Smart: Klein, duur, maar propvol nuwighede
Pieter Oosthuizen
Op die plaaslike bekendstelling van Mercedes-Benz se nuwe Smart-karretjies was die pen wat uitgedeel is om notas vir hierdie verslag te maak, kapoet, inkloos, voordat ons uit die mediakonferensie was.
Dis min of meer wat in Suid-Afrika met die eerste twee geslagte van die Smart gebeur het. Hy het nie regtig die lig gesien nie.
Nou, amper sewe jaar later, is die tweesitplekbuksie (ForTwo) terug saam met die langer ForFour met sy vier sitplekke en vier deure.
Die grootste verskil tussen toe en nou is dat die ForFour, wat destyds geheel en al plaaslik gefaal het, voortaan plaaslik die hoofdryfveer vir Smart sal wees.
Gewaagd? Simpel? Glad nie. MBSA het aanvaar dat die ForTwo baie gewilder in Europese toestande en stede is, veral omdat 66% van die wêreldbevolking in stede woon.
Die vervaardiger meld dit nie, maar ’n mens vermoed die hoofrede vir MBSA se hernieude optimisme het te doen met die feit dat die nuwe Smart eintlik ’n Renault Twingo is. Met ander woorde: Die ForFour is reeds ’n hoofstroom-karretjie wat op gelyke voet met ander in sy klas kan meeding.
Die ForFour en die Renault Twingo is basies identies en die ForTwo gebruik ook dieselfde platform, maar wat verkort is. Twee driesilinderenjins van 1 liter wat 52 kW lewer en aan ’n vyfgang-handratkas gekoppel is, is in ’n ForTwo en ForFour bekend gestel.
Oor sowat twee maande sal die ForFour beskikbaar wees met die outomatiese dubbelkoppelaar-sesgangkas wat gekoppel is aan ’n turbo-aangejaagde enjin van dieselfde grootte wat maar 66 kW lewer.
Die nuwe ForFour se enjin sit net soos die ForTwo s’n agter, en albei is agterwielaangedrewe.
Die Smart lyk stukke beter as voorheen: Albei modelle het nou ’n sterker skouerlyn, groter sierrooster wat hoër geplaas is, amper Mini Countryman-agtige-neus-meneertjies.
Die ForFour is 80 cm langer as sy ForTwo-boetie se 2,7 m en dit lei tot ’n 62 cm langer asafstand, maar die ForTwo het effe meer pakplek heel agterin.
Onder die ForFour se agtersitplekke is bergplek, en met die sitplekke platgevou, is daar 975 liter se pakplek.
Kleurskakerings binne en buite is ’n Smart-sterkpunt. Tesame met vier spesifikasievlakke, is daar ’n keuse van ’n dosyn verwisselbare bakpanele, wat jy en jou vriende of handelaar self kan omruil deur middel van ’n bykomstighede-ooreenkoms.
Binne is dit steeds die ene “funky”-aardigheid, maar minder skerp en meer gerond met die luginlate, die toereteller, hoofinstrumente-omhulsel, radio en/of inligting en navigasietoerusting wat voor die paneel uitdop.
Met ons ryery eers in die ForTwo was dit amper surrealisties om die baanverwisselingsalarm te hoor, en die ritkontrole met spoedbeperker saam met ’n velerlei ander knoppies op die stuurwiel, soos stemkontrole, het ons laat grinnik. Dis immers ’n piepklein rydingetjie met goeters uit die groot Mercs, soos ’n botswaarskuwingstelsel.
Die ForTwo, wat ver onder ’n ton weeg, is amper 100 kg ligter as die ForFour en al is hy nie so hoog soos ’n Jimny nie, het hy ook dwarswind-remhulp as deel van sy stabiliteitsbeheer.
Stuurtraagheid was op die spesifieke roete glad nie so erg as waarvan ’n mens gehoor het nie, veral nie in die ForFour nie, terwyl die swaarder stuurgevoel in ’n reguit lyn verwelkom word.
Die vyfgang-handratkas se gladde skakeling is ’n groot pluspunt, maar jy moet in eerste rat die toere roer as jy iewers in tweede wil kom.
Op die snelweg was windgeraas oor die ForFour se neus opvallend. Dieselfde geld padgeraas op growwe oppervlakke.
In geheel ’n baie aangename ry-ervaring in albei bakweergawes en ons sien uit na die 66 kW-ForFour wat later kom, om nie te praat van die sportiewe Brabus nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie