• Tuisblad
  • Sport
  • Skors ‘oneerlike’ Russe nóg vier jaar, sê Wada

Skors ‘oneerlike’ Russe nóg vier jaar, sê Wada

Verbode middels
Rusland behoort vir nog minstens vier jaar uit die Olimpiese Spele en alle wêreldkampioenskappe geskors te word.

Dít is die aanbeveling wat die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) se oorsigkomitee (CRC) vandeesweek gemaak het en wat ook op 9 Desember in Parys aan die uitvoerende komitee van dié liggaam voorgelê sal word.

Die CRC sê in ’n verdoemende verslag van 26 bladsye dat die Russiese agentskap teen die gebruik van verbode middels (Rusada) se data, wat hy van die omstrede Moskou-laboratorium moes oorhandig vir ondersoeke, nie volledig was of geverifieer kon word nie.

Die kollig het in September weer op die Russe geval toe die ondersoekspan bevind het dat “ongerymdhede” bevind is in die land se historiese data wat deur Rusada ingedien is.

Wada, wat in September 2018 die skorsing van Rusada opgehef het, was duidelik nie beïndruk met die Russe se vordering nie en meen dat hulle nie genoegsaam beheer van die krisis rondom die gebruik van verbode middels in dié land geneem het nie.

Dít nadat Rusada reeds in 2015 geskors is. ’n Skorsing van nog vier jaar sal beteken dat Rusland nie aan volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio óf die Winterspele in 2022 in Beijing sal kan deelneem nie.

Die deur sal egter steeds oop bly vir Russe om as neutrale atlete aansoek vir deelname aan byeenkomste te doen, waarna hulle onder die Olimpiese vlag sal deelneem, mits hulle toestemming kry. Sulke atlete sal egter genoegsame bewyse moet indien dat hulle nog nooit verbode middels gebruik het nie.

Die CRC wil ook hê dat Rusland geen ander internasionale sportbyeenkomste mag aanbied nie.

Hulle mag gevolglik ook nie aansoek doen daarvoor om die Olimpiese en Paralimpiese Spele in 2032 aan te bied nie.

Die skorsing sal ook beteken dat geen Russiese atlete of beamptes, insluitend die president, sekretaris-generaal, uitvoerende hoof, of enige lid van die uitvoerende komitee van die Russiese Olimpiese Komitee welkom sal wees by enige groot sportbyeenkoms nie.

Rusland sal wel teen enige skorsing by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) kan appelleer.

Rusland het reeds in 2016 die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro en in 2018 die Winterspele in Pjeongtsjang, Suid-Korea, weens skorsings misgeloop.

Dít het gevolg op ’n verdoemende verslag waarin gevind is dat ’n staatsgesteunde program vir die gebruik van opkikkers die Russe gehelp het om in 2014 die eerste plek op die medaljeleer by die Winterspele in Sotsji te beklee.

Joerij Ganus, Rusada se hoof, het verlede maand in onderhoude met die Russiese media gesê dat daar getorring is aan duisende van die toetsuitslae wat aan Wada oorhandig is.

Pavel Kolobkof, die Russiese sportminister, het nog deurlopend ontken dat enige oortredings plaasgevind het.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, slaan sedert dag een vlamme dood. Nadat die eerste bewyse van ’n staatsgesteunde program vir verbode middels aan die lig gekom het, het hy gesê sport word gebruik om druk op die Russe te plaas en dat Westerse lande vir Rusland probeer isoleer.

Wada het egter bevind dat talle urinemonsters tydens die Sotsji-Winterspele gemanipuleer is. – Reuters, Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-09-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer