SME Bank: Beweerde plunderaars voor hof

Minstens N$247,5 miljoen se spoor gevind

17 July 2020 | Howe
Elvira Hattingh - Talle partye wat glo by die plundering van die SME Bank gebaat het, word nou in vier verskillende sake deur die likwidateurs Bruni & McLaren voor die Windhoekse hoërhof gedaag.

Altesaam sowat N$42 miljoen word van hulle geëis, plus 20% rente én regskoste.

In die eerste geval eis die likwidateurs N$10 miljoen asook 20% rente en ’n verdere boete van N$10 miljoen van Tuliva Capital en drie van sy direkteure, wat glo die geld namens die SME Bank sou belê het, maar waarvan die meeste geld na bewering verloor is.

Ook word mnr. Marvin Hengari volgende week voor die hof gedaag vir ’n eis van in totaal meer as N$7,9 miljoen.

Die likwidateurs beweer Hengari het in 2015 via die kontantoordragmaatskappy Asset Movement Financial Services (AMFS) sowat N$3,9 miljoen bekom om eienaarskap van Quatro Investments Thirty Two Close Corporation CC van ene Hsiu-Mei Min te koop. Dit, terwyl die bank geen voordeel uit die transaksie getrek het nie.

In die derde saak word me. Tania Hangula, ’n ervare sakevrou en ook voorsitter van die raad vir die Development Bank of Namibia (DBN), voor die hof gedaag met ’n eis van N$6,4 miljoen (of N$5,4 miljoen), plus rente van 20%, ’n boete van N$6,4 miljoen (of N$5,4 miljoen) asook regskoste.

Dit volg nadat sy glo ’n ongeoorloofde konsultant-ooreenkoms met die bank aangegaan en glo altesaam sowat N$6,4 miljoen tussen 2015 en 2019 indirek van die SME Bank ontvang het.

In die laaste saak het die likwidateurs Yatsua Investments, mnr. Esau Mbako en sy vrou Pearl Mbako ook voor die hof gedaag. Die likwidateurs eis sowat N$1,7 miljoen, plus 20% rente, ’n boete van N$1,7 miljoen en regskoste van die partye.

Dit nadat die geld glo bekom is as deel van ’n mondelinge ooreenkoms vir ’n lening met mnr. Enock Kamushinda.

Kamushinda is ’n Zimbabwiese burger wat op verskillende tye dié bank se direksie se adjunkvoorsitter en voorsitter was en eindelik ook op die bestuur gedien het.

TULIVE CAPITAL

’n Saak waarin die maatskappy Tulive Capital tesame met sy base voor die hof gedaag word, sal op 30 Julie in die hof voorkom.

Volgens hofstukke word N$10 miljoen, 20% rente, ’n boete van N$10 miljoen en regskoste geëis.

Die likwidateurs daag ook die maatskappy se aandeelhouer en besturende direkteur, mnr. Iyaloo Nangolo, en mnre. Stephanus Oosthuizen (’n aandeelhouer en direkteur) en Wicliff Damaseb (ook ’n aandeelhouer en direkteur) voor die hof.

Die likwidateurs voer aan in Maart 2015 het die SME-bank se voormalige uitvoerende hoof, mnr. Tawanda Mumvuma en die hoofbestuurder van die tesourie, Alec Gore, glo ’n skriftelike opdrag aan die bank se tesourie-afdeling gegee om ’n beleggingsrekening in die naam van Tulive Capital oop te maak.

Daarna is nog ’n skriftelike opdrag uitgereik dat ’n bedrag van N$ 10 miljoen vanaf die SME Bank na die bankrekening oorgeplaas moet word, wat by Nedbank gehou is. Ten tyde van dié oorplasing het geen ooreenkoms tussen die SME Bank of Tulive Capital bestaan oor watter dienste vir dié geld verrig moet word en watter voordeel die SME Bank hieruit sou trek nie.

Die likwidateurs voer aan dié beskuldigdes het die N$10 miljoen hanteer asof dit hul eie was en die geld asook rente heen en weer tussen hul rekeninge oorgeplaas.

Later is ’n ooreenkoms tussen Tulive Capital en die SME Bank terugdateer, waarvolgens Tulive die geld namens die bank sou belê vir ’n gewaarborgde 13% rente per jaar. Die likwidateurs meen die teruggedateerde ooreenkoms is opgestel om die onwettige doel van die oordrag van N$10 miljoen te verdoesel.

Die likwidateurs sê die grootste deel van N$10 miljoen is verloor, buiten vir meer as N$3,6 miljoen wat in Junie 2017 weer aan die SME Bank oorbetaal is. Die likwidateurs sê die bankrekening het sedertdien dormant geraak.

Hulle eis dat indien die hof bevind dat die ooreenkoms tussen die SME Bank en Tulive Capital geldig is, Tulive Capital die gewaarborgde 13% rente in die ooreenkoms moet terugbetaal en eis – in dié geval altesaam N$13,1 miljoen.

MILJOENE VIR KONSULTANT

In ’n tweede saak is ’n eis teen me. Tania Hangula ingedien nadat sy glo altesaam sowat N$6,4 miljoen tussen 2015 en 2019 indirek van die SME Bank ontvang het.

Die likwidateurs meen die grootste deel van hul saak teen Hangula handel daaroor dat die SME Bank, oftewel mnr. Enock Kamushinda, ’n konsultante-ooreenkoms met haar gesluit het wat volgens wet verbode vir banke is.

Die likwidateurs meen ook betalings aan haar is op ’n onwettige wyse gedoen.

Hangula het glo voor die ondersoekkommissie getuig ingevolge haar ooreenkoms met die bank oftewel Kamushinda, het sy nie die beloofde bonus van N$3 miljoen ontvang nie. Sy het verduidelik die bonus is aan haar uitbetaal deur ’n E250 Mercedes Benz ter waarde van N$739 000 vir haar te koop asook ’n eiendom by Langstrand vir N$1,2 miljoen, maar dat sy nie die orige N$1 miljoen in kontant ontvang het nie.

Volgens haar het sy altesaam N$5,2 miljoen van die SME Bank ontvang, terwyl die likwidateurs beweer die totale bedrag is N$6,2 miljoen.

Verder het die bank altesaam N$214 551,21 vir haar reis- en verblyfkostes tussen 2016 en 2017 opgedok.

Die likwidateurs meen selfs al sou die hof bevind die ooreenkoms is geldig, gaan hulle voorhou dat Hangula nié die ooreenkoms nagekom het nie omdat sy nie enige betekenisvolle dienste gelewer het nie.

Alle geld wat aan Hangula betaal is, is ook glo vanaf die SME Bank eers na talle ander ondernemings betaal, voor dit eindelik haar rekening bereik het.

Volgens die hofstukke sluit die ondernemings wat as “middelmanne” getel het, in Crown Finance Corporation, Heritage Investments (waarvan Kamushinda die enigste aandeelhouer en direkteur is), Umoja Trading Enterprises CC (wat aan Hangula die enigste lid is).

Nog middelmanne is glo GWT Power, Metbank (die Metropolitaanse Bank van Zimbabwe), AMFS asook Suid-Afrikaanse ondernemings wat insluit Mysen Trading, Ivana Enterprises, Arican Medialion Group, Haranda Solutions en die Echelon Group.

Hangula het aan die komissie gesê sy het nie gesien of besef dat die geld nie deur die SME Bank self aan haar oorbetaal is nie.

HENGARI

In ’n derde saak word mnr. Marvin Hengari op 22 Julie voor die hof gedaag vir ’n eis van ’n betaling van N$3,9 miljoen, 20% rente daarop, ’n boete van N$3,9 miljoen asook regskoste.

Die likwidateurs sê in dié geval is N$4,2 miljoen in 2015 uit die SME-Bank aan AMFS betaal. AMFS het N$300 000 as kommissie gehou, terwyl N$3,9 miljoen in Hengari se trustrekening by Koep & Partners inbetaal is.

Die likwidateurs voer aan dat die SME Bank geen voordeel uit die transaksie getrek het nie, terwyl die geld blykbaar deur Hengari aangewend is om 100% eienaarskap van Quatro Investments Thirty Two Close Corporation CC van ene Hsiu-Mei Min te koop.

Die geslote maatskappy was glo die eienaar van eiendom wat as Utopia bekendstaan.

NOG DRIE

Die likwidateurs eis verder, in terme van die insolvensiewet, ook altesaam ook miljoene van die Mbako’s en Yatsua Investments.

Dit volg nadat hulle glo – ook indirek – altesaam N$1,7 miljoen van die SME Bank ontvang het. In dié geval is verskeie van bogenoemde middelmanne betrokke, voor dit die Mbako’s en Yatsua Investments se rekeninge bereik het.

Die Mbako’s het glo voor die ondersoekkommisie getuig dat die geld wat hulle ontvang het, deel was van ’n mondelinge ooreenkoms vir ’n lening tussen hulle en Enock. Buiten dat ooreengekom is om N$680 000 te leen, is eindelik N$970 000 deur Esau ontvang.

Die Mbako’s het glo getuig hulle sou die geld terugbetaal sodra die hele bedrag ontvang is, maar daar is nie op enige rente besluit nie. N$380 000 is in Yatsua Investments CC se sakerekening inbetaal en N$360 000 aan me. Mbako.

GROTER BEDROGSKEMA

Volgens hofdokumente poog die likwidateurs tans om minstens N$247,5 miljoen, waarvan hulle die spoor kon volg, terug te kry. Daar word ook nog gewerk om die oorblywende N$400 miljoen op te spoor, wat na bewering van die bank geplunder is en dit eindelik tot likwidasie gedwing het.

Volgens die hofstukke is die N$247,5 miljoen van die SME Bank se geld gewas deur dit in verskeie Suid-Afrikaanse bankrekeninge in te betaal. Sowat N$50 miljoen hiervan het die pad terug na Namibië gevind “om dit uit te deel aan die Namibiese deelnemers in die groter bedrogskema,” is geskryf.

Die hoërhof het die SME Bank op 11 Julie 2017 voorlopig gelikwideer. Die likwidateurs het die dienste van me. Tania Pearson bekom, ’n regspraktisyn en ook die SME Bank se binnehuise prokureur sedert 2012, saam met wie hulle “duisende ure bestee het om die bedrog en diefstal te ontrafel”.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Covid-19: Verkiesings ‘kompleks, intens’

1 uur gelede | Politiek

Denver Kisting en Kristien Kruger – Die hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), mnr. Theo Mujoro, sê om die plaaslike owerheid- en streekraadsverkiesings later...

Eina, jou doring

1 uur gelede | In beeld

Kristien Kruger het die foto van die geelvink wat op ’n doringdraad hardloop in haar tuin in Klein Windhoek geneem.

‘Kommerwekkende styging’ in Windhoek-gevalle

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die aantal Covid-19-gevalle in Windhoek is besig om vinnig te styg, ‘n situasie wat deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste,...

Sluit van howe in openbare belang- Dausab

1 uur gelede | Howe

Denver Kisting – Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê hoewel hofdienste, wat ’n integrale deel van geregtigheid vorm, beperk sal wees vanweë beskikbaarheid...

Weer vir 12 Augustus 2020

1 uur gelede | Weer

WEERWAAK: Koue toestande sal in die Suide voorkom. BINNELAND: Sonnig en matig in die Suide. Elders sal dit sonnig en warm tot baie warm wees....

Uitlewerings op ys weens virus

1 uur gelede | Misdaad

“Daar is individue van belang, wat vermoedelik in ons buurlande is; sommige is opgespoor en (ons) wag op die afhandeling van die vereiste administratiewe prosesse.”...

Eros se aanloopbaan opgeknap

1 uur gelede | Vervoer

Ronelle RademeyerOfskoon daar nie geld is vir omvattende rehabilitasie van die aanloopbaan by die ­Eros-lughawe in Windhoek, gaan tussentydse herstelwerk oor die volgende drie maande...

Trane loop nog steeds oor Frieda Ndatipo

1 uur gelede | Mense

Jana-Mari SmithSes jaar nadat die ­ongewapende protesteerder me. Frieda Ndatipo gedurende 'n geveg tussen die Swapo-strydkinders en die Namibiese polisie voor Swapo se hoofkantoor doodgeskiet...

Lesersfoto's 12 Augustus 2020

1 uur gelede | Lesersfoto's

Gelukkige varkie: “Dit is soos dit hoort,” sê Björn Basler. Familie: AK van Donkerhoek het die foto van die wilde perde by Aus geneem. Mooi:...