Skuld: Praat met jou bank voor dit te laat is
Skuld: Praat met jou bank voor dit te laat is

Skuld: Praat met jou bank voor dit te laat is

Baie slegte skuld is weens die feit dat kliënte nie hul kredietkaartskuld of persoonlike lenings kan terugbetaal nie.
Elvira Wood – Slegte dinge gebeur met goeie mense. Praat met jou bank nog vóórdat jy in die moeilikheid is.

Dit is Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, se raad aan Suid-Afrikaners met skuld.

Hy het Dinsdag ná die voorlegging oor die bank se resultate in Sandton, Johannesburg, in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê dat 2020 sonder twyfel ’n finansieel uitdagende jaar vir Suid-Afrikaners gaan wees.

“Die groot ding is dat kliënte, hetsy individue of sakeondernemings, betyds met ons moet kom praat oor hul geldsake. Dan kan ons hulle bystaan. As hulle te laat om hulp kom soek, is dit moeiliker om hulle te help,” sê hy.

Celliers se raad kom in reaksie op FNB se resultate wat wys dat sy slegte skuld in die ses maande tot einde Desember met R910 miljoen gestyg het.

Baie van dié slegte skuld is omdat kliënte nie hul kredietkaartskuld of persoonlike lenings kan terugbetaal nie.

Die bank sê hy is nie baie bekommerd oor dié styging nie aangesien hy weet dat die makro-ekonomiese omgewing in die land die rede hiervoor is.

Nóg ’n “teken van die tye” is wat FNB as sy “hoofbankkliënte” beskryf, met 3% gedaal het. Dit is individue wat hul salarisse in hul rekening by FNB laat inbetaal.

Die bank het volgens Celliers tans sowat agt miljoen van dié kliënte.

Hy sê hoewel hulle nie as hoofbankkliënte getel word nie, is daar ’n groot aantal kliënte wat sy eWallet-diens gebruik asof dit ’n gewone bankrekening is.

“Hulle kry hul salaris via eWallet en gebruik dit dan weer om betalings te doen,” verduidelik hy.

eWallet-gebruikers het met 16% tot sowat 25 miljoen toegeneem in die ses maande tot einde Desember.

Koronavirus en ekonomie

Oor die vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sê Celliers die bank verwag dat dit ’n uitdagende jaar gaan wees. “Kyk, hierdie siklus van lae groei kom al oor ’n lang tyd. Dit is dus nie onverwags dat almal baie lae ekonomiese groei vir 2020 verwag nie.”

Alan Pullinger, uitvoerende hoof van FirstRand en Celliers se kollega, het op die resultate-voorlegging ook gewaarsku dat 2020 selfs meer uitdagend as 2019 gaan wees.

“Wat die omgewing nou skielik verander het, is die uitbreking van die koronavirus en die uitwerking daarvan.

“As mense tuis bly en nie winkels toe gaan nie, beteken dit iewers verloor iemand geld.

“Hierdie probleem kom op ’n baie slegte tyd vir Suid-Afrika,” sê hy.

Pullinger én Celliers sê daar was tot nou nog hoop dat die groei in die wêreldekonomie ook Suid-Afrika se groei ’n hupstoot sou kon gee. Volgens hulle is dit waarskynlik nie nou meer die geval nie.

Celliers dink egter nie dat Suid-Afrikaners in sak en as hoef te sit nie. “Daar is altyd nuwe geleenthede. Die Covid-19-uitbreking kan nou natuurlik help om groei in die gesondheidsorgsektor aan te wakker.”

Pullinger reken weer beleggings in groen krag kan in die volgende jaar help om die ekonomie weer te laat groei.

“Die groot ding is nou dat Suid-Afrika daad by die woord moet voeg en begin werk maak van al die beloftes wat reeds gemaak is,” sê Celliers. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer