SMN: Die vrede van die Namib
Vir baie mense is die Namib net ‘n naweek se kuier. ‘n Vinnige foto van die rooi duine en dalk ‘n stop vir ‘n lafenis iewers. Besoekers sê dis mooi, maar te warm.
Ander sê weer dis bar en leeg. . . Maar vir ons kinders van die Namib, gebore en getoë in die geweste is dit anders. Die Namib is deel van ons DNA, vermeng met moedersmelk het ons die wêreld se sand, hitte en oop grasvlaktes ingeneem om vir altyd vlak in ons wese te lê.
Praat ons Namib-kinders met mekaar, is dit met groot heimwee en verlange na die dae toe ons nog kaalvoet en sorgeloos op ons ouers se plase agter op ‘n bakkie kon ry, met ‘n kettie om die nek kon loop, soggens help melk, gemsbokkomkommers geëet, en duwweltjies platgetrap het.
Ek onthou die reëns, die reuk van nat grond en gras. Die winterjagtogte, die maak van biltong en dröewors. Die lui van die plaastelefoon. Ook die dae wat ek op my dikwielfiets die veld kon inry met die middagson op sy velste roer niks nie.
Behalwe hier waar ek by die veepos onder ‘n groot kameelboom lê. Die reuse-versamelvoëlnes is ‘n miernes van bedrywigheid soos die nannetjiegou's in en uit hul sosiale paleis vlieg.
Hul vrolike gekwetter meng met die “geklak-klak” van die windpomp wat stadig draai om die groot sementdam vol te hou.’n Ent verder lê pa se rooibees rustig met kallers onder ‘n klompie kameelbome en herkou.
Die helder blou lig, getooi deur los wolkies met tallose figure gee my verbeelding speelplek waarheen ek verdwyn.
Ek hoor weer die bobbejane se geblaf van die berg se kant af, natuurlik vies dat ek in hul pad by die water is. Ek staan op en stap na die dam om van die soet water te drink wat so pas 600 voet uit die aarde se maag gesuig is.
Die heuningbye drink saam by die pyp se bek en ek moet versigtig wees om nie weer met ‘n dik geswelde lip by die huis aan te kom nie. By die krip lê koedoe- en steenbokmis vermeng met die spore van talle nagdiere wat lafenis kom soek het.
Laat namiddag sak die son sag agter die berge en tooi die landskap in sagte pienk. Sommer gou begin die geitjies mekaar met hul tjik-tjik-tjik te roep. Die tarentale kom van die kraal se kant af met ‘n getjaaaaarrr tjak-tjak en vlieg op in die hoë kameelboom vir die nag se slaap.
Met die son in sy rusplek koel die Namib vinnig af en die sonbesies se skril tjeeeee raak stil. Dis aand en die Namib slaap. Ek lê op die grasperk en probeer die sterre tel maar besluit dis beter om daaraan te raak.
Vroegoggend meng die heerlike geur van moerkoffie met die voordagkoelte wat deur my oop venster langs my kom lê. Later staan ek agter op pa se bakkie terwyl ons veeposte toe ry en lag sorgeloos met die wind in my hare.
Ek kyk na die veld en voëls, na die berge en vlaktes, die wolke en belofte van reën. Hoog in die lug vlieg ‘n arend grasieus, sirkelend op soek na sy prooi.
Op ‘n noenieboom sit n blouvalk alleen en waghou, soekend na’n muis tussen die driedoringbosse. ‘n Troppie gemsbokke staan teen ‘n randjie en wei, hul spekvet lywe blink in die son.
Eendag, dalk net eendag kan ek weer terug keer na die oop ruimtes van my heimat met veld, sy berge en sand vir my ewige rus.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie