SMN: Boems en kaalvoetmanne
SMN: Boems en kaalvoetmanne

SMN: Boems en kaalvoetmanne

Tielman van Lill
‘n Vriend vertel my nou een dag dié storie:

“Van jare terug af sal ‘n bedelaar my maklik nader en virre geldjie vra. Dis nou by ons suidelike buurman. Daai jare het dit egter mos nie sommer in hierie land van ons gebeur nie en dit was toetaal en al ongehoord dat ‘n blanke jou vir geld sou vra.

“So beland ek en ‘n makker hier uit Duitswes in Johannesburg, Suid-Afrika se Sodom-en-Gomora. Na omtrent drie dae en drie nagte se treinreis arriveer ons grootoog op Jo’burg-stasie. Gelukkig het Oom Kondukteur darem gesê as ons daar kom moet ons net daar oppie peron vir hom wag.

“Hy sal ons begelei en sorg dat ons oppie trein terug na Langlaagte kom waar ons virrie volgende drie maande inne spoorweghostel sal bly.

“Toe ons op daai stasie stop was ons totaal en al stomgeslaan. Ons het op peron nommer twee afgeklim en vandaar kon ons nie eens die laaste peron sien nie! Gelukkig was daar nie ‘n kaartjie koop probleem nie, want as spoorwegamptenare is ons met ‘n rooipas, ook ‘n vrypas genoem, uitgereik en gelukkig was dit ‘n Sondag en daar was nie skares mense nie.

“Daar het ons toe die eerste keer in ons lewe blanke boemelaars gesien!

“Ná ons by die hostel ingeboek het is ons terug Jo’burg toe om die tek te gaan soek wat ons heel maklik in Smitstraat opgespoor het. Daar het ons opnuut nog ‘n belewenis gehad toe ons daai klomp boemelaars in Joubertpark gewaar!

“Dit het gou ‘n gewoonte by ons geword om ons Fontana-kafeehoender met die stasie se ‘banksitters’ te deel of ‘n ekstra broodrolletjie of drie te koop. Eendag staan ‘n paar klasmaats van ons daar rond toe my Duitswes-makker hulle attent maak oppe ‘n boemie wat ons nader.

“Maar hulle hoefie te bekommer vertel hy vir hulle, want die boemelaar sal reguit vir my mik. Dis natuurlik wat dan ook wat gebeur het!

“So gaan dit natuurlik nou al vir baie jare tuis hier op eie bodem. So veel so dat my Bedmaat my soms te lyf wil gaan. Daar is selfs al ‘n goedige spottery onner my vrinne, maar ek kom mos nou die dag tot die besef dat ek as gevolg van my voorkoms, ook vir ‘n boemelaar kan deurgaan. . .

“Sien ek en skoene is mos nie die grootste maats nie en ek beweeg alte graag met kaalpote en ‘n kortbroek met ‘n baie lang baard rond. Baie kere het ek ook so ‘n blou ouwerhôl-baadjie aan. My familie en vrinne moes oor die jare natuurlik daarmee vrede maak hoe ek lyk.

“In hierie hoktyd is my Bedmaat se kantoor by die huis ingerig en ek is pleinweg onner huisarres geplaas. Sy moes toe die werk se geld gaan bank en ons besluit toe om dan sommer in die verbygaan by die supermark en apteek voorrade te gaan aanskaf.

“Ek meen dis drie vlieë met een klap sommer so daar by die môl. Terwyl sy innie bank is staan ek buite innie môl met my kaal voetjies en ‘uitgaan-uitrusting’ vir haar en wag. Die inkopiesakkies is natuurlik sommer so onder my blad ingebondel terwyl ek geduldig vir my Bedmaat se verskyning uit die bank wag.

“Daar kom toe ‘n al te vreeslike ordentlike dame van agter en groet heel beleef en verneem of ek oraait is. Ek wonner toe nou of ek koorsig of ek corona-rig vir die antie lyk. Ek sê toe nee daarsie foutie, ek’s piekfijn en eenhonderd persent wel en gesond.

“Die potensiële barmhartige samaritaan kyk toe heel bekommerd na my en vra of ek nog iets nodig het. Ek sê toe nee ek’s tops, maar sy wyer volstrek om bes te geen en beduie na my kaalvoete. Ek besef toe eers wat aangaan, want sy beskou my toe as haar naaste!

“My Bedmaat was net betyds om as toeskouer die petalje te aanskou. Seg Bedmaat vies vir my dis hoekom sy altyd vooruitloop as ons iewers in die openbaar verskyn. Maar, ek’s noggie van my kaalvoetjies genees nie.”

Kommentaar

Republikein 2026-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer