• Tuisblad
  • Sake
  • Snow brou dalk ook vir wêreld se top-bierdrinkers
Snow brou dalk ook vir wu00eareld se top-bierdrinkers
Snow brou dalk ook vir wu00eareld se top-bierdrinkers

Snow brou dalk ook vir wêreld se top-bierdrinkers

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - Die samesmelting tussen Anheuser-Busch InBev (AB InBev) en SABMiller is besig om die hele bierlandskap wêreldwyd te verander.
China Resources Beer, wat Snow-bier – die wêreld se topverkoper, al word dit net in Asië verkoop – vervaardig, oorweeg dit nou glo om SABMiller se brouerye in Suid- en Oos-Europa te koop.
China Resources was SABMiller se vennoot in China, maar dié vennootskap het gesneuwel om mededingingsowerhede se goedkeuring te kry vir die verkryging van SABMiller deur AB InBev.
Die brouerye in Hongarye, Tsjeggië en Slowakye word ook verkoop as deel van dié enorme samesmelting. Die brouerye, wat onder meer Pilsner Urquell brou, is nagenoeg US$6 miljard werd.
Dié verkoopsproses sal na verneem word eers plaasvind nadat AB InBev se verkryging van SABMiller voltrek is. Aandeelhouers van die twee firmas stem op onderskeidelik 26 en 28 September daaroor, maar dit sal ’n groot verrassing wees indien die transaksie voor dié laaste hekkie struikel.
Die meeste groot aandeelhouers van SABMiller het reeds hul steun daaraan toegesê. Die twee heel grootste aandeelhouers – Altria en BevCo, wat altesame nagenoeg 41% van SABMiller besit – stem afsonderlik van ander aandeelhouers.
Die transaksie sal na verwagting op 10 Oktober voltrek word. SABMiller se laaste dag van verhandeling op die JSE sal na verwagting reeds 29 September wees.
Ander maatskappye wat belang stel om die Europese belange te koop, sluit glo in Japan se Asahi, die Switserse beleggingsbeheerfirma Jacobs Holding, Pole se Kulczyk Investments en die Europese private-ekwiteitsfirma CVC Capital Partners.
Asahi het reeds die Europese biere Peroni, Grolsch en Meantime vir nagenoeg US$2,9 miljard gekoop.
Die Suid- en Oos-Europese mark sluit van die wêreld se grootste bierdrinkers per capita in, maar dis ’n baie mededingende mark.
China Resources het in Maart ingestem om SABMiller se belang in Snow vir US$1,6 miljard te koop. - Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2026-07-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer