Skrumskakel verkas na Ierland
'n Akademie in die vreemde is die kweekskool vir sy droom om sy rugbypotensiaal ten volle te verwesenlik.
Tielman van Lill
Louis Karsten, talentvolle skrumskakel en produk van Windhoek Afrikaanse Privaatskool, gaan Ierland vir die volgende sewe maande of selfs langer sy tuiste maak.
Karsten het verlede jaar sy matriekjaar by Affies voltooi. Op 8 September 2019 druk hy twee puik drieë in die Momentum o.19 Superliga-eindstryd teen Rubicon Tsumeb Gimnasium om aan KMC/JCC Affies 'n dramatiese, dog welverdiende sege van 37-34 te besorg.
Nadat Karsten sy tweede vyfpunter geplant het, het bykans drie TMO-minute verby getik voordat die drie toegeken is. Die eindfluitjie het dadelik ná die doelskop geblaas.
Karsten se eerste drie het hy 26 minute tevore op bykans dieselfde kolletjie gedruk toe hy soos 'n skim op die regte oomblik deurgebreek het om die titaniese botsing in sy span se guns te swaai.
In die 2018-seisoen was hy as regtervleuel ook deel van die seëvierende span toe Affies die finaal teen die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium, die verdedigende kampioen, op dramatiese wyse met 26-25 gewen het. Dit was die eerste keer in Affies se bestaan dat hy dié gesogte titel kon buit.
Karsten het in die 2018-eindstryd óók bygedra. Met Gim op 25-12 stewig in beheer, het Karsten in die regterkantse hoekie vir sy span se eerste drie oorgeduik om die telling ná die suksesvolle doelskop tot 25-19 te laat krimp. In die laaste minuut het die bulstut Jurgen-Leigh (Bees) Human se stormram-kraglopie om vir sy drie oor te val, en losskakel Johan Zaayman junior se doelskop die Leeus se planne finaal gefnuik.
Me. Siegfriede Karsten, Louis se ma, sê haar seun het ná matriek glad nie belanggestel om te gaan studeer nie.
“Rugby is my lewe; dit is al wat ek wil doen,” het Karsten aan sy ouers gesê.
Sy nuutste avontuur is in 2018 gebore toe Affies 'n rugbytoer na Ierland onderneem het. Die toerspan het goed gevaar en Karsten was met sy terugkeer totaal en al begeesterd.
Dan van Zyl, die oudskrumskakel van die Springbokke, WP en Stormers, is die direkteur van rugby by die Ierland rugby-akademie (RAI) en het saam met Johan Taylor (medestigter) bystand aan Karsten verleen om aansoek te doen.
Van Zyl en Taylor was heel beïndruk deur die Namibiër se belangstelling in RAI. Karsten moes 'n getuigskrif asook video's van sy wedstryde aan RAI vir goedkeuring voorlê.
Van Zyl het sy talent onmiddellik raakgesien en die groen lig gegee. Die Namibiër is gekeur, maar het van plan verander om nie meer na RAI te gaan nie. Van Zyl-hulle het toe die eerste keer 'n beurs aan 'n speler aangebied om hom te motiveer en Karsten het opnuut sy planne verander om die akademie by te woon.
Die jongman was steeds ietwat huiwerig vir die vreemde. 'n Persoonlike oproep van die oud-Suid-Afrikaner CJ Stander, wat vir Munster, Ierland (41 toetse) en die Britse Leeus (een toets) uitgedraf het, het hom egter gerusgestel en finale reëlings is vir sy visum en vertrek getref.
AMBISIE
Die agt maande lange kursus het reeds op 1 September begin, maar weens Covid-19-inperkings kon Karsten tot nou nie na Killashee in die Naas-graafskap vertrek nie. Kursusse is intussen aan hom gestuur om te doen. Hy sal ook op uitnodiging vir die Coolmine-rugbyklub in Dublin kan uitdraf terwyl hy by RAI gesmee word.
Die gewilde en nederige Karsten wil sy kans aangryp om aan sy talent en ambisie by RAI te skaaf.
“My droom is en bly om toprugby te speel. Ek is nog baie jonk en gaan Ierland toe om meer te leer en ondervinding op te doen. Hopelik sien een van die talentsoekers my by die Coolmine-wedstryde en bied my 'n kontrak aan om ná my kursus by RAI daar te speel.
“Maak nie saak waar ek 'n kans met 'n kontrak kry nie. Ek verwag nie om sommer net by 'n premierligaklub in te stap nie. Dit vat tyd om te ontwikkel en ek is bereid om hard daarvoor te werk en my beurt af te wag.
“Ek het intussen baie hard aan my aangeë na links en regs, asook my taktiese spel en skoppe gewerk. Ek is tans fiks en sterk en sal by RAI die nodige afrigting ontvang om verder te ontwikkel.
“My nommer een skrumskakel in die wêreld is die All Black-buksie, Aaron Smith, gevolg deur sy spanmaat, TJ Perenara wat kookwater is. Nader aan die huis is die 2019 Wêreldbekerwenner, Faf de Klerk, natuurlik my keuse as skrumskakel,” het Karsten by navraag aan Republikein gesê.
'VEGTER EN HARDE WERKER'
Mnr. Johan Zaayman, hoofafrigter van Affies onder wie Karsten se rugby floreer het, sê hy is bly die jongman kry dié geleentheid.
“Louis het vir drie jaar by my gespeel en hy het beide jare baie vir die eerste span beteken. Met twee drieë in die finaal het hy gesorg dat ons opnuut die beker kon wen.
“Ek was weer by RAI vir 'n kursus en hulle het die video van die finaal teen Tsumeb Gim gesien en besluit om Louis se spel te ontleed. Hulle het hom met die SA Skolespeler van Paarl Gimnasium vergelyk en Louis het hom uitgestof. Dit is waar alles begin het en hulle het besluit om hom te nooi en 'n beurs aan te bied.
“RAI is 'n baie eksklusiewe akademie wat net 20 spelers vir 'n kursus inneem. Individuele aandag en ontwikkeling is vir hulle van kardinale belang.
“Louis is 'n vegter en baie harde werker. Ek is verskriklik trots en dankbaar dat hy dit kon regkry om by RAI in te kom. Sy hart is op die regte plek. Hy gee eenvoudig nie op nie en ek is oortuig dat hy 'n sukses daarvan sal maak. Só 'n kans kom net een keer in 'n speler se leeftyd. Louis moet dit geniet en ek wens hom alle sterkte en sukses toe,” het Zaayman aan die koerant gesê.
Karsten het die afgelope maande danksy oefensessies met 'n biokinetikus topfiks gebly en is opgewonde om Sondag te vertrek.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie