Slypskool oor veteranesake

Samewerking met streke, berading vir veterane en inklusiewe besluitneming is bespreek.
Augetto Graig
Die minister van presidensiële aangeleent­hede, mnr. Frans Kapofi, het gister (Maandag) 'n twee dae lange byeenkoms by die NamPower-sentrum in Windhoek geopen.
Die doel van die geleentheid was om te bepaal hoe ekonomiese geleenthede tot groter voordeel van onafhanklikheidsoorlogveterane benut kan word.
In sy toespraak het die minister, wat vir veterane verantwoordelik is, klem gelê op die N$1,9 miljard wat reeds bestee is aan die verbetering van oorlewende People's Liberation Army of Namibia (PLAN)-vegters se lot.
Kapofi het gesê slegs 10 000 tot 11 000 veterane is tot dusver bevoordeel en dat daar baie is wat nog nie regeringshulp ontvang het nie.
“Ten spyte van die regering se poging om veterane te ondersteun, kry party steeds baie swaar. Die regering poog om hul lewensbestaan volhoubaar te maak omdat ons oor hul welstand besorgd is. Hulle het reeds ’n duur prys betaal vir die land se bevryding. Hulle is nie net gewone mense nie,” het hy gesê.
Kapofi het gesê die veterane veral het inspirasie uit mnr. Andimba Toivo ya Toivo, wat onlangs as nasionale held gesterf het, se woorde geput.
“Dit het nie oor geld gegaan nie, maar die regering het besluit om dié geleenthede te skep en dié fasiliteite beskikbaar te maak," het Kapofi gesê.
Volgens die minister is daar reeds programme en projekte, soos behuising vir die bejaarde veterane, wat in die streke in werking is.
“Sommige bly nie in die huise nie en van hulle kla dat die huise nie reg klaargemaak is nie. Ons weet van die aaklige voorbeeld wat naby Oshivelo gebeur het, maar ons was nie daarvan bewus nie. Wat ons nou soek, is samewerking en koördinasie,” het hy aan streekleiers en -hoës gesê.
Van die veterane het nog nie ’n uitbetaling van die regering gekry nie, en selfs dié wat deur die skenking bevoordeel is, ondervind steeds probleme.
“Wat het gebeur toe mense die geld kry? Van hulle het skoon vergeet om huis toe te gaan. Baie is deur pynlike ervarings. Ons het 'n sosiale verantwoordelikheid. As mens sien hoe party hulself gedra - dis asof hulle nooit geld geken het nie. Hulle koop nie 'n kombers of kos of basiese noodsaaklikhede nie. So iemand het hulp nodig,” het Kapofi gesê.
Volgens hom beoog die byeenkoms om betrokke besluitnemers bymekaar te bring om ondersoek in te stel na die lewenskwaliteit van die veterane in die verskeie streke. Die minister het gesê dis veral belangrik dat veterane beter ingelig word oor berading en oortuig word om daartoe in te stem.
Kapofi wil ook hê samewerking tussen die veterane onderling moet aangemoedig word.
Mnr. Hopelong Ipinge, permanente sekretaris van die ministerie, is die seremoniemeester vir die slypskool wat vandag klaarmaak.
Volgens hom is die slypskool die eerste in sy soort en het dit ook ten doel om streeksrade, streeksgoewerneurs en direkteure van ontwikkeling en beplanning byeen te bring om aan die goedkeuringsproses vir veteraneprojekte deel te neem.
Me. Hilma Nikanor, adjunkminister, het by die geleentheid gesê dit is nodig om strategieë en pogings tot beter dienslewering te versterk. Sy sê bemagtigingsprojekte moet in pas met streeksaktiwiteite wees.
Me. Laura Mcleod-Katjirua, goewerneur van die Khomasstreek, het gesê die tydsberekening van die geleentheid is goed omdat dit kort op die bekendstelling van die vyfde nasionale ontwikkelingsplan (NDP5) volg.
Volgens haar is dit belangrik om na veterane om te sien in die gees van patriotisme waarvan Toivo ya Toivo die vergestalting was.

Kommentaar

Republikein 2025-06-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer