Snelweë vorder
Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, en die adjunkminister van ekonomiese beplanning, mnr. Pieter van die Walt, het gister die Paaieowerheid se massiewe padbouprojekte besoek. Dié nuwe paaie strek vanaf Windhoek na Okahandja, en vanaf die hoofstad na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako. Ná die dag lange besigtiging van die twee yslike projekte het Mutorwa gesê hy én die regering is gelukkig met die vordering daarvan, ondanks vertragings wat onder meer deur die huidige ekonomiese situasie veroorsaak is. Hier verduidelik die tegniese direkteur van die projekte, mnr. Jerobiam Bongwi van VKE Consulting Engineers, vir die twee kabinetslede en mnr. Conrad Lutombi, uitvoerende hoof van die Paaieowerheid, asook ander betrokke beamptes die doel van een van die talle brûe wat deel vorm van die projekte. Omdat die eiland tussen die dubbelbane toegebou sal word, gaan die brug die enigste omdraaikans vir kilometers verskaf. Afdeling 4A van die pad na Okahandja, wat 27 km behels, sal na verwagtinge teen einde Augustus of in September voltooi wees, volgens Lutombi. Die begroting vir 4B, die volgende 21 km-deel, word tans opgestel. Daarna sal die tenderproses by die Sentrale Verkrygingsraad begin. Die eerste fase van die verlenging van die pad wat uiteindelik vanaf Windhoek na die internasionale lughawe gaan strek, sal na verwagting teen die einde van November 2019 voltooi wees. Foto Augetto Graig
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie