Skouspel by Aus lok die grotes
Skouspel by Aus lok die grotes

Skouspel by Aus lok die grotes

Splinternuwe dele van die natuurskone roete is vanjaar bygewerk.
Die bergagtige graniet- en gneisberge in die pragtige omgewing van Aus is môre die toneel vir die negende jaarlikse Klein-Aus Vista bergfietsuitdaging. Met ’n mildelike N$25 000 tree Standard Bank Namibia as hoofborg op.

Ná ’n onderbreking in 2019 bied Klein-Aus Vista (deel van die Gondwana-groep) vanjaar net ’n eendaagse byeenkoms aan.

Drie marathon-afstande word vir bergfietsryers aangebied, terwyl die drawwers vir die eerste keer ingesluit word en aan twee afstande kan deelneem (8 km of 23 km).

Onder die beperkte getal inskrywings is die land se twee voorste elite mans, Alex Miller en Tristan de Lange, bestem vir ’n aanskoulike tweestryd.

Miller is reeds as die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee se keuse aangewys om die land volgende jaar by die Olimpiese Spele in Tokio te verteenwoordig. Die Miller-familieplaas is juis in die nabygeleë Helmeringhausen-omgewing en in sy agterplaas sal dit inderdaad iemand spesiaal kos om hom te klop.

De Lange het verlede jaar die Afrika Spele-titel ingepalm, terwyl Miller die heersende nasionale kampioen is. As span het die twee vroeër vanjaar in die vierdaagse Tankwa Karoo Trek ’n lys groot name uitgestof om der te eindig.

Die Klein-Aus Vista MTB Challenge staan bekend as een van die mees uitdagende bergfietsmarathonne is in die land.

Oor die afgelope jaar het Klein-Aus Vista 55 km bykomende nuwe, meestal enkelspoorroetes aangebou wat tot nou nog heel onbekend aan die Namibiese ryers is. Dié nuwe roetes is in beide die Ultra- en Volle marathonroetes geïnkorporeer.

Piet Swiegers, Klein-Aus Vista se bestuurder van aktiwiteite en self ’n kanniedood fietsryer, sê die eendaagse Ultra-roete van 97 km (2050 m klim, 60% enkelspoor) word aanbeveel vir almal met goeie bergfietsvaardighede wat vyf tot sewe ure in die saal wil sit ter voorbereiding op die Nedbank Desert Dash in Desember, of die 2021 Absa Cape Epic. “Dis ’n epiese rit, maar weet net dit gaan ’n toffie taai wees.”

Die Volle Marathon (64 km, 1320 m klim, 60% enkelspoor) is allesbehalwe ’n piekniek en sal ryers se vernuf en uithouvermoë ten volle beproef – drie tot 4.5 ure as jy gemiddeld 14-21 km/h handhaaf.

Die Halfmarathon (27 km, 550 m klim, 70% enkelspoor) is op die klassieke roete deur die dorpsgebied en die Ausberge, met vloeiende enkelspoorroetes, maar deelnemers moet steeds redelike vaardighede hê.

Vir die jongspan (9-13 jaar) is daar ook ’n lekker uitdagende roete van 18 km, meestal enkelspoor.

Die drawwers in die marathon (23 km, 500 m klim, meestal enkelspoor) sal net soos die fietsryers die uitsigte op die Koichab-duine aan die noordekant, die eerstydse Sperrgebiet aan die weste en die klein nedersetting Aus aan die suidekant kan beleef.

Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer