Skutters pas binnenshuis aan
Skutters pas binnenshuis aan

Skutters pas binnenshuis aan

Boogskiet
Die Windhoek Sportklub (SKW) het die afgelope naweek in Windhoek die eerste Namibiese nasionale binnenshuise terugbuigboogskietkampioenskap in die land aangebied, waaraan 33 boogskutters deelgeneem het.

Dié dissipline van Wêreldboogskiet is aanvanklik verlede jaar deur Louw Nel, Namibië se voorste saamgesteldeboogskutter, voorgestel en Saterdag kon die eerste pyle in Olympia vlieg.

Deelnemers van Swakopmund Boogskietklub was ook deel van die geskiedkundige byeenkoms waar Xander Reddig 552 punte uit ’n moontlike 600 behaal het.

Volgens die Boogskietvereniging van Namibië is belangstelling stelselmatig aan die toeneem in dié sport, wat ’n goeie teken vir die toekoms is.

Die Robin-kolpryse is deur Jacques van der Merwe (mans), Duan Engelbrecht (seuns), Madelein Hennop (vroue) en Quinn Reddig (meisies) opgeraap. Dié prys is vir deelnemers wie se pyl die naaste aan die middelkol geplaas is.

Die voorste uitslae

Saamgestelde boog, welpie-seuns (11 tot 15 jaar): 1 Franco van Zyl, 2 CJ Button, 3 Marcel Imhof.

Saamgestelde boog, welpie-meisies: 1 Mia Karsten.

Standaardboog (sonder korrel, stabiliseerder of klieker) seuns: 1 James Boshoff.

Saamgestelde boog, kadet seuns (16-17 jaar): 1 Duan Engelbrecht, 2 Danie Delport.

Saamgestelde boog, junior mans (18-20 jaar): 1 JP Viljoen.

Saamgestelde boog, senior mans (21-49 jaar): 1 Louw Nel, 2 Jacques van der Merwe, 3 Dirk de Bod junior.

Saamgestelde boog, senior vroue: 1 Ilana Malan, 2 Liezl Schoeman, 3 Bianca Karsten.

Meesters mans (50-plus): 1 Dirk de Bod, 2 Moritz Hoff.

Terugbuigboog, kadet mans: 1 Adriaan Grobler, 2 Christiaan Brandt, 3 Kristiaan van Breda.

Terugbuigboog, kadet vroue: 1 Quinn Reddig.

Terugbuigboog, senior mans: 1 Xander Reddig.

Terugbuigboog, senior vroue: 1 Nelleke Louw.

Standaardboog mans: 1 Frank Reddig.

• Die laaste byeenkoms van die Khomasstreek word Saterdag vanaf 07:00 by Heja Lodge deur die Windhoek Veldboogskietklub aangebied. Belangstellendes kan Liezl Schoeman by 081 141 3320 skakel.

Kommentaar

Republikein 2026-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer