SME Bank: Ministerie wag vir uitslag van ondersoek
Die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling sê dit verstaan dat die oorname van beheer oor SME Bank die stabiliteit van die instelling sal verseker.
Estelle de Bruyn
Die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, Immanuel Ngatjizeko, het die versekering gegee dat SME Bank met sy aktiwititeite en banksake sal voortgaan, ondanks die feit dat die bank deur die Bank of Namibia (BoN) oorgeneem is.
Hy het Donderdag by wyse van 'n ministeriële toespraak in die Nasionale Vergadering die hoop uitgespreek dat die BoN se ondersoek so gou as moontlik afgehandel sal wees en dat die ministerie, as die beherende aandeelhouer (die regering) se verteenwoordiger, op die uitslag van die ondersoek wag.
Die BoN het twee weke gelede die topbestuur van SME Bank uit hul poste verwyder nadat hulle nie “bevredigende antwoorde” oor beleggings van voorlopig tussen N$181 miljoen en N$196 miljoen aan die sentrale bank kon verskaf nie.
“Die ministerie verstaan dat die oorname van beheer van SME Bank deur die BoN die stabiliteit van die bank sal verseker,” het Ngatjizeko verlede week in die parlement gesê.
Die ministerie is daarvan oortuig dat die BoN die situasie en al die opsies tot sy beskikking oorweeg het voordat besluit is om beheer oor die bank oor te neem. Om die rede ondersteun die regering die rol en die funksie van die BoN as reguleerder en waardeer die stappe wat gedoen is om die voortgesette funksionering van SME Bank te verseker, het hy gesê.
Hy het daarop gewys dat die bank deur 'n nasionale inisiatief tot stand gebring is om in die behoeftes van die onderbediende sektor van die ekonomie te voorsien.
“SME Bank se mandaat is nog nie ten volle verwesenlik nie en sy volle potensiaal nog nie bereik nie. Toegang tot finansies bly die grootste uitdaging vir mikro-, klein- en mediumondernemings se groei, soos geïdentifiseer in die Harambee-voorspoedplan. As verantwoordelike regering kan ons nie bekostig om hierdie belangrike instansie te laat misluk of nie sy mandaat uit te voer nie,” het Ngatjizeko bygevoeg.
Hy het die ministerie se onvoorwaardelike steun in die tussentyd aan SME Bank toegesê sodat die leierskap en personeel van die bank aan die nasie se verwagtinge kan voldoen.
Ngatjizeko het aan die bank se kliënte die versekering gegee dat hul spaargeld en beleggings veilig by die bank is en hulle aangemoedig om nie hul deposito's voor die einde van die beleggingstermyn te onttrek nie.
Hy het kliënte ook aangeraai om nie agterstallig met betalings te raak nie en hul kontraktuele verpligtinge na te kom.
“Alle belanghebbendes, deponeerders, krediteure en werknemers van die bank kan verseker wees van die regering se verbintenis tot SME Bank as volhoubare entiteit en sy groei in die toekoms,” het Ngatjizeko gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie