SME Bank se likwidateurs dagvaar debiteure
Voormalige werknemers is nie in staat om hul skuld terug te betaal nie.
Kristien Kruger – Die likwidateurs van die SME Bank dagvaar voormalige werknemers vir duisende Namibiese dollars wat hulle die bank skuld. Hulle is egter nie in staat om te betaal nie.
Die voormalige werknemers het lenings met die bank aangegaan voor die finansiële ineenstorting in 2017 en het dit nog nie terugbetaal nie.
Sommige werknemers is glo werkloos en nie in staat om die skuld te vereffen nie. Die werknemers het na bewering in 2018 'n brief aan die president gestuur en 'n klagskrif by die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping ingedien.
Daar was glo nie op die brief óf klagskrif gereageer nie.
Volgens een van die likwidateurs, mnr. David Bruni, het hy die likwidateurs se standpunt aan 'n beampte van die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW) verduidelik.
“Ons dagvaar die debiteurs sodat ons 'n hofbevel kan kry voordat verjaring plaasvind, maar ons is nie van plan om binnekort enige regsaksie hierop uit te voer nie.
“Die debiteurs kan bank toe kom en 'n skulderkenning onderteken. Ons verstaan sommige van hulle is werkloos. Ons kan nie geld by mense kry wat nie 'n inkomste verdien nie. As hulle onderneem hulle sal betaal wanneer hulle weer 'n inkomste kry, is dit reg met ons,” het Bruni aan Republikein gesê.
SKULDEISERS
Die likwidateurs dagvaar glo net dié debiteure wie se skuld meer as N$20 000 beloop.
“Ons wil nie ongelukkigheid veroorsaak nie. Ons probeer om die geld aan die skuldeisers terug te beredder.”
Die likwidateurs het glo reeds sowat N$300 miljoen van die bank se debiteure teruggewin.
“Hierdie mense het drie jaar gehad om die geld terug te betaal of kennis te gee. As hulle voorheen na die bank toe gekom het, sou die saak moontlik anders gelyk het,” het Bruni gesê.
Volgens hom is daar ses werknemers wat geld geleen het en steeds by die bank werk. Drie van dié werknemers betaal tans hul lenings af en die ander drie se paaiemente word van hul salarisse afgetrek.
'n Regskenner het aan Republikein verduidelik die hofbevel gee 'n skuldeiser die reg om aanspraak te maak op gedeeltes van die debiteure se inkomste, of om hul besittings op te teken vir 'n verkoop in eksekusie.
Die skuldeisers het egter glo 'n tydperk van 'n aantal jaar om op die hofbevel op te tree voordat die hofbevel se geldigheid verval.
Die likwidateurs dagvaar glo vanjaar, omdat hulle ná die verstryking van drie jaar nie meer die skuld kan opeis nie.
“Verjaring verwys na die wet wat dit stel dat as 'n persoon nie hul rekeninge vir 'n gegewe tydperk betaal nie en die skuldeiser geen poging aangewend het om dit in te vorder nie, het die debiteur nie langer die verantwoordelikheid om dit te betaal nie.
“Die tydperk verskil egter tussen tipes skuld,” het die regskenner verduidelik.
“In die geval van geld wat aan 'n bank geskuld word, kan die debiteur ná drie jaar verjaring opper, wat sal beteken die skuld verval omdat dit nie binne daardie drie jaar opgeëis is nie.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie