Skotte oorleef teen Williams se slaanwerk

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Eagles het gisteroggend in Dubai die laaste van hul (nie-amptelike) opwarmwedstryde met 19 lopies verloor nadat hulle Skotland se indrukwekkende totaal van 203/7 in 20 boulbeurte moes jaag.

“Dié uitslag was nie ideaal nie, maar ons baie gebaat uit al die opwarmwedstryde,” het die Namibiese kaptein Gerhard Erasmus agterna gesê. “Ons boulwerk het nie aan ons normale standaarde van intensiteit en akkuraatheid voldoen nie, maar met die kolfwerk was daar goeie tekens.

“Ons is op ’n goeie plek voor ons eerste Wêreldbeker-wedstryd (Maandag) teen Sri Lanka.”

Hoewel die Eagles (beperk tot 185/5) dié keer vir die Skotte moes terugstaan, het die Namibiërs reeds gewys hulle kan teen gerekende teenstand ’n hoë telling jaag. Hulle het Skotland (137/8 in 20) laas Saterdag met vyf paaltjies in ’n amptelik internasionale T20-wedstryd opgedreun toe die Eagles gemaklik 138 lopies vir die verlies van vyf paaltjies in 17.4 boulbeurte aangeteken het.

Craig Williams was gister met 80 lopies van 51 balle (4x4, 3x6) opnuut die Eagles se voorste kolwer. Dit is die veteraankolwer se derde vyftigtal van die toer en spreek boekdele van die insig waarmee afrigter Pierre de Bruyn hom omgepraat het om sy aanvanklike uittrede van Februarie 2018 te laat vaar.

Zane Green (34 van 26 b, 5x4) en David Wiese (31 van 17 b, 1x4, 2x6) het ook goed op dreef gekom. Die mokerman JJ Smit met ’n ewe haastige 26 nie uit nie van 15 aflewerings het sy totaal met een vier en twee sesse behaal voordat die boulbeurte opgedroog het. Ruben Trumpelmann (6*) het enduit saam met Smit gekolf.

Op die boulfront was Wiese met 2/23 in 3 teen 7.67 lopies per boulbeurte nie die suinigste bouler nie. Gerhard Erasmus (1/13 in 1.5) se 7.07 klop hom met ’n haarbreedte. Jan Frylinck (1/26 in 3) en JJ Smit (1/26 in 3) se 8.67 is glad nie te versmaai nie. Trumpelmann (1/40 in 40) het meer as gewoonlik deurgeloop, maar die linkerarm-blits sal weer sy gebruiklike kant in die toekoms bring.

Vir die Skotte het George Munsey (67, gevang Nicol Loftie-Eaton, geboul Erasmus), Matthew Cross (57, gevang Loftie-Eaton, geboul Trumpelmann) vyftigtalle aangeteken. Kyle Coetzer is vir 17 gevang en geboul deur Frylinck, terwyl Richard Berrington vroegtydig vir 25 (gevang Bernard Scholtz, geboul Wiese) uitgehaal was. Calum MacLeod (18, geboul Smit) was die laaste Skot wat dubbelsyfers kon behaal.

Michael Leask (6) is deur Wiese geboul en Chris Greaves (4) is deur Green uitgehardloop. Die Eagles het ses wydlopers en een foutbal afgestuur, terwyl hul teenstander net twee wydlopers geboul het.

Brad Wheal (2/36 in 4, teen 9.0), Mark Watt (2/34 in 4, teen 8.5) en Michael Leask (1/7 in 1) het die Skotte se paaltjies geneem.

Die Eagles open Maandagnamiddag hul aanslag in groep A van die T20 Wêreldbeker teen Sri lanka in Abu Dhabi in ’n stryd wat later onder spreiligte afgehandel sal word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer