Skuilings bly toe weens te min personeel
Skuilings bly toe weens te min personeel

Skuilings bly toe weens te min personeel

As die enigste skuiling vir slagoffers van geslagsgeweld vol is, is daar geen ander heenkome vir dié vroue nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Landswye gebrek aan skuilings vir slagoffers van geslagsgeweld (GBV) is een van die groot struikelblokke in die Namibiese polisie se stryd teen die vlaag van geweld teen vroue en kinders wat Namibië reeds vir etlike jare teister.

Tans het die land net een skuiling in Windhoek wat privaat bestuur word en wat maandeliks ’n skrale toelaag van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn ontvang. Volgens die minister, me. Doreen Sioka, het die staat tans net agt skuilings wat weens ’n gebrek aan personeel steeds nie hul deure kan open nie.

Volgens me. Elsabe Grotzinger, raadslid van Friendly Haven in Windhoek, is daar nie ’n heenkome vir slagoffers van geslagsgeweld, sou dié skuiling nie meer plek hê nie. Die skuiling kan tot 21 vroue en hul kinders huisves en verskaf van maaltye tot naaldwerkklasse tot berading.

Die skuiling ontvang ’n maandelikse toelaag van N$26 000 van die staat. Volgens Grotzinger beloop die koste per persoon wat hier gehuisves word sowat N$438 per dag. Dit kom neer op sowat N$285 138 vir 21 mense vir ’n maand met 31 dae.

Grotzinger sê hulle “hou alles aan”, wat wissel van onderklere tot doeke en melk vir babas. Tans het die skuiling twee borge, MTC en De Beers, wat met bedryfskoste help, maar daar is egter maande wat raadslede self noodgedwonge moet inspring en help om koste te dek om te verseker die skuiling sluit nie sy deure nie.

Volgens Grotzinger is gesprekke met die ministerie reeds die afgelope tien jaar aan die gang om skuilings namens die staat te bestuur en dat laasgenoemde slegs verantwoordelik vir die onkoste sal wees.

Sioka het vroeër gesê die direktoraat van geslag het by die hoofkantoor, sowel as op streek- en kiesafdelingsvlak ’n gebrek aan personeel wat ’n uitdaging is om programme doeltreffend te bestuur. ’n Gebrek aan tegniese kapasiteit op beide nasionale en streekvlak word ook ondervind om volwasse gevalle van geslagsgeweld te hanteer.

Te min maatskaplike werkers wat op GBV fokus beteken volgens Sioka net een maatskaplike werker is verantwoordelik vir 11 000 kinders. As gevolg van die geweldige las is dié maatskaplike werkers oorwerk en verlaat die diens van die ministerie vir ander instellings.

Deel van die ministerie se Nasionale Plan van Aksie 2019–’23 teen GBV is standaardprosedures vir skuilings in die land wat riglyne en inligting verskaf om dit so te bestuur dat dit die veiligheid en welstand van slagoffers verseker. Die plan identifiseer dat skuilings in elke streek van die land gevestig word “sodat niemand agterweë bly nie”. Dit vra voorts vir ’n struktuur vir dienste wat deur die skuilings verskaf moet word.

Intussen het Nampol se hoof van die eenheid vir geslagsgeweld, adj.komm. Johanna Situde, gesê 7 127 GBV-gevalle is verlede jaar by die polisie aangemeld; hiervan is 2 606 sake teruggetrek.

“Dit beteken dat ten minste een uit elke drie slagoffers van GBV wat ’n klag teen hul aanvallers lê, dit terugtrek voordat die saak sy gang gaan. Moontlike ingrypings word geblok en lei soms tot sterftes,” het Situde gesê.

Van die grootste struikelblokke in die stryd teen GBV is buiten ’n gebrek aan skuilings ook beperkte begrotings en verdagtes wat na buurlande vlug. Die psigiatriese evalueringsproses van beide die slagoffer en die oortreder is “omslagtig”, wat daartoe lei dat sommige gevalle van die hofrol verwyder word.

Met verwysing na sake wat teruggetrek word, sê Situde dit gebeur dikwels wanneer die verdagte die broodwinner of ’n nabye familielid is, ook wanneer die slagoffer die oortreder vergewe – wat in die meeste gevalle in ’n huishoudelike omgewing van ’n getroude of ongetroude paartjie voorkom.

Vanaf April tot September vanjaar is 1 139 aansoeke vir beskermingsbevele in die Khomasstreek aangeteken. Hiervan is 795 tydelike en 291 finale beskermingsbevele toegeken. Die aantal aansoeke wat teruggetrek is, is 188.

Volgens Situde is 6 900 GBV-gevalle vanaf September 2019 tot September vanjaar aangemeld, 3 787 oortreders is in hegtenis geneem, 917 sake is teruggetrek en 387 is skuldig bevind. Volgens Situde is 715 vrygespreek. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer