Skryf nou in vir Klein-Aus se MTB-uitdaging
Skryf nou in vir Klein-Aus se MTB-uitdaging

Skryf nou in vir Klein-Aus se MTB-uitdaging

Rits veranderinge aangebring
Gerine Hoff
Die sesde jaarlikse Klein-Aus Vista MTB-uitdaging vind vanaf 30 April tot 2 Mei 2016 plaas. Die volle marathon duur drie dae en die halfmarathon twee dae. Kranige bergfietsryers word genooi om nou reeds in te skryf.
Deelnemers sal kan na ’n klompie veranderings aan die volle marathon uitsien. Op dag een is ’n kort tydtoets bygevoeg wat verpligtend is vir deelnemers aan die volle marathon. Dié tydtoets volg ’n kort (10-12 km) opwindende, dog tegnies uitdagende roete.
Op dag twee en drie is die vol marathon afstand na 60 km verminder en elke fase is nou een sirkel met ’n nuwe gedeelte van 15 km. Die doel met die veranderinge is om tyd in die saal per dag te verminder, maar met genoeg tegniese enkelbaangedeeltes. Meer fietsryers sal dus in staat wees om aan die volle marathon te kan deelneem.
Die ryers wat aan die tydtoets deelneem, hoef nie noodwendig ’n ekstra nag oor te bly nie, hulle moet net vroeg daar wees aangesien die tydtoets om 14:30 begin, met wegspringintervalle van 30 sekondes. Na verwagting sal dit sowat 40 minute vir ervare fietsryers neem om te voltooi, en sowat ’n uur vir diegene wat stadiger ry. Die tydtoets se rytyd sal by die tye van dag twee en drie gevoeg word om die algehele rytyd te bereken.
Soos in vanjaar se geval, word die Racing Rhino-kategorie volgende jaar weer aangebied om swaarder mans en vroue te akkommodeer wat aan beide die volle en halfmarathon wil deelneem. Mans swaarder as 90 kg en vroue bo 70 kg ten tye van hul registrasie kwalifiseer vir deelname in dié kategorie.
Ander roetes vir die jonger garde strek oor 18 km wat hoofsaaklik op ’n enkelbaan plaasvind, en ’n twee km baan vir peuters.
Die resies vind in die skilderagtige, kronkelende Ausberge plaas met pragtige uitsigte oor die Namib-woestynvlaktes. Aangesien sowat 70% van die resies op ’n enkelbaan plaasvind, gaan dit beslis vir baie opwinding sorg.
Vir ondersteuners is twee uitkykpunte met ’n voertuig toeganklik. Ondersteuners kan ook verskeie staproetes volg om die fietsryers in aksie te sien. Diegene wat eerder wil uitspan, kan langs die swembad in die koelte by Desert Horse Inn wag vir deelnemers om die eindstreep oor te steek.
Inskrywings kan nog tot 20 Maart 2016 gedoen word. Deelname beloop N$850 per fietsryer vir die volle marathon (60 km per dag), en N$750 vir die halfmarathon (33 km per dag). Dit sluit ’n gratis KAV-fietsryhemp in, ’n gratis hamburger en koeldrank ná die resies (op dag 2 en 3) en ’n buffet-braai op Maandag 2 Mei 2016.
Voornemende deelnemers word aangemoedig om vroegtydig by Klein-Aus Vista, die Bahnhof-hotel of die Namib Garage-gastehuis te bespreek.
’n Verskeidenheid pryse is deurentyd op die spel in die verskillend kategorieë, terwyl die victor en victrix lodorum elkeen met N$10 000 sal wegstap.
Hoofborge is Standard Bank Namibia, Kia Motors Namibia, Maerua SuperSpar en die Gondwana Collection. Mannie’s Bike Mekka, Rust & Vrede Wines, Beyerskloof Wines, Middelvlei Wines, Namibian Breweries, die Bahnhof-hotel en Namib Garage is ander ondersteuners.
Kontak Piet Swiegers by 081 407 0691 of [email protected] vir meer inligting, of besoek www.klein-aus-vista-mtb-challege.com.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer