Skuld rý platsak verbruikers
Bykans 59% van wanpresterende lenings by handelsbanke verlede jaar was verbandskuld.
Jo-Maré Duddy – Teen die einde van verlede jaar moes die verbruiker N$95,50 uit elke N$100 besteebare inkomste in sy beursie gebruik om sy skuld mee te delg.
In die resessie het die verbruiker se skuldlas veroorsaak dat wanpresterende lenings by handelsbanke met bykans 53% of meer as N$1 miljard teenoor 2017 gestyg het.
Ondanks lae rentekoerse het wanpresterende lenings van 2,5% van totale banklenings aan die einde van 2017 tot 3,6% gestyg. Dit raak-raak aan die aanvaarbare drumpel van 4% en is die hoogste in vyf jaar, toon die Bank of Namibia (BoN) se jongste finansiële stabiliteitsverslag wat gister vrygestel is.
In 2017 was wanpresterende lenings 2,5% van totale lenings en in 2016 was dié syfer 1,5%.
Hoewel hoog, hou nóg die verbruiker se skuldlas, nóg die koers van wanpresterende lenings ‘n risiko vir Namibië se finansiële bestendigheid in, het die BoN verseker.
Die banksektor bly winsgewend, likied en voldoende gekapitaliseer, het die sentrale bank gesê.
Net 0,06% van lenings is afgeskryf. Dié lae koers bevestig dat ‘n toename in wanpresterende lenings nie outomaties tot ‘n styging in afgeskrewe lenings en verliese by banke aanleiding gee nie, aldus die BoN.
Die meeste wanpresterende lenings – 58,8% – was huisverbande, gevolg deur oortrokke rekeninge met 15,2%. Die syfers vir ander bankskuld is: Ander lenings en voorskotte (13,6%), paaiementskuld (7,7%), persoonlike lenings (4,1%) en kredietkaarte (0,7%).
Diep in die rooi
Die jongste maandelikse statistiek van die BoN toon verbruikers het handelsbanke bykans N$54,4 miljard in totaal aan die einde van Maart geskuld.
Dit is sowat N$3,4 miljard of 6,3% meer as ‘n jaar gelede.
Op ‘n jaargrondslag het “ander lenings en voorskotte” die kwaaiste gegroei. Maart se totaal van bykans N$5,8 miljard is amper N$1,2 miljard of 20% meer as Maart 2018.
Verbandlenings van sowat N$36,7 miljard is ongeveer N$2,7 miljard of 7,2% meer as ‘n jaar gelede, terwyl oortrokke rekeninge van amper N$3,1 miljard in totaal sowat 5% hoër is.
Die verbruiker is steeds katvoet vir paaiementskuld. Teen die einde van Maart het dit bykans N$7,1 miljard beloop, amper N$371 miljoen of 5,2% minder as ‘n jaar gelede.
Die BoN sê die toename in korttermynkrediet is aanduidend van huishoudings se kontantkrisis.
Besteebare inkomste
Luidens die verslag het huishoudings se aangepaste krediet verlede jaar 95,5% van besteebare inkomste beloop. Aangepaste krediet sluit bank- en mikrolenerskuld in.
Dit beteken die verbruiker was N$1,30 per N$100 beter daaraan toe as in 2017 toe N$96,80 uit elke rooi Hendrik Witbooi vir skulddelging bestem was.
Die BoN skryf dié verbetering toe aan ‘n verhoging in besteebare inkomste eerder as ‘n kleiner skuldlas.
Totale besteebare inkomste verlede jaar was bykans N$74,4 miljard – sowat N$5,8 miljard of 8,5% meer as in 2017. Daarenteen het krediet wat aan individue toegestaan is, met 7% gestyg.
Die BoN sê die styging in besteebare inkomste is vanweë meer regeringsoordragte, vergoeding en buitelandse inkomste wat verbruikers verdien het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie