Skrap steenkoolplan uit IRP, eis organisasies

Goedkoper opsies beskikbaar

30 August 2018 | Energie
Elise Tempelhoff – Jeff Radebe, minister van energie, moet die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wysig wat hy Maandag bekend gestel het, anders gaan hulle hof toe.

So het ’n koalisie van burgerregte-organisasies Dinsdag geëis. Die organisasies dring daarop aan dat die plan om sowat 1 000 MW elektrisiteit deur middel van steenkool op te wek, geskrap word.

Greenpeace, die Sentrum vir Omgewingsregte (CER), Earthlife Africa en groundWork, het in ’n verklaring gesê die bykomende steenkool gaan Suid-Afrikaners tot R20 miljard meer kos.

As die departement van energie regtig vir Suid-Afrikaners omgegee het en na die raad van burgerregte-organisasies geluister het, sou dié plan geen steenkool bevat het nie.

“Om twee nuwe steenkoolkragstasies by die bestaande ou kragstasies te voeg gaan vernietigend wees vir die land se waterbronne, luggehalte, klimaatsverandering en menslike gesondheid,” lui die verklaring.

Die organisasies, wat almal by die veldtog Live After Coal betrokke is, sê met die plan is die departement van energie nou in konflik met die Grondwet omdat daar veiliger, skoner en goedkoper alternatiewe beskikbaar is.

“Ons gee erkenning aan die bykomende klem wat geplaas word op hernieubare bronne in die IRP. Ons dring egter daarop aan dat die minister die IRP wysig, anders gaan ons hof toe,” het Melita Steele van Greenpeace gewaarsku.

Robyn Hugo, hoof van die CER se program vir besoedeling en klimaatsverandering, het gesê die aangepaste IRP neem nie die geëksternaliseerde koste van steenkool in ag nie.

“Steenkool is oudmodies en dit maak staat op vuil tegnologie. Die omgewings- en gesondheidskoste van steenkool is nie in die IRP in berekening gebring nie.

“Byna 90% van Suid-Afrika se energiemengsel bestaan tans uit steenkool – ondanks die feit dat baie van die kragstasies nie aan standaarde voldoen nie.”

Sy het daarop gewys dat dié ou steenkoolkragstasies ’n geweldige nadelige impak op mense se gesondheid het.

Hugo het verwys na ’n verslag wat in 2016 deur die Britse gesondheidskundige dr. Mike Holland opgestel is oor die impak van Eskom se steenkoolkragstasies op mense se gesondheid. Hy het bevind die uitlaatgasse van die kragstasies laat elke jaar 2 200 Suid-Afrikaners sterf. Duisende mense ly aan brongitis en asma.

Hy het bevind hospitaalopnames en die verlies aan werkdae kos die Suid-Afrikaanse ekonomie R33 miljard per jaar.

Steele het gesê bykomend hiertoe is die steenkoolkragstasies dorstig en die koste verbonde aan die rehabilitasie van steenkoolmyne beloop miljarde.

“Ons sal al hierdie aspekte in ons kommentaar aan Radebe oor die IRP noem.

“Almal in Suid-Afrika, gewone mense, steenkoolmynwerkers en werkloses, moet deel vorm van ’n proses om oor te skakel na ’n regverdige en skoon energiebestel.”

· Die koalisie is op die oorlogspad oor die Thabametsi-kragstasie (557 MW) by Lepalale en die Khanyisa-kragstasie (306 MW) by eMahlaleni (Witbank) waarvoor die IRP voorsiening maak.

· Aktiviste van Greenpeace Afrika het Dinsdagoggend teen die kabels van die Nelson Mandela-brug opgeklouter om die boodskap dat steenkool mense doodmaak “duidelik” aan Jeff Radebe, minister van energie oor te dra, toe die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) hul banier afgeruk en “beskadig” het.

Mbong Akiy, woordvoerder van Greenpeace Afrika, het gesê die polisie het die banier afgeruk en dit is in twee geskeur.

“Ons dink dit was ‘n oorreaksie. Ons het dit vir alle Suid-Afrikaners gedoen. Steenkool maak mense dood en dit vernietig Suid-Afrika se waterbronne.”

Die aktiviste het tot 12:00 teen die kabels gehang, maar toe die banier afgeruk is, het hulle afgeklim.

Wayne Minnaar, hoof van die Johannesburgse metropolisie, het gesê die brug is ’n rukkie gesluit omdat gevrees is die aktiviste “val op die verbygaande motors”. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Getuie pak skuld op Katrina

9 ure gelede | Howe

Denver KistingMe. Katrina Hanse-Himarwa, die destydse goewerneur van die Hardapstreek, het vier jaar terug gesê 'n lys van begunstigdes van die massabehuisingsprojek op Mariental moet...

'Robocop' vir pille

9 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – In ’n hospitaal in Namibië is ’n robot met die naam Eva wat binne sekondes sorg dat elke pasiënt met sy of...

Nog twee dood ná gru-ongeluk

9 ure gelede | Ongelukke

Tanja Bause - Die ongeluk waarin sewe mense verlede Woensdag tussen Otjiwarongo en Otavi gesterf het, het nog twee se lewe geëis. Die ongeluk het...

Waterbestuur by skole kan 50% spaar

9 ure gelede | Plaaslik

Elvira HattinghIndien die munisipaliteit se voor­gestelde waterbestuurmaatreëls aan die onderwysministerie by skole toegepas sou word, kan hul waterrekeninge met minstens 50% verminder, meen 'n kenner....

Weer vir 14

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die verre Noorde en Suide, andersins gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm.KUS: Gedeeltelik bewolk en koel tot warm.GETYE...

Unam-staking verby

9 ure gelede | Onderwys

Die 11 dag lange staking van dosente en ander werknemers van die Universiteit van Namibië (Unam) het Maandagaand tot 'n einde gekom. Die verteenwoordigende vakbonde,...

Teengif-trust gestig ná seuntjie sterf

9 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergVrolike kinderlaggies in 'n cul-de-sac in die Elisenheim-landgoed noord van Windhoek is stil nadat klein Deon Heunis (Dehan) de Wet (2) sy dapper stryd...

Sesjarige deur 17-jarige skoolkind verkrag

9 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause 'n Sesjarige meisie is in die ­Oshitosi-nedersetting by Okatope verkrag deur 'n 17-jarige seun wat in graad 5 is. Hy het die jong...

Suider-Afrika in hittegreep

9 ure gelede | Weer

Die hoëdrukstelsel wat tans die suidpunt van Afrika domineer en vir baie warm, dalende lug sorg, sal volgens die Namibiese weerkantoor steeds vir sonnige en...