Snelweë vorder teen slakkepas

Talle vertragings belemmer projekte

15 March 2019 | Infrastruktuur
Die ikoniese Namibiese ervaring van die 'langpad' wat in 'n enkelbaan oor die heuwels op die horison afpyl, se dae is getel.

Op dieselfde horison wag wye paaie met dubbelbane waarop langafstandlorries met gemak verbygesteek kan word, en wat ekonomiese lewensbloed die plaaslike landerye van die uitgestrekte Namibië sal laat invloei. So 'n vergroting van are is nie goedkoop of maklik nie - en dit sloer.

Die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, het die padwerke aan die kus vandeesweek besoek, waar die MR44 agter die duine tussen Swakopmund en Walvisbaai, en die C34 tussen Swakopmund en Hentiesbaai stadig vorder. Die pad na Hentiesbaai behoort vanjaar voltooi te word, terwyl 'n verdere stuk, wat die Omaruru-brug insluit, teen 2020 klaar sal wees. Die miljarddollar- vierbaansnelweg tussen Swakopmund en Walvisbaai sluit vier kruisings in en sal langer duur om te voltooi.

“Die uitdaging in Namibië is die groot afstande tussen dorpe, wat dit baie duur maak om hulle met die padnetwerk te verbind, maar dit moet gedoen word,” het Mutorwa gesê.

Van sonop tot ná sononder wemel die pad van Windhoek af Noorde toe, met talle pendelaars wat daagliks die roete tussen Okahandja en die hoofstad gebruik. Op die skouers stap die padwerkers wat elke dag vir ure in die hitte dié belangrike pad vergroot. Werkers van kontrakteurs en subkontrakteurs, yslike voertuie en massiewe toerusting word ingespan om die landskap te verander. Mutorwa was verlede week ook op toer om die vordering van padwerke tussen Windhoek en Okahandja, asook dié aan die alternatiewe roete tussen die hoofstad en die Internasionale Lughawe Hosea Kutako te besigtig.

Volgens die minister sal dié snelweë Namibië beter verbind met buurlande, padveiligheid bevorder, en ­binnelandse reis vergemaklik. Mutorwa sê hy en die regering is tevrede met die vordering aan die twee massiewe padwerkkontrakte toegewys deur die nasionale Paaieowerheid (RA).

“Ons is gelukkig, en ook seker die vertragings is as gevolg van geregverdige redes. Vordering word hier gemaak.”



Van Windhoek noordwaarts

Mnr. Conrad Lutombi, hoofbeampte van die RA, het oor die Windhoek-Okahandja-pad uitgewei en verduidelik die gedeelte uit die hoofstad is in twee gedeel.

Die eerste deel, 4A, is 27 km lank en volgens hom amper voltooi. Lutombi verwag dié werk sal teen einde Augustus of in September 2019 afgehandel wees. Die bestaande pad word sedert Januarie 2016 stuk-stuk vervang.

Deel 4A strek tot by die Omakunderivier en kort daarna sal deel 4B 'n nuwe rigting na Okahandja volg. Dit sal die verkeer ­vinniger bring by die aansluiting na Gross Barmen, asook dit makliker maak om deur die dorp die pad na Otjiwarongo te bereik, sê Lutombi.

Die massaprojek behels ook Deel 1 van 6 km tussen Mandume Ndemufayolaan en Sam Nujomarylaan, waarmee nog nie begin is nie. Deel 2, wat 15 km van Sam Nujomarylaan tot by Brakwater beslaan, verg rehabilitasie van die pad en versterking van die padskouer.

Deel 3 is in Desember 2016 voltooi en verkeer maak reeds van die 10 km tussen Brakwater en die Okapukarivier gebruik. Massaprojekte word so opgedeel om meer kontrakteurs en subkontrakteurs se deelname toe te laat, en onmiddellike koste te beperk, sê Lutombi.



Stadig nou

Alhoewel die hele Windhoek-Okahandja-­pad volgens die Harambee-welvaartplan teen 2020 voltooi sou word, sê die RA die finale deel sal moontlik eers teen 2022 of 2023 klaar gebou wees, mits dié werk reeds vanjaar begin.

Die begroting vir die uitstaande 21 km-deel word opgestel voor die tender, wat in ooreenstemming met die nuwe verkrygingswet geadverteer sal word, volgens Lutombi.

“Toe ek by die ministerie van werke en vervoer aangesluit het, was die ­algemene siening, veral van die RA, om dieselfde kontrakteur te gebruik. Gemeet aan die vereistes van die wet, is ons oortuig die volgende deel moet geadverteer word. As dit jare neem, sal dit 'n geweldige vertraging wees, maar Namibië is 'n land wat ingevolge wet regeer word,” sê die minister.

Mutorwa het uitgewei oor die noodsaaklikheid daarvan. “Eers het ons die tenderraad gehad, maar daar was baie klagtes, waarvan sommige ook geregverdig. Die raad is byvoorbeeld uit net hoë regeringsbeamptes soos uitvoerende direkteurs saamgestel. Toe kom die nuwe verkrygingswet, daarop gemik om voorspoed te vergemaklik, nie te belemmer nie,” sê hy.

“Ons wil deursigtig wees en verseker die suksesvolle kontrakteur word aan­gestel om die 21 km-pad te bou,” sê die minister. Hy sê die toekenningsproses sal versnel word.

Mutorwa het ook gesels oor die toekenning van groot bouprojekte aan veral Chinese en ander buitelandse maatskappye, die kernoorsaak van 'n werkersoptog vroeër die maand. Hy sê die regering se beleid ondersteun die oordrag van vaardighede, en verseker werk wat Namibiërs kan doen, word deur burgers uitgevoer.

“Dit word nie beperk tot klein werkies nie,” sê hy.

“Met betrekking tot die optog moet ons toekennings deursigtig wees, ongeag ­leningsvereistes, waaroor geen kompromie kan wees nie. Namibiërs moet deelneem waar hulle kwalifiseer. Namibië is nie teen buitelanders nie. Ook maak die bepalings van die wet voorsiening sodat die ongelukkiges by die appèlraad kan ­appelleer,” sê Mutorwa.

“Die regering sal onverbiddelik die ontwikkeling van al die ekonomiese sektore van die land volhou - vir die huidige ­generasie en dié wat volg,” sê hy.

Lutombi het oor die Okahandja-pad gesê “dit is 'n reusepad. Otesa en ander konsultante is betrokke by die bou daarvan. Die tender hiervoor is nie daarop gemik om Namibiërs uit te sluit nie. Die RA het 'n sterk beleid om Namibiërs te bevorder, en wat ten gunste van klein- en mediumondernemings is.

“Dít is 'n gesamentlike onderneming tussen 'n Namibiese maatskappy en sy internasionale vennoot (die Italiaanse boumaatskappy CMC). Daar is meer as 500 Namibiese werkers betrokke, en meer as 13 klein- en mediumondernemings, asook subkontrakteurs besig,” sê hy. “Sowat 83% van alle uitgawes word hier (in Namibië) bestee,” sê Lutombi.



Na die lughawe

Wat betref vordering van die pad uit Windhoek na die internasionale lughawe het die hoofingenieur, VKE Consulting Engineers se mnr. Hendrik Kotze, aan Mutorwa gesê fase 1 behoort teen die einde van November 2019 voltooi te wees.

Die ontwikkeling, bekend as Hoofweg 9/1, is tans 6,5 km lank en strek van die westelike verbypad se verkeersirkel tot by Sam Nujomarylaan, wat uiteindelik 'n nuwe dubbelbaansnelweg van 10 km sal wees. Die kontrak, ter waarde van N$798,6 miljoen, is aan die China Railway Seven-groep en die Namibiese vennoot Onamangongwa Trading Enterprises toegeken. Konstruksiewerk het in Januarie 2016 begin en sou in Januarie vanjaar voltooi word.

Kotze sê die kontrakteurs het onlangs aansoek gedoen om die kontrak tot ­November te verleng. Hul plan is om 'n ­enkelbaanverbinding direk na Nelson Mandelarylaan te bou, wat vinniger gebruik van die nuwe pad moontlik sal maak. Die res van die projek bestaan uit twee fases: 2A van Sam Nujomarylaan na Dordabis wat oor 19,5 km strek, en 2B wat die 21,5 km van Dordabis na die lughawe behels.

Volgens Mutorwa is 'n alternatiewe roete na die lughawe nodig weens woonbuurtontwikkeling langs die bestaande pad, wat inbreuk maak op die funksie van die lughawepad as 'n korridor vir uitermate druk verkeer.

- Bykomende beriggewing Erwin Leuschner

Soortgelyk

 

Oshakati council relocating residents to Onawa

14 ure gelede | Infrastruktuur

OSHAKATI – Residents of the Eemwandi informal settlement at Oshakati will be relocated to Onawa as from 01 May this year.The Oshakati Town Council is...

Geen grond vir buitelanders, sê AR

14 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – As die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) hul sin kry, sal geen grond voortaan in ’n buitelander se besit wees nie.Trouens, sê die AR,...

ECN staan bakhand vir nog N$300 m

14 ure gelede | Ministeries

Denver Kisting – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) sê hy benodig bykomend meer as N$300 miljoen vir vanjaar se Nasionale Vergadering- en presidensiële verkiesing.Mnr. Theo...

Hartediefies haak af

14 ure gelede | In beeld

Die unieke paar, me. Juanita van Vuuren (28) en mnr. Gert Muller (37), wat Namibiërs se harte met hul mooi liefdesverhaal gesteel het, het Saterdag...

Weer vir 25 Maart 2018

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met enkele tot geïsoleerde donderbuie oor die Noordweste, sentrale hoogland en suidoostelike gebiede.KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Erken die volksmood, sê Duitse Linkse Party

14 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - 'n Lid van die Duitse Bundestag se Linkse Party, me. Helin Evrim Sommer, sê die Duitse volksmoord teen die Ovaherero’s en Namas...

Rössing-pensioenfonds wil begunstigdes betaal

14 ure gelede | Arbeid

Augetto Graig - Die Rössing-pensioenfonds het die spertyd vir oudwerknemers van die uraanmyn tot 30 Junie vanjaar verleng om aansoek vir ’n deel van surplusuitbetalings...

Gesondheidsminister oor uitdagings

14 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht - Dr. Kalumbi Shangula is sedert Desember verlede jaar die minister aan die stuur van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS). In ‘n onderhoud...

NAC: N$9 m om hoës te dissiplineer

14 ure gelede | Arbeid

Ogone Tlhage - Haar dissiplinêre verhoor was partydig, sê me. Toska Sem, hoof van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) se kommersiële dienste.Dit het ook aan die...