 in Seattle in die Amerikaanse deelstaat Washington gebore. Sy pa, Kenneth, het in ’n universiteitsbiblioteek gewerk; sy ma, Faye, was ’n onderwyser.

Allen en Gates het mekaar op skool ontmoet en saam ’n belangstelling in rekenaars ontwikkel; tegnologie wat in daardie stadium nog ’n nuutjie was.

Allen het in 1975 met die maatskappy se naam, Micro-Soft, vorendag gekom. ’n Gepaste naam in die lig daarvan dat hy en Gates programmatuur ontwikkel het vir klein, persoonlike rekenaars.

Volgens Laura Rich, skrywer van The Accidental Zillionaire, ’n biografie van Allen, was hy die slimkop terwyl Gates meer op bemarking gefokus het.

Allen was tot 2000 deel van Microsoft se strategiese span om nuwe produkte te ontwikkel.

In sy memoire, wat in 2011 verskyn het, het Allen gesuggereer dat hy nie genoeg erkenning gekry het vir Microsoft se sukses nie.

Hy het ook vertel hoe Gates probeer het om sy aandele in Microsoft in 1983 vir “net $5 per aandeel” te koop. Gates het Allen se teenaanbod van $10 per aandeel van die hand gewys. Allen beskryf dit as “blote geluk” dat Gates geweier het, aangesien hy miljarde dollars sou verloor het indien hy sy aandele in 1983 verkoop het.

Microsoft se aandeelprys het Dinsdag meer as $107 beloop vir ’n totale markwaarde van $825 miljard.

Ander belangstellings, beleggings

Nadat Allen Microsoft in 1983 om gesondheidsredes verlaat het, het hy die beleggingsmaatskappy Vulcan in 1986 gestig.

Vulcan het oor die jare belê in verskeie maatskappye en sektore, waaronder kuns, kultuur, ruimtereise en professionele sport.

Buiten sport het Allen belê in verskeie telekommunikasiemaatskappye, waaronder Ticketmaster (’n Amerikaanse weergawe van Computicket) en Charter Communication, wat kabeldienste verskaf.

Vulcan besit ook ’n beduidende belang in Seattle se Museum van Popkultuur, wat deur Allen gestig is, sowel as verskeie ander eiendomsontwikkelings in en om dié stad, waarin Allen grootgeword het.

In 2004 het Allen $25 miljoen belê in ’n eksperimentele ruimtetuig genaamd SpaceShipOne vir die bevordering van ruimtetoerisme.

Filantropiese bydraes

In sy leeftyd het Allen meer as $2 miljard gegee aan verskeie organisasies sonder winsbejag vir die bevordering van die wetenskap, tegnologie, opvoeding, die omgewing en die kunste.

Hy het onder meer die Allen Institute for Brain Science gefinansier sowel as die Allen Institute for Artificial Intelligence.

Allen was ook passievol oor die bekamping van olifant- en renosterstropery. Die filantroop het meer as $7 miljoen geskenk vir ’n opname van olifantgetalle in Afrika.

Vulcan het ook belê in tegnologie soos EarthRanger om renosterstropery in Tanzanië te bekamp.

Allen het ook in 2014 minstens $100 miljoen belê in die stryd teen die Ebola-virus wat soos ’n veldbrand in Wes-Afrika versprei het. Hy het ook geld geskenk vir navorsing oor die Zika-virus wat veral in Suid-Amerika veroorsaak dat babas met misvormde koppe gebore word.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 1 vs 0 Getafe | Real Sociedad 1 vs 0 Valencia | Almería 0 vs 2 Barcelona | Las Palmas 2 vs 2 Real Betis SerieA: Torino 3 vs 1 AC Milan | Lecce 0 vs 2 Atalanta | Fiorentina 2 vs 2 Napoli European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City English Championship: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City Katima Mulilo: 11° | 31° Rundu: 9° | 30° Eenhana: 11° | 31° Oshakati: 12° | 31° Ruacana: 12° | 31° Tsumeb: 13° | 29° Otjiwarongo: 12° | 27° Omaruru: 14° | 29° Windhoek: 12° | 26° Gobabis: 13° | 27° Henties Bay: 20° | 36° Wind speed: 27km/h, Wind direction: E, Low tide: 07:06, High tide: 13:28, Low Tide: 19:06, High tide: 01:31 Swakopmund: 20° | 26° Wind speed: 25km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:04, High tide: 13:26, Low Tide: 19:04, High tide: 01:29 Walvis Bay: 22° | 33° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SE, Low tide: 07:04, High tide: 13:25, Low Tide: 19:04, High tide: 01:28 Rehoboth: 12° | 27° Mariental: 15° | 29° Keetmanshoop: 18° | 30° Aranos: 15° | 29° Lüderitz: 16° | 35° Ariamsvlei: 18° | 32° Oranjemund: 13° | 33° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 11° | 26° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 8° | 24° Antananarivo: 15° | 22° Lilongwe: 13° | 26° Maputo: 20° | 27° Windhoek: 12° | 26° Cape Town: 14° | 21° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 15° | 24° Dar es Salaam: 24° | 32° Lusaka: 13° | 25° Harare: 12° | 26° #N/A #N/A